In verskeie dele van die land is daar gemeenskappe wat betreklik gewelddadig raak oor diensleweringsbeloftes wat na dié beloftes gemaak is, soos mis voor die son verdwyn. Dié ongemak met owerheidsuitsprake word versterk deurdat mense via die media verneem van opmerkings en beloftes wat politici vir gehore maak wat baie duidelik net vir daardie gehore se ore bedoel is.
Tradisioneel is dit as goeie hoofmanskap beskou as die hoofman saans van familievuurtjie na familievuurtjie loop en by elk aan die uitgebreide familie vertel wat hulle wil hoor. Dit het ook nie saak gemaak dat dié aandpraatjies erg teenstrydig met mekaar kon wees nie.
Vandag maak dit wel deeglik saak. ‘n Hoë politikus kan verwag dat die media hom gaan volg en rapporteer wat hy te sê het. ‘n Boodskap by Julius Malema se tuisdorp dat Malema ‘n aangewese president van die land is, word met afsku in baie ander dele van die land aangehoor. Hierdie mentaliteit maak dit ook moeiliker om nasionalaiseringspraatjies wat in sekere kringe gevoed word, behoorlik in landsbelang dood te slaan en klaar te kry.
Omdat tribalism in hierdie selfde geledere ‘n vloekwoord bly en steeds as deel van die politieke inkorrekte spektrum bly kleef, is dit moeiliker om hierdie praktyk verkoop te kry aan gehore vir wie ‘n man se woord sy woord is en bedoel is om in dade neerslag te vind.
Met gemiddeld twee plaasmoorde per week pleit die landbougemeenskap deurlopend by die regering om dié verskynsel te veroordeel. Dit is immers nie gewone moord nie, omdat die moordkoers onder boere volgens die Vryheidsfront Plus se syfers byna tien keer hoër as die land se reeds hemelhoë moordkoers is. Die regering het egter taamlik konsekwent dawerend in al elf amptelike tale geswyg.
Tot by die regte familievuurtjie aangeland is. By Agri SA se kongres verklaar die minister van Veiligheid en Sekuriteit dat die regering plaasaanvalle ten sterkste veroordeel.
Die onvermydelike vraag is nou: Is dit weer ‘n geval van woorde wat vir ‘n sekere gehoor bedoel is? Daar is ongelukkig verskeie aanduidings dat dit wel die geval is.
- Die minister het selfs te midde van die veroordeling hiervan plaasmoorde tot niks buitengewoon vir die land probeer reduseer nie. Dit beteken die minister is oningelig oor die statistiese moordkoerse, of hy kyk dit moedswillig mis.
- Daar was ‘n dawerende swye binne regeringsgeldere toe minister Tokyo Sexwale die afgesaagde kulkunsie opdiep om die blaam vir plaasaanvalle op die boere te pak. Terwyl niemand stry dat daar vrot appels is nie, is die werklikheid, anders as die politici se persepsies van die werklikheid, dat hierdie kwessie al verskeie kere ten duurste deur die regering self ondersoek is, en steeds sonder bewyse vir hul opvattings sit. Die resultate van hul eie ondersoeke het die stroom kritiek op boere, en om hulle sodoende in baie se oë eintlik voëlvry te verklaar, nie beïnvloed nie. Die uitsprake op die nasionale grondberaad enkele jare gelede het byvoorbeeld gevolg op ‘n Wes-Kaapse ondersoek van meer as tagtig beweerde voorvalle in ses maande, waarvan almal vals bewys is. Wes-Kaapse afgevaardigdes by die beraad het eenvoudig hierdie feit geïgnoreer. ‘n Soortgelyke ondersoek in die Vrystaat se bevindings is eenvoudig nooit bekend gemaak toe dit dadels opgelewer het nie.
- Die minister van samewerkende regering het pas weer die rassekaart teenoor wit belastingbetalers gespeel.
- Die Wêreldbekersokkerstadion in Polokwane is na die voormalige ANC-jeugleier vernoem wat bekend geword het vir sy slagspreuk, Kill the Boer, kil the farmer. Enige verantwoordelike regering wat sy grondwetlike plig tot nasionale versoening ernstig opneem sou met afsku vervul gewees het.
- Vrystaat Landbou het aangekondig dat hy met sy hofsaak teen die regering voort te gaan omdat die weermag nie, soos onderneem is, op 1 April die grensbeveiliging met Lesotho oorneem nie. Trouens, dit is nog nie moontlik om vas te stel of die SAPD tot die nuwe ontplooiingsdatum oor drie of vier jaar aan die grens gaan aanbly nie.
Minister Nathi Mthethwa kan niemand verkwalik wat sy beloftes van ‘n omvattende landelike beveiligingsplan wat op hande is, met ‘n knippie sout neem nie. Dat dié plan nou nog nie gefinaliseer is nie, terwyl plaasmoorde al in 1994 hande begin uitruk het, is doodgewoon skandalig. Boonop het van ander beloofde strukture, soos dit wat in plek sou wees voor die kommando’s uitgefaseer sou wees, dadels gekom.
Of hierdie plan soos die water in steeds droë krane gaan realiseer hang ongelukkig nie van regeringspraatjies af nie. Veel meer sal die hofsaak van Vrystaat Landbou rigtinggewend wees, soos verskeie ander onlangse hofsake waarin die regering die kous oor die kop gekry het omdat versuim is om sy grondwetlike verpligtinge jeens sy burgers na te kom.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





