Mnr. Roelf Meyer, die naïeweling wat Afrikaners aan hul aartsvyande in die vroeë negentigerjare uitverkoop het, is betrokke by die sogenaamde Aksie vir ʼn veilige Suid-Afrika wat verlede week ‘n vierdaagse konferensie in Midrand gehou het.
Dit blyk dat die tema van die kongres was dat die stragregstelsel nie meer werk nie. Die gewone Afrikaner op straat het dit reeds jare gelede agtergekom.
Pleks dat die Aksie vir ʼn veilige Suid-Afrika egter die verval van die polisiediens en die howe probeer aanspreek, word daar op tipies linkse manier op die regte van die misdadiger gefokus.
Die probleem wat die AVSA geïdentifiseer het, is dat misdadigers nie goed genoeg behandel word nie en dat daar ná hul vrylating uit die gevangenis teen hulle gediskrimineer word as dit by aanstellings kom.
Daarom moet die ongeveer 200 organisasies wat by die kongres betrokke was hul bes probeer om misdadigers meer welkom in die samelewing te laat voel en hulle ook in die gevangenis van meer aandag en afleiding te voorsien.
Indien Suid-Afrika nie tans soveel moord en doodslag beleef het nie, sou die hele oefening selfs komies kon wees. Terwyl ons daagliks bloed en anargie beleef, is die houvas van die Marxistiese godsdiens dat “die mens slegs die produk van sy omstandighede is” só sterk dat Roelf Meyer en sy medekongresgangers nie meer tot rasionele denke in staat is nie.
Die enigste antwoord op die wetteloosheid in die land is dat elke wetsgehoorsame burger hom moet bewapen en moet inskakel by organisasies wat gemeenskapsveiligheid – nie die welsyn van geweldenaars nie – op die hart dra.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





