My reaksie op die redakteur van Die Burger, Henry Jeffreys, se rubriek oor die aksies van die Belastingbetalersverenigings. Ek wou dit as kommentaar by sy rubriek op die internet plaas, maar kon dit nie regkry nie, en so ook nie by sy blog nie.
Die howe moet nog finaal uitsluitsel gee oor waar die reg sy grense oor die “weerhouding” van munisipale belasting gaan trek. Prof. Marinus Wiechers is bekend daarvoor dat hy nie besonder simpatiek teenoor ‘n uitleg staan dat die Belastingbetalersverenigings se regsprosedure, soos die verklaar van ‘n dispuut en die betaal van die fondse in ‘n trustrekening, regmatig is nie. Tog het die verenigings al verskeie hofsake gewen, oa ook in die Vrystaat, waar munisipaliteite gedwing is om hierdie “wanbetalers” se kragtoevoer (wat volledig betaal is) te herstel.
In die grondwethofsaak van Walker versus City Council of Pretoria is, eenvoudig gestel, in die meerderheidsuitspraak beslis dat die burger nie bloot die wet kan verbreek as die staat die grondwet oortree nie. Die burger moet eers ‘n regsoptrede volg soos om die howe te nader om die staat te dwing om die grondwet nie te skend nie. (In die omgewing wat natuurlike geregtigheid klink dit vreemd dat ‘n hofsaak nodig is om te keer dat die staat nie die grondwet skend nie, maar daar was ‘n rits soos SA-burgers e belange in Zimabbawe. Vrystaat landbou is nou op pad hof toe met die regering oor veral versuim om die Lesothogrens behoorlik teen oorgrens-misdaad te verskans).
Die Pretoria-saak se belangrikste bevinding was egter ook dat ‘n munisipaliteit ook nie op grond van ras mag diskrimineer nie.
Nie almal het egter die fondse om hulle op die howe te beroep nie. Prof Herman Gilliomee het onlangs in ‘n artikel ook gewys op die vertolking wat die ANC aan die sg Hoofstuk 9-liggame heg, wat in effek neerkom om as verlengstukke van die ANC te dien. Ek tel onder diegene wat ruim meer as ‘n dekade op die Openbare Beskermer wag om ‘n finale verslag oor ‘n onreg uit te bring. In kort, min mense het nog geloof in hierdie instellings.
In die howe is die stryd gewoonlik baie ongelyk, met die staat wat kan aanjaag en die belastingbetalers wat moet opdok. Daar was enkele gevalle, maar hopeloos te min, waar die besluitnemers aan staatskant aangesê is om self die regkostes te dra. ‘n Veel regverdiger speelveld sal ontstaan as staatsaanspreeklikheid vir regskostes heeltemal onttrek word, en besluitnemers verplig word om regsaanspreeklikheidsversekering uit te neem. As die staat gedagvaar word, en die besluitnemer besluit om teen die advies van sy versekeraars die saak teen te staan, moet hy gewoon self sy regskostes dra as hy verloor.
Dit is agter te midde van hierdie ongelykheid dat getroue belastingbetalers in magteloosheid moet toesien hoe hul munisipale dienste ten gronde gaan, en geld vermors word. Terwyl ek gou ‘n bietjie navorsing vir hierdie antwoord gedoen het, het my oog geval op R100 000 wat ‘n erg sukkelende munisipaliteit (Ngwathe wat Parys en Heilbron insluit) op die begrafnis van ‘n raadslid gespandeer het. Ek kan by my voordeur uitkyk op ‘n mangat oorkant die straat waarvan die deksel weg is. As lid van ‘n munisipale wykskomitee (ek is nie lid van ‘n belastingbetalersvereniging nie) rapporteer ek dit al meer as twee jaar. Daar was al ‘n foto daarvan in die koerant, en die munisipaliteit moes al aan verskeie mense wat in onbedekte mangate geval het skadevergoeding betaal.
In die Karoo het minstens een Belanstingbetalersvereniging sy ding begin doen toe nog ‘n munisipale afvaardiging kort na voriges op pad oorsee was.
In verskeie dorpe is al munisipale dienste wat hoegenaamd gelewer word, dit wat die belastingbetalersvereniging uit die trustrekenings lewer.
Kort voor die algemene verkiesing het die aangewese, en nou Vrystaatse Premier by ‘n SALGA-kongres aangekondig dat korrupte en onbekwame burgemeesters en munisipale bestuurders afgedank gaan word. Hy is toe uitgelag. Sedertdien het die vreemdste goed gebeur, soos ‘n geskorste munisipale bestuurder wat elders as administrateur aangestel is waar die betrokke munisipaliteit onder administrasie geplaas is.
Berigte is volop waar belastingbetalersverenigings voor en na hulle dispuut verklaar het vrugteloos probeer afsprake maak het met die rade.
Uit briewe en berigte blyk dit dat die Nasionale Belastingbetalersvereniging ook van g’n sout of water weet van ‘n afspraak wat die minister sê hy met hulle het nie. Trouens, dit blyk eerder dat die minister hul pogings vir ‘n afspraak ontduik, en selfs blykbaar ‘n kluitjie gebak het oor die rede waarom ‘n afspraak op baie kort kennis afgestel is (om ‘n Zuma-saamtrek te gaan bywoon).
Die hartseerste is dat die minister dit wys ag om ras by die kwessie in te sleep. Dit het onmiddellik die deur oopgelaat vir teenreaksies met rasse-ondertone, soos dat die (wit) belastingbetalersverenigings darem steeds hul belasting bly betaal, terwyl (swart) ontevredenes heeltemal nie betaal nie (wat blykbaar talle raadslede insluit want by Dihlabeng (Bethlehem en omgewing) sal die raad volgens die ANC self nie ‘n kworum hê as wanbetalende raadslede van vergaderings uitgesluit word nie). Die rasspeletjie kan ‘n entjie verder getrek word soos verskeie voorvalle van oproer, en waar daar deesdae weer taamlik lustig met rubberkoeëls geskiet word, al word nie met rubberklippe gegooi nie.
Die hartseer is dat ‘n moeder van hofsake soos die minister dreig, sake net sal vererger eerder as verbeter. Die oplossing is taamlik eenvoudig. Die ANC moet woord hou en van korrupte en onbekwame burgemeesters, raadslede en amptenare ontslae raak. Trouens, onlangs nog het Zuma en kie nukkerige burgemeesters weer mooi soos eendjies in die lojale ry gekry deur te dreig om van die stelsel van uitspattige burgemeesters ontslae te raak.
Dis nie altyd rade wat in ANC-beheer is wat sleg vaar nie. Die ANC het immers nie korrupsie uitgevind nie, net vervolmaak.
Intussen is dit ongelukkig dat trotse, lojale Suid-Afrikaners wat desperaat probeer keer dat die land ‘n volledige piesangrepubliek word, as verraaiers en misdadigers afgemaak word. ‘n Hofsaak (en mag die nodigheid daarvan deur gesonde verstand oorbodig raak) is nou al wat kan beslis of die trusfondsrekeningshouers werklik misdadigers is, en of hulle eintlik helde is wat deur gemeenskapspolitiek probeer beredder wat nog beredder kan word.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





