Die uitspraak in ‘n arbitrasieverhoor van ‘n Bloemfonteinse staatsdokter met gewetensbesware teen aborsies onderstreep opnuut hoe kompleks ‘n liberale uitleg oor menseregte is. Dit lei dikwels daartoe dat liberalisme in stryd met sy aansprake, juis tirannieke karaktertrekke openbaar.
Hierdie verskynsel speel hom op die oomblik ook in die VSA af, waar pres. Barak Obama pas in selfs die mees simpatieke meningspeiling nie die 50 % gewildheidsperk kon behaal nie. In hoofstroomkoerante word nou al ‘n geruime tyd na die “embattled president” verwys. Sy omvattende gesondheidsversekeringsplan kry om verskeie redes teenspoed, maar een van die hoofredes waarom groot en invloedryke Christen-organisasies hom hieroor met oorgawe opponeer is omdat dit glo aborsies op aanvraag op staatskoste sal moontlik maak, en dat dokters met gewetensbesware daarteen gedwing sal word om daaraan mee te doen.
Van die ander besware is dat beplan word om wetgewing so te verander dat minderjariges aborsies kan ondergaan sonder hul ouers se medewete, iets wat in Suid-Afrika ingevoer is.
Dit bly een van die grootste teenstrydighede dat die liberalisme, wat gewoonlik so sterk oor die reg op lewe voel, gekant is teen die doodstraf vir selfs die wreedste, hardvogtige moordenaar, maar nie ‘n probleem het nie dat daar teen dié tyd reeds amper ‘n miljoen aborsies op aanvraag in Suid-Afrika gedoen is sedert dit gewettig is.
Die skynbare teenstrydighede is pas in Suid-Afrika opnuut onderstreep toe die jong DA-LP ‘n omvattende verklaring uitreik waarin sy beswaar maak teen pres. Jacob Zuma se beplande moraliteitsherlewing. Anders as die meeste ander besware dat Zuma en sy “interfaith”-organisasie nie die toepaslike mense is om dit te dryf nie, was haar beswaar in hoofsaak dat die staat hom nie hierop kan begeef nie omdat dit buite die staat se bevoegdheid val en die reg van individue op spraakvryheid aantas. Sy slaan die bal mis, soos die Christen-Demokratiese Party uitgewys het omdat die staat onder meer die beskermer is van die openbare moraliteitsbeginsels, bekend as contra bones mores, wat in die onder meer kontraktereg en die erfreg geld.
Uit liberale geledere is daar dikwels uitsprake wat spraakvryheid effektief wil vrywaar van die gewone beperkings wat op menseregte geplaas is. ‘n Voorbeeld van hoe geen mensereg onbeperk kan wees nie omdat dit ‘n ander reg iewers ontmoet, was die twis oor veiligheidstoegang tot sekere Pretoriase woongebiede. Die ANC in die Tshwane-raad het dit geopponeer omdat dit glo bewegingsvryheid sou inperk, terwyl die inwoners geargumenteer het hulle het die reg op lewe en op veiligheid.
Verskeie liberale drukgroepe het ook die aansoek en appèl om die slagspreuk “Kill the Boer, kill the farmer” tot haatspraak verklaar te kry, verbete teengestaan omdat dit spraakvryheid sou ondergrawe.
Pas het nog ‘n DA-LP, Annelie Lotriet, onder die minister van Kuns- en Kultuur ingeseil en op haar ontslag aangedring. Die minister het sewe maande gelede by ‘n kunsuitstalling met ‘n gay tema uitgestap waar materiaal uitbeeld hoe kaal swart vroue mekaar omhels. Boonop het die minister toe haar mond uitgespoel en dit as onaanvaarbaar beskryf. Skielik beteken die minister se reg op spraakvryheid niks.
Die norm, so wil dit voorkom, is dat spraakvryheid onbeperk is solank liberale waardes nie gekritiseer word nie. Die sleutel lê daarin om sekere sake, weer volgens liberale norme, tot haatspraak te verklaar.
Dit lei onvermydelik tot teenstrydighede. Die moordenaar en verkragter het ‘n reg op lewe selfs na ‘n behoorlike hofprosedure en appèlle, maar die ongebore baba nie, bloot omdat hy dit gewaag het om sy ma se reg op privaatheid te skend – die grondslag waarop aborsies op aanvraag gewettig word. Hier word nie verwys na die tradisionele gronde soos verkragting, bloedskande en die lewensbedreiging van die moeder wat gewoonlik as wettige gronde vir aborsies geld nie.
Mnr. Roelf Meyer, die NP se hoofonderhandelaar vir die huidige grondwet, verduidelik gereeld dat besluit is die beste beskerming van groepsbelange is die kollektief van individuele belange. Soos dit in die praktyk problematies blyk te wees, is die benadering dat sekere individuele regte op grond van hul ideologie-vriendelikheid hoër regte as ander is, ook problematies. Die staatsreg erken wel verskillende orde menseregte. Die reg op gelykheid is gewoonlik ‘n eerste orde reg, terwyl die reg op onderrig ‘n derde orde reg is omdat die staat dit moet kan bekostig om afgedwing te word.
Hierdie grense is nie altyd ewe duidelik nie. ‘n Voorbeeld is die besluit om die dialisemasjien van ‘n persoon af te skakel omdat die staat dit nie meer kon bekostig nie. Die pasiënt is kort hierna dood, ongeag sy grondwetlike reg op lewe. Dié week het die uitgetrede president van Vrystaat Landbou aangekondig dat Vrystaat Landbou nou finaal voortgaan met sy hofsaak teen die regering om die regering te dwing om sy lede, en Vrystaatse inwoners in die algemeen, se reg op veiligheid te beskerm.
Die regering het pas ook in ‘n reeks sake die kous oor die kop gekry weens sy versuim om burgers teen Mugabe se grondroof te beskerm.
Hoewel die lyne soms vaag is, behoort die gemiddelde mens ‘n goeie oordeel te hê mits hy die basiese grondslag van die Suid-Afrikaanse reg toepas, naamlik natuurlike geregtigheid. Ongelukkig word die insig oor natuurlike geregtigheid deur godsdiens en ideologie beïnvloed, en daarom sal uitgangspunte verskil.
Minstens het ‘n arbiter in Bloemfontein nou weer ‘n lansie vir individue se reg op godsdiens gebreek. Dit onderstreep dat, anders as wat liberalisme leer, die impak wat iemand se godsdiens op sy lewensopvattings het, nie binne die individu se kerklike lewe vasgepen kan word nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





