In dié stadium lyk dit of die beraad van SADEK-leiers wat in Namibië plaasvind, gaan afloop sonder dat Zimbabwe voor stok gekry gaan word oor sy weiering om gehoor te geen aan dié liggaam se tribunaal. Die tribunaal het onlangs in die guns van blanke boere beslis wat hul grond weens Mugabe se grondgryp-program kwyt is.
Die enigste manier waarop SADEK sanksie kan gee aan beslissings van sy eie tribunaal, is om op tussenregeringsvlak op te tree, en waar dit Mugabe aangaan, blyk dit ‘n vergesogte verwagting te wees.
Trouens, terwyl van die onteiende boere via regsoptrede in Suid-Afrika die lang pad moet loop om op nie-diplomatieke bates van Zimbabwe beslag te lê, blyk dit dat die Suid-Afrikaanse belastingbetalers Mugabe via die sogenaamde Renaissance-fonds met honderde miljoene rande volstop.
Dié solidariteit is op die oog af sterk ras-gedrewe, aangesien Madagaskar wie se bevolking hoofsaaklik van Indonesiese herkoms is, na ‘n staatsgreep geskors is. Hier tree SADEK onverbiddelik op.
Hoe die regering beplan om deur ‘n rasbeheptheid by sy verklaarde doelwit van nie-rassigheid uit te kom, is onduidelik, om dit eufemisties te stel. Terwyl daar nog ‘n saak vir regstellende aksie – wat in die eerste plek grondwetlik nie rasgedrewe behoort te wees nie maar ten gunste van almal teen wie in die verlede onbillik gediskrimineer is – nog binne streng volkeregtelike beginsels uitgemaak kan word, is swart ekonomiese bemagtiging skaamteloos van enige waan van fatsoenlikheid gestroop. Die Suid-Afrikaanse publiek moet telkemale in afgryse toesien hoe reeds reggesteldes weer en weer reggestel word terwyl die inkomstegaping in die land tot die hoogste meetbare vlakke ter wêreld gestyg het.
Terwyl sommiges, waaronder Mugabe, aanhoudend die lang lootjies trek, glip Suid-Afrika en Suider-Afrika gewoon verdere en verder weg van ‘n werklike demokratiese bestel na ‘n nepokrasie waar die media se rol as dié van lofprysers beskou word. Soos die vrybekkige Julius Malema dit gestel het – die media moet tot orde geroep word omdat hulle nie die voortgesette rewolusie ondersteun nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





