praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar 'n Kwessie van ras

'n Kwessie van ras

E-pos Afdruk PDF
Reeds etlike jare voor die 1994-bedeling aangebreek het is die laaste van die sogenaamde apartheidswette van die wetboek verwyder.

Die 1994-bedeling is ingelui as 'n nie-rassige een.

Maar het dit gebeur?

Die oë is vandag op Bloemfontein gerig waar argumente ter strafversagting en strafverswaring teen die Reitz-vier gevoer sal word. Dit lei geen twyfel nie dat die opslae wat die gewraakte video gemaak het, grootliks te make het met die feit dat die akteurs aan die ontvangkant van 'n nagemaakte ontgroeningsessie swart was. Was hulle, soos die vervaardigers, wit, het daar moontlik geen haan daarna gekraai nie.

Trouens, regsgeskiedenis is moontlik gemaak deurdat iemand skuldig bevind is aan crimen injuria op grond van moontlikheidsbewustheid. Gewoonlik maak die opset om 'n misdryf te pleeg 'n belangrike hoeksteen uit.

Ook in Bloemfontein vind daar vandag 'n colloquium plaas met die tema: Back to the Future: Black Consciousness and Those Conscious of Their Whiteness.

Dit word deur die Anti-Racism Network in Higher Education (ARNHE) aangebied en onder die sprekers tel mense soos dr. Allan Boesak en me Christi van der Westhuizen.

Presies hoe nie-rassig is 'n gemeenskap as daar 'n herrie sou losbars as daar 'n wit sakekamer sou bestaan, maar swart sakekamers, swart joernaliste-verenigings, swart regsverenigings en vele meer is fatsoenlik en aan die orde van die dag?

Kort-kort voer iemand aan dat 'n swart persoon per definisie nie 'n rassis kan wees nie, waarskynlik die mees rassistiese opmerking moontlik.

Die terme van omgekeerde rassisme en omgekeerde diskriminasie word ook gereeld gebruik, terwyl nie-rassigheid per definisie slegs rassisme en diskriminasie ken, ongeag van watter kleur skuldig sou wees.

Trouens, volgens sommige bronne is daar nou meer rasgebaseerde wetgewing op die wetboek as in die dae van apartheid. Word om 'n staatsdienspos of onderwyspos aansoek gedoen, word die aansoeker se ras gevra, alhoewel die wet waarvolgens rasseklassifikasie gedoen is, reeds diep in die ou bedeling afgeskaf is.

Bykans geen meningspeiling word gedoen sonder dat die vraag oor ras opduik nie. 'n Nielsen-peiling wat op die Media-24-webwerwe opduik vra ook die rasvraag, met geen opsie om "nie van toepassing" in te vul nie. Word die vraag oorgeslaan, kan die vraelys ook nie verder ingevul word nie.

Algemene verkiesings is grootliks danksy die aard van die grondwet, 'n rassesensus.

Die formele wegdoen van ras sal uiteraard nie die rasbewustheid wat aanwesig is laat opdroog nie, maar kan dalk iets doen om rassisme en die drang tot rassediskriminasie op te hou voed. Solank die soustrein egter op rassebevoordeling kan teer, so lank sal dit stram gaan om 'n werklike nie-rassige samelewing te bou.

En so lank Black consciousness 'n baadjie van fatsoenlikheid – in teenstelling met byvoorbeeld wit bewustheid – aangetrek word, so lank sal slagspreuke soos Kill the Boer, Kill the farmer, en Skiet die Boere as aanvaarbaar of meer aanvaarbaar beskou word as die velkleur van die akteurs in 'n koshuisvideo.

Die kort en die lank is as daar sulke vlakke van insig en verantwoordelikheid van studente opgeëis word, geld dit veel – veel meer van die samelewing se volwasse leiers.

Die leiers kan nie 'n rasbehepte voorbeeld stel, en verwag dat die middelpuntvliedende kragte vir 'n volkstaatgebaseerde grondwet nie momentum sal kry nie.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: