Dié naweek vra die Sunday Times die vraag of Suid-Afrika nader aan ‘n polisiestaat beweeg, en stapel ‘n aantal kommerwekkende tekens op. In die hoofartikel word onder meer die stelling gemaak dat elemente binne die ANC nou oor mekaar se voete val om te probeer kyk waar die harde manne van apartheid hul handboeke gebêre het.
Afgesien van die tekens wat die Sunday Times gebruik, soos die terugkeer van militêre range in die polisie, en die minister se opmerkings van “skiet om dood te skiet” is daar nog meer.
Die minister van Samewerkende Regering, Sicelo Shiceka, het oorlog teen die, soos hy dit noem, wanbetalers verklaar wat weens swak dienslewering hul munisipale belastinggeld in ‘n trustrekening stort. In die proses het nog ‘n dreigement bykans verlore gegaan. Swart wanbetalers wat oproerig is word ook met die volle impak van harde teenoptrede gedreig, soos die afsperring van swart woongebiede en die uitrook van die belhamels.
Klink dit nie ook bekend nie?
Die groot fout wat mense maak wat ongelukkig is – wat ook al die rede – is om die een hefboom te gebruik waaroor die regering gevoelig is, naamlik om die komende Fifa-toernooi as hefboom vir beter dienslewering te gebruik.
Presies hoe gevoelig die regering oor dié kwessie is, het duidelik geblyk toe enkele misdadigers, waarvan minstens een blykbaar geestelik onwel is, gedreig het dat hulle die buitelandse besoekers aan die toernooi wil teiken. Geen steen is onaangeroer gelaat om die weerbarstiges op te spoor nie en joernaliste is voor die hof gesleep.
Hierna het swart wanbetalers ‘n soortgelyke dreigement gemaak. Ook hulle is laat verstaan dat hulle onsagkens opgespoor en vervolg sal word, soos die opmerking van Shiceka blyk.
Toe het Cosatu op die wa geklim. Dié keer was die regering se aksie anders. Volgens berigte vanoggend lyk dit of die ANC die voet neersit teen wat as “los kanonne” beskryf word. Onder dreigemente van tugoptrede is al die eendjies skynbaar nou in die ry. Dié tugoptrede is egter nie terugwerkend van krag nie, en almal begin nou met ‘n skoon lei. Ook Julius Malema wat behoorlik soos ‘n los kanon geskiet het, ook onder sy eie kaders in, kom in die proses skotvry daarvan af.
Dat sommiges kommer het oor tekens van ‘n polisiestaat, verdryf dit steeds nie die tekens van ‘n piesangrepubliek nie. Ook hier speel die Fifa-toernooi dikwels ‘n rol. Vanoggend word berig dat die Mangaung-munisipaliteit steeds hoopvol is dat straatverbeterings voor die Fifa-toernooi afgehandel sal kan wees. Intussen bly die gasheerstad-ooreenkomste wat stede met Fifa moes sluit min of meer ‘n staatsgeheim. Af en toe kruip nog ‘n bepaling soos ‘n wurm uit die blik, soos dat die stede hulle tot boomplantaksies en vullisherwinning verbind het. Die snelbusvervoerdiens loop op taxistakings uit.
Die dreigemente teen wanbetalers en belastingbetalersverenigings klink ook meer na ‘n paniekreaksie namate die werklike treurige toestand op munisipale gebied tot die regering begin deurdring. Die huidige gefladder en beloftes dat sake reggeruk sal word kom te midde van meer as ‘n dekade se beloftes en peperduur sogenaamde regsrukaksies. Onder die powerste munisipaliteite tel ook van dié wat deur die taakspan wat oud-pres. Thabo Mbeki aangestel het en skynbaar dadels uitgerig is.
Die minister identifiseer wel die kern van die probleem, naamlik dat die ANC, soos hy dit gestel het, onbekwame ampsdraers en amptenare aangestel het. Met die kern van die probleem geïdentifiseer, sou ‘n mens verwag dat dit ook is waar die probleem aangespreek gaan word. Die oorlog word egter teen van die simptome verklaar.
Te midde van ‘n stroom plaasmoorde en ander opspraakwekkende moorde gaan dring die kommissaris van polisie in die parlement aan om as generaal aangespreek te word. Heel gepas het die parlementslede dit geïgnoreer. Die land het werklik nie in sy stryd teen misdaad iemand nodig wat soos Idi Amin homself van sersant tot generaal, en toe veldmaarskalk bevorder het sonder dat dit teen enige merieteverwante maatstaf gemeet word nie.
Dit is maar enkele aspekte. Nog ‘n belangrike en gevaarlike bontpratery is die voorneme om die artikel in die grondwet wat eiendomsreg waarborg te wysig. Kommersiële landbougrond is skynbaar in die oog.
Dit gaan egter veel meer as die wysiging van artikel 25 verg. Suid-Afrika sal ook sy grondwetlike verbintenis tot internasionale verdrae moet opskort, anders sal mense wie se eiendomsreg ontneem word, hulle ook tot multi-nasionale arbitrasie kan wend soos die geval met Zimbabwiese boere was wat hulle tot die SAOG-tribunaal in Namibië, en daarna die Suid-Afrikaanse howe kon wend.
Word dit ook ontneem, is die land nie meer ‘n grondwetlike demokrasie nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





