praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar Nasie vs volk

Nasie vs volk

E-pos Afdruk PDF
Op die wêreld se streekvlakke vind daar plek-plek blokvorming plaas wat kenmerke van konfederalisme het, soos die Europese Unie met die Europese parlement, die Afrika-Unie en vele meer.

Dit word gereeld voorgehou as bewys dat die begrip, volk, of selfs groep, uitgedien is. Ander verwys hierna as onderdele van 'n gevaar van globalisering.

Ander fokus op die anderkant van die munt. Die Sowjetunie wat uitmekaar gespat het, Joegoe-Slawië wat nie meer bestaan nie, en Tsjeggo-Slawakeie wat in Tsjeggië en Slowakye uiteengeval het.

En nou is daar oplaas die Internasionale Geregshof se uitspraak oor Kosovo. In wese het dié wêreldhof bevind Kosovo se eensydige onafhanklikheidserklaring van Serwië oortree nêrens die internasionale reg nie, en daarom is dit wettig.

Ander wys weer daarop dat hoe meer blokvorming plaasvind, hoe sterker ontwikkel volke se strewe na selfbeskikking. Die herstel van die Skotse en Walliese parlemente het min of meer met die totstandkoming van die Europese Parlement saamgeval. België is in 'n etniese federasie omskep, en steeds is daar groeiende strewes tot verdere onafhanklikheid.

Trouens, dit lyk of die oorhoofse inknoping, en die opkoms van volksidentiteit in regstreekse verband met mekaar staan.

Die twee kragte staan nie noodwendig teenoor mekaar nie. Trouens, die mate waarin volksidentiteit ondervang word, verseker dikwels die staatkundige integriteit van die nasionale eenheid. Switserland is 'n ou voorbeeld, maar ook ander state, soos Indië se deelstate se grense is ooreenkomstige die volke se grense getrek. Nigerië het sy federale deelstate se grense oorgetrek om dit in pas met die inheemse volke se grense te bring.

Hierteenoor het Sri Lanka, wat 'n simplistiese eenheidstaat-demokrasie verdedig, met 'n volkskaalse burgeroorlog te make gehad, en is die Tamils militêr verslaan. Met die vlakke van organisasie van Tamils in diaspora behoef dit geen profeet om te weet dat vyandighede weer gaan kop uitsteek nie.

Die mediadekking wat die Kosovo-uitspraak in Suid-Afrika ontvang het, is presies simptomaties van wat waarnemers gemeen het sal gebeur in lande waar nasies met die middelpuntvliedende kragte van volksaspirasies te make kry. Die Baske, die Koerde en die Tibettane is genoem, maar nie Suid-Afrika nie. Die prisma waarteen Suid-Afrika volkeregtelik geweeg en beoordeel word, word nog te sterk beïnvloed der die apartheidsentimente wat ontlok is.

Trouens, word waarnemers wat gewoonlik die vloer in Suid-Afrika media kry se meningstukke gelees, het Suid-Afrika 'n wonderlike grondwet wat alles kan bedek, maar wat net verkeerd toegepas word.

Die teenpool van die argument is uiteraard of 'n grondwet wat so verkeerd toegepas kan word, inderdaad so wonderlik is. Prof. Koos Malan van Tuks en ander wys immers op die gebreke wat hierdie wantoepassing so moeilik maak. Die toestand van die grondwetlike meganismes word ook gereeld as bewys geopper, en die howe moet gereeld opgesoek word.

Trouens, die gebrekkige minderheidsbeskerming wat die grondwet bied, is stellig een van die vernaamste voedingsbronne en snellerfaktore wat die middelpuntvliedende kragte in werking stel en hou. Die Kosovo-uitspraak het boonop nou herbevestig – die selfbeskikkingsreg van volke is nie outyds of verkeerd nie, maar modern en onder sekere omstandighede geregverdig.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: