praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar Na die pot die ketel verwyt het...

Na die pot die ketel verwyt het...

E-pos Afdruk PDF

Terwyl Suid-Afrikaners mekaar nog oor gebalde vuiste aangluur en die woorde-oorlog voortduur oor die 2 Februarie-herdenking, kristalliseer die vraag opnuut:

“Ja, maar wat nou?”

Ongelukkig is idees oor wat nou, baie uiteenlopend, nie net onder die land as geheel se inwoners nie, maar ook binne groepsgeledere.

Op die meer omvattende skaal verwag die ANC-Jeugliga die land van melk en heuning lê voor die deur as die myne genasionaliseer word. Die ANC-ringkoppe wil nou – hopeloos te laat – probeer keer dat dit elke keer dieselfde handvol is wat voordeel uit Swart Ekonomiese Bemagtiging trek.

Sedert 2 Februarie 20 jaar gelede is verskeie kere gemeen nog ‘n Rubicon word oorgesteek, net om te vind die land is in werklikheid weer in die Trasimeense Meer ingelei. In die jongste vlaag beriggewing word verwys na die land se waterkrisis, die weermag se topbestuur wat weens hul kleitrappery uit Skoor gejaag is, pres. Zuma wat nou blykbaar ingevolge die Zoeloe-kultuur met vyf beeste beboet gaan word oor sy buite-egtelike sekskapades...

Cosatu dreig met die ontwrigting van die Wêreldbeker-sokkertoernooi oor Chinese invoere, en die stelsel van uitvoerende burgenarre se doodsklok het skynbaar gelui, maar eers nadat dié soort narrestreke ook in nog hoër gestoeltes nesgeskop het.

Terwyl daar verdeeldheid is oor of 2 Februarie 20 jaar gelede goed of sleg was – volgens Tim du Plessis is dit net ver-regses en die ANC-Jeugliga wat meen dit was sleg – is almal dit eens dat die koers wat sedertdien ingeslaan is, iewers gestuit moet word.

Oor die pad vorentoe is daar egter min duidelikheid. Daar is sekere instinkte soos dat die howe ingespan moet word om die rysmier van Afrikaans – in weerwil van grondwetlike waarborge – gestuit te kry.

Uiteindelik word verskillende ideologieë teenoor mekaar opgestel.

Binne ‘n piesangrepubliek-opset geld die gewone ideologiese wetmatighede nie. Dit kan nie, want die energie wat nodig is om volslae ineenstorting te voorkom of gewoon liggaam en siel aanmekaar te hou, is so groot dat daar min ruimte gelaat word vir akademiese gesprekvoering. Dit help ook nie dat die regering nou skynbaar tot die punt gevorder het waar die gemeenskap wat met vaardighede baie oplossings kan bied, tot buite die relevante politieke speelveld gerangeer is nie. Selfs Max du Preez wys hierop.

Om kundiges wat eerlik na oplossings soek as ideologies ver regs van die wa af te brandmerk bloot omdat objektiwiteit nie meer ruimte laat om oplossings slegs, of hoofsaaklik, in die liberale raamwerk te soek nie, dra nie by tot die soeke na ‘n werkbare koers nie.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: