Die belang lê ten eerste veral daarin dat dit 'n wetlike status aan 'n eensydige verklaring van onafhanklikheid verleen.
Die uitspraak sal wel eers nog met 'n fyn kam deurgegaan moet word om te bepaal watter nuwe volkereg geskep is – met ander woorde – aan watter kriteria moet voldoen word om eensydige onafhanklikheidsverklaring wettig te maak.
Ten tyde van die uitspraak het 69 lande Kosovo se onafhanklikheid erken, waar die gewone norm 'n 100 state is. Die VSA, een van die state wat vroeër reeds die onafhanklikheid erken het, het na die uitspraak die hoop uitgespreek dat nog state sy voorbeeld gaan volg.
Kosovo het deel uitgemaak van die ou Joegoe-Slawië, en na dié Balkanstaat uitmekaar gespat het, deel van Serwië. Die meerderheid inwoners is Albanese, met minderhede Serwiërs en ander groepe. Serwië se onwilligheid om Kosovo onafhanklikheid te laat kry spruit daaruit dat die hartland van Serwië eens in die huidige Kosovo gesetel was. Boonop vrees die Serwiërs – meestal Ortodokse Christene - dat die Kosovare – meestal Moslems - weerwraak kan neem weens die etniese suiweringspoging onder die leiding van oud-pres. Slobodan Milosovic van Joegoe-Slawië. Navo moes ingryp om die volksmoord te stuit.
Rusland, wie se Slawiese bevolking baie nou aan die Serwiërs verwant is, steun Serwië se weerstand teen Kosovo se onafhanklikheid.
Die twis is in 2008 deur die VN se Algemene Vergadering na die Internasionale Geregshof verwys.
Die Internasionale Hof het bevind dat daar in die Internasionale Reg niks is wat Kosovo se onafhanklikheidreg beletsel nie.
Waarnemers het dadelik daarop gewys dat daar 'n groot verskil is tussen die reg om onafhanklik te wees, maar ook om die wêreld se politieke harte hiermee te wen. Hoewel dit versigtig nie uitgespel word nie, is dit duidelik dat die geskiedenis met Suid-Afrika se voormalige tuislande nou as 'n klip in die maag bly lê. Voorts, sal staatsmanskap nou aan die dag gelê moet word, soos hoe om nou met die minderhede in Kosovo om te gaan. In wese hoe meer 'n minderheid onderdruk word, hoe groter word die mate van outonomie waarop die volk of groep geregtig is.
Maar die politieke speelbal gaan nou interessant wees. Waarnemers was gou om uit te wys dat groepe wat na selfbeskikking of onafhanklikheid streef, bepaald kennis gaan neem van hierdie uitspraak. Volke wat genoem word is die Koerde, die Baske en die Tibettane, maar die berigte maak dit duidelik dat daar nog 'n horde ander in Asië en Afrika is. Spanje, wat met die Baskiese en Kataloniese kwessies te make het, is byvoorbeeld een van die min Europese lande wat Kosovo se onafhanklikheid teenstaan. China, wat nog met Tibet en Taiwan soos klippe in die maag leef, is ook gekant teen die onafhanklikheid, en Indië, 'n etniese federasie, is self taai in die bek.
Dat die Suid-Afrikaanse media skaars hieroor, en nie baie entoesiasties hieroor berig het nie, val moontlik in dieselfde dampkring van denke – die uitspraak kan ook hier as inspirasie vir bestaande en sluimerende selfsbeskikkingsreg dien.
Die interessantheid is dat Rusland en ander lande se teenkanting kan veroorsaak dat die VN nie 'n mosie in ooreenstemming met die hof aanneem nie, al is die kwessie deur die algemene vergadering na die Internasionale Geregshof verwys. Rusland het reeds aangedui dat hy so 'n mosie in die veiligheidsraad sal veto, en dit lyk of ander state met minderhede sal volg.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





