praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar Korrupsie

Korrupsie

E-pos Afdruk PDF

Laat in die Thabo Mbeki-era het die ANC met ‘n veldtog begin om ‘n saak uit te maak dat dit eintlik die vorige bedeling was wat korrup was. Feitlik niks of niemand nie, van Anglo-American tot die Afrikanerbond, is ontsien nie. Dit het ook die kern uitgemaak van die destydse adjunk-minister van Landbou en Grondsake, Dirk du Toit, se toespraak by ‘n drie-in-een-landboukonferensie in Bloemfontein. Volgens du Toit kon die korrupsie binne die nuwe bedeling nie opweeg van dit wat onder die oue plaasgevind het nie.

Uiteraard was daar korrupsie onder die ou bedeling. ‘n Voormalige minister het tronkstraf uitgedien en nog een se aspirasies vir eersteministerskap het in die stof gebyt toe transaksies rondom besproeiingskemas aan die lig gekom het. Die lys is langer, en nie almal het aan die pen gery nie.

Sedert die bewindaanvaarding van pres. Jacob Zuma – eintlik van hy tot leier van die ANC verkies is, word gereeld ander geluide gehoor. Daar is klaarblyklik ‘n groter mate van erkenning van die korrupsieprobleem tydens die Mbeki-era. Van tyd tot tyd maak Zuma sterk geluide teen korrupsie, en soms doen van sy senior ondersteuners dit ook – al word daar dan vir hulle gelag. Soms is skynbaar ‘n bietjie volstruispolitiek hieroor gespeel soos tydens Zuma se staatsrede.

Tussen die uitsprake en die gevolge was daar egter ‘n groot verskil. Waar kaders wél in die slag gebly het, is hulle gewoon herontplooi, of het reuse skeidingspakette ontvang, of beide.

Pas is ‘n paar reuse ondersoeke aangekondig waar miljarde rande genoem word. Dit sny oor verskeie staatsdepartemente en provinsies. Dit klink na goeie nuus, maar verskeie staatsdepartemente en veral provinsies wat luidens berigte maar ewe wild met andermansgoed omgaan, is nie op die lysie wat ondersoek word nie. Die Openbare Beskermer het pas ‘n verslag voltooi waarin ‘n minister by tenderpreneurskap geïmpliseer word maar daar is geen teken dat dié minister enige teenspoed te wagte kan wees nie.

Boonop dryf die ANC nou verskeie maatreëls wat die gevaar inhou om Suid-Afrika van sy grondwetlike mediavryheid te stroop, en sodoende die mees potente middel om korrupsie aan die kaak te stel in die slag kan laat bly.

Minstens is daar nou uitsprake oor korrupsie. Die jongste is die minister van Behuising, Tokyo Sexwale, wat meen dit het endemiese afmetings aangeneem – ‘n term wat baie kenners lank reeds gebruik.  Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, het gewaarsku dat Suid-Afrika binne die volgende vyf jaar soos die korrupte gemeenskappe van Angola of soos Nigerië sal word as korrupsie nie binnekort hokgeslaan word nie.  Hy meen dit gaan uitloop op ‘n toestand “waarin daar net een manier is om te oorleef:  Om ‘n posisie in die staat te kry waar jy ook uit die krippie kan eet.”  Jay Naidoo, eerste hoofsekretaris van Cosatu en latere minister van telekommunikasie, het gesê:  “Hierdie is roofdier-vuilgoed wat ‘n kanker in ons gemeenskappe is en wat die korrupsie in ons land aandryf.  Dit is kêrels wat rondloop met sakke vol geld wat die stemme in konferensies koop.  Hulle steel lisensies en verkoop tenders.  Dit is mense wat van skoolvoedingsprogramme steel en toelaes steel wat bedoel is vir oumense en bejaardes.  Dit vernietig die maatskaplike weefsel van ons gemeenskap.  Die werklike vyand in ons land vandag is hierdie verdomde elites wat militante taal gebruik, maar vir wie dit net gaan om nog krippe te skep waar hulle kan gaan vreet en ons regte steel.”

Omdat Zuma egter self nooit sy dag in die hof gekry het nie, sal die vermoede altyd bestaan dat daar selektief met die probleem omgegaan sal word. Indien dit die geval is, is die aanslag teen korrupsie prinsipieel ook korrup.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: