praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar 'n Aanslag teen demokrasie

'n Aanslag teen demokrasie

E-pos Afdruk PDF
As na die berigte op Verslaggewers Sonder Grense se webwerf gekyk word, kom joernaliste dwars oor die wêreld onder druk. Volgens dié organisasie is 21 vanjaar reeds in die uitvoering van hul werk doodgemaak, 160 het agter tralies beland, en is 112 mense wat nuus deur die internet versprei toegesluit.

Suid-Afrika is nie onder die lande wat 'n beeld het van mediavryheid aan bande lê nie.

Die ironie is dat van die lande wat wel in berigte op die webwerf onder skoot kom, se optredes maar effentjies vergelyk met die voorgestelde wetgewing wat nou voor die parlement dien, die ANC se voorstelle oor 'n mediatribunaal en veral die stellings in besprekingsdokumente wat voor die ANC se nasionale hoofraadsvergadering in September gaan dien.

Volgens die media neem die planne wat hier gesmee word die vorm van 'n totale aanslag teen die gedrukte media in. Die ANC is ongelukkig oor die media die regering as swak en passief skets, wat individue se regte oorbeklemtoon, en wat fundamentalisties markgedrewe is.

Hoewel min hiervan heeltemal nuut is, dateer die laaste berigte op die webwerf van Verslaggewers Sonder Grense oor Suid-Afrika uit 2006. Toe het die land ook sy laagtepunt op die persvryheidsindeks behaal. Sedertdien het daar kort-kort ernstige dreigemente teen die vrye pers opgeduik, maar dit het nie meer tot Verslaggewers Sonder Grense se ore gekom nie, of dit is geïgnoreer en so het die land se posisie op die indeks verbeter.

Die media bevind hom inderdaad in 'n moeilike posisie. Volgens berigte het die media wat gedurende die sokker-wêreldbekertoernooi in die euforie gebaai en so positief berig het soos wat die ANC graag wou sien, 'n 20 % daling in verkope beleef. Dit net terloops.

Die werklike punt is dat die media nie sedertdien op 'n heksejag teen korrupsie en onbevoegdheid losgetrek het om sy verkoopsyfers 'n hupstoot te gee nie, maar omdat die media in 'n demokrasie inherent 'n waghondfunksie het, en daarom dikwels as die vierde been van 'n demokrasie beskryf word. Is daar nie korrupsie nie, en is daar 'n strewe na uitnemendheid met aanstellings om daarby te pas, sal die media nie negatief hieroor kan berig nie.

Groot gewag is gemaak van Suid-Afrika se verbeterde beeld in die buiteland na afloop van die toernooi.

Die toernooi was skaars verby, of die eerste plaasaanvalle en selfs plaasmoorde het voorgekom. Ook ander misdaadnuus kruip weer terug in die media. Meer nuusdekking oor tenderbelange van ministers is weer in die openbare domein, ironies meer in buitelandse koerante as in Suid-Afrikaanse koerante.

Dit gaan net een persoon kos om berigte oor die regering en die ANC se mediaplanne van Verslaggewers Sonder Grense – of in Engels as Reporters without Borders bekend, te stuur om te verseker Suid-Afrika gaan weer die kreeftegang op die persvryheidsindeks.

Dit het 'n domino-effek op die Korrupsiepersepsie-indeks, en weer die beleggersvertroueindeks.

En so kan die sokker se persepsiekapitaal in 'n ommesientjie verdwyn.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: