praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar Ingesteldheid op die negatiewe

Ingesteldheid op die negatiewe

E-pos Afdruk PDF
Uitsprake teen korrupsie wat wissel van baie sterk, tot baie afgewater, kom al 'n lang pad in die post-1994-bedeling.

Elke sterk uitspraak word reikhalsend deur 'n voos gemeenskap omarm, om net daarna te ervaar dat ook daardie sterk uitsprake holle woorde geblyk het te wees.

Soos Tim du Plessis, redakteur van Beeld, onlangs geskryf het: Daar is 'n skynbare opvatting dat leiers glo as hulle iets gesê het, is dit sommer gedoen ook.

Of die leiers werklik glo die uitsprake wat so vir verskillende gehore opgedis, en deur die media vergemeenskaplik gemaak word, uitgevoer moet word, is 'n ope vraag.

Die voorbeelde tot die teendeel raak werklik legio, soos die slap arm-benadering oor die storm wat oor die kop van die minister van Kommunikasie, genl.Nyanda woed. Trouens, die slap-arm-benadering het skynbaar nou na sekere media oorgespoel wat dit skynbaar nie die moeite werd ag om die saak te dryf nie, of selfs daaroor te berig nie.

Die sak bagasie wat minister Lindiwe Sisulu, nou minister van Verdediging, besig is om op te bou, begin nou die omvang aanneem van die bagasiesakke met die minder vleiende naam wat troepe destyds mee opgesaal was. Vanoggend word berig dat sy haar eersdaags in die grondwethof kan vasloop in 'n saak wat onafhanklik staan van haar skynbare houding dat die parlement geen oorsigplig oor haar ministerskap het nie.

Ook hier neem die president 'n slap-armpie-houding in.

Onlangs is berig dat die koerante wat gedurende die wêreldbeker-sokkertoernooi so saam in die euforie verval het, vir daardie tydperk 'n 20 persent daling in verkope beleef het. Hiervoor kan baie redes bestaan, maar op die oppervlak lyk dit of die gemeenskap reeds erg vuisvoos is, en dat positiewe nuus dikwels net as ongeloofwaardig beskou of ervaar word.

Baie kenners het oor 'n post-euforiese depressie of selfs trauma gewaarsku, maar dat 'n groot deel van die bevolking dit skynbaar reeds gedurende die euforie-tydperk beleef het, is waarskynlik nie wyd verwag nie.

Grondwet-optimiste, wat die grondwet opdis asof dit die evangelie is en daarvan soortgelyke heil verwag, raas gereeld oor die swartgallige braaivleis-praatjies, en het hulle skynbaar misgis met die erns waarmee die kollektiewe geheue wat so oor al die regering se negatiewe doen en late ontstaan en so die vertroue in die grondwet aftakel. Nie alle grondwetkenners is dit ook eens dat die grondwet so volmaak is as wat voorgehou word nie.

Die les is dat daar geen goeie tyd is om slap te wees oor korrupsie, swak dienslewering, die hersirkulering van onbevoegde kaders en vele meer goggas nie.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: