Die afgetrede Kubaanse diktator, Fidel Castro, het pas weer begin oë wys, of hy begeef hom weer op die terrein van omstredenheid.
In ‘n pas-verskene skrywe spreek hy die mening uit dat die Bilderbergkonferensie ‘n sameswering is om die wêreld in ‘n kernuitwissingsoorlog te dompel. Hy skryf die bestaan van die konferensie toe as ‘n nalatenskap van Hitler.
Die Bilderbergkonferensie is ‘n informele instansie wat in 1954 in Nederland tot stand gekom het met die doel om trans-Atlantiese betrekkinge te verbeter. Dit was na kommer ontstaan het oor sterk anti-Amnerikaanse sentimente wat in Europa posgevat het.
Niemand kan betwis dat die Bilderbergkonferensie se eie styl grootliks vir die samesweringsoersepsies verantwoordelik is nie. Dit bestaan uit 130 invloedryke lede wat uitgenooi word, en die jaarlikse konferensies is nie oop vir die media of die publiek nie. Mediaverklarings oor waaroor besin is, is so skaars soos hoendertande.
Wat wel bekend is, is dat daar – in die laaste tyd minstens – geen resolusies bespreek of geneem word nie. Geen stemmings word gehou nie. Die gedagte dat dit ‘n wêreldregering voorstaan, is deur ‘n jarelange lid as oordrewe maar nie heeltemal ongegrond nie, beskryf. In ‘n seldsame mediaverklaring is verduidelik dat dié konferensie maniere probeer vind om te voorkom dat oorloë, veral kernoorloë plaasvind.
Dat Castro, van alle mense, hom oor die Bilderbergkonferensie uitspreek is pikant, om die minste te sê. Castro het immers self ‘n internasionale krisis veroorsaak deur Russiese kernwapens op die VSA se voorstoep te ontplooi, en dit is eers verwyder na ‘n oorlog gedreig het. Trouens, met die Bilderbergkonferensie in 2008 was ‘n kernvrye wêreld een van die hoofbesprekingspunte naas sake soos kuberterrorisme, proteksionisme, Afganistan, Afrika, die Islam en Iran.
Castro self was deel van die wêreldkommunistiese ryk, en die doelstellings van wêreldoorheersing was kwalik bedek.
Dat hy uitgesluit gevoel het van ‘n instansie wat nouer samewerking tussen die demokrasieë weerskante van die Atlantiese Oseaan bevorder het, is te verstane. Sy ondergrawing van demokrasie, nie net in sy eie land nie maar as Rusland se soldaat met afstandbeheer in lande soos Ethiopië en Angola, kan darem nie op die demokrasieë se brood gesmeer word nie.
Omdat sommige mense floreer op samesweringsteorieë sal die wêreld nooit daarsonder wees nie. Intussen is Suid-Afrika ingetrek in ‘n veel meer sigbare samesweringsteorie van sy eie – die georkestreerde aanslag teen die media, die publiek se reg op vrye uitdrukking en dus die wese van die demokrasie. Dit oorheers ons dagblaaie nou so, dat ander nuus, veral saakmakende nuus uit die buiteland wat die land se toekoms op ander wyses raak as moontlike sameswerings, skaars is.
Dit is goed dat die bedreiging van uitdrukkingsvryheid baie aandag kry, maar ook nie tot die punt dat dit tot selfopgelegde kennis-isolanisme lei nie. Daar is lewe buite ons landsgrense.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





