praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar Ongevalle weens boemerangspeel

Ongevalle weens boemerangspeel

E-pos Afdruk PDF

Onder die reaksies op die nuus dat pres. Jacob Zuma nog ‘n buite-egtelike kind tot die land se bevolking bygedra het, was dié van ‘n klein politieke party wat gesê het dit lyk of die president nou ‘n Bill Clinton, ‘n Tiger Woods en ‘n Koning Henry VIII in een is.

Gaan tik Zuma, Tiger, Clinton en Henry in Google in. Dit is bykans 60 000 trefslae.

Tik die klein party se leier se naam by, en dit daal tot sowat 1 300.

Maar gaan kyk ‘n bietjie waar het dit alles trefslae opgelewer.

Nee, nie in Suid-Afrika se Afrikaanse koerante nie.

Dit is ‘n rits koerante oorsee, koerante van formaat soos die NY York Times. Van die kleiner koerante gebruik nou die grotes se berigte hieroor as “aanhaling van die week.”

In kort, die buitelandse pers vind die klein party se opsomming van die situasie so komies dat dit soos ‘n veldbrand versprei het.

En toe tref dit Twitter.

Nog ‘n opmerking, van ‘n effense groter party, dat pres. Zuma behandeling vir sy seksverslawing moet kry, het ook heelwat opskrifte gehaal.

Dis ongelukkig nie die eerste afwysende opmerking oor pres. Zuma se sekskapades wat groot trefslae in die buitelandse media oplewer nie. Die kleiner party se opmerking dat Zuma se poligamie en animistiese gebruike ‘n terugkeer tot die Donker Eeue uitstraal, het ook gaan opslae maak.

Trouens, so gewild is dit dat die Sweedse Dagen Post dit weer gaan afstof het na Zuma se TV-onderhoud in Davos. Die president se skandes word onthou.

En hierdie is net die trefslae oor mediadekking wat deur van die land se twee kleinste partye gegenereer is. Oor die algemeen is dit ook net die trefslae in Engelstalige pers – met ‘n bietjie speel met terme word ook die Spaanse, Duitse en ander media se draakstekery met ons president opgespoor en slinger dit die gesamentlike trefslae die miljoene in.

Die interessantheid is dat dit selde veroordelend is, dis ‘n doodgewone gekskeerdery met die president, skynbaar omdat hy net nie as die moeite werd geag word om ernstig genoeg vir ‘n veroordeling opgeneem te word nie.

In kort: Sy beeld vir ernstig opneem herinner aan hoe die wêreld na Idi Amin gekyk het, gelukkig darem sonder die gepaardgaande afsku in sy wreedhede.

Die grens is egter nouer as wat ‘n mens sou dink. Die omvang van plaasmoorde het ook al die buitelandse pers “getref” en so was dit onlangs in grusame detail in Trouw, met die uitwysing dat die regering hieroor taamlik swygsaam is. Wat Trouw se berig interessanter maak – dit lewer ruimte vir leserskommentaar. En dié was blatant krities teenoor die regering se onwilligheid om die wreedheid hok te slaan.

Dit alles terwyl die oë van die wêreld, soos die regering gehoop het, so kort voor die Wêreldbekertoernooi op Suid-Afrika gerig is. Soos te wagte is, is bykans enigiets wat in Suid-Afrika gebeur, nou in veral die lande wie se spanne hier kom speel, nuuswaardig.

Wat ook uit die beriggewing duidelik is, is dat Suid-Afrika tot dusver nie ‘n ronde sokkerbal vir die toernooi inspan nie, maar ‘n boemerang.

En die regering speel lustig saam om te sorg dat die boemerang soos klokslag terugkom en nog iets neervel. Die vel van ‘n beer wat nog nie geskiet is nie.

Die slegte nuus is dat hef aan nog voorlê.

Die werklike in diepte artikels wat geskryf word waar omvattend na die land gekyk gaan word, moet nog kom. Die sokkerkoors wat die land hier beet het, het nog nie werklik na die wêreld daar buite versprei nie, soos ook blyk uit die kaartjieverkope.

En waaroor gaan berig word? Die land se natuurskoon, die strande, die wildsparke...

Ja, daaroor wel, maar dit sal ook gaan oor die rommel in die natuurskoon en op die wit strande, dit sal ook gaan oor wildstropery in die wildsparke.

Dit sal ook gaan oor ‘n minister wat alle departementele verslae se aanbevelings in die wind slaan en ‘n steenkoolmyn digby Mapungubwe-wêrelderfenisgebied goedkeur. Die slegte publisiteit wat Suid-Afrika oor sy hantering van die ander wêrelderfenisgebiede, die Vredefortkoepel en Robbeneiland kry, sal verseker dat dié flater nie die wêreld se bewaringsbewustes se oë sal ontglip nie.

Suid-Afrika se geweldsmisdaadsyfers gaan weer en weer in die nuus kom. Dat die polisie ‘n dronknes-saamtrek teen ‘n koste van miljoene rande gaan hou het, sal ook nie help om die boemerang elders heen te laat koers kry nie.

Die vlakke van polarisasie en die feit dat die land onder die ANC tot, volgens verskeie kenners, die hoogste vlak van welvaartsgaping in die wêreld gegroei het, gaan ook die buitelandse nuus haal.

Die laaste ding wat die land nou nodig het is ‘n president wat wys hy kan ‘n Tiger, Bill en Koning Henry VIII in een wees. Dit sal seker gepas wees as hierdie presidensie se laaste taptoe met fufuzelas gespeel word.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: