praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar ?Internasionale rassiste? soek Mugabe se bloed

?Internasionale rassiste? soek Mugabe se bloed

E-pos Afdruk PDF

Inwoners van Suid-Afrika is al gewoond aan die spreekwoordelike rassis wat onder elke bed skuil. ʼn Tyd gelede was daar die Braude-verslag van die SA menseregtekommissie wat beweer het dat ʼn foto van ʼn reier op ʼn ashoop in Oeganda ʼn voorbeeld van “subliminale rassisme” sou wees.

Ook Thabo Mbeki is gou om ander van rassisme te beskuldig. Toe die media kritiek uitgespreek het oor die hoë voorkoms van verkragting in Suid-Afrika het hy dit verwerp as rassisme en ʼn poging om swartmense as diere voor te stel wat nie hul luste kan beteuel nie.

ʼn Woordvoerder van Zanu-PF het egter nou met ʼn nuwe begrip vorendag gekom: “internasionale rassisme”. Dít nou na aanleiding van die G8-lande se eenstemmigheid dat sanksies teen die bewind van Robert Mugabe nodig is.

Dit maak mens nuuskierig: hoe verskil internasionale rassisme van gewone rassisme? Of verteenwoordig stappe teen ʼn Afrikaregering deur enige internasionale liggaam vanselfsprekend internasionale rassisme?

Feit is egter dat mense van Afrika-afkoms wêreldwyd – en daarom internasionaal – van rassisme hul vernaamste slagspreuk gemaak het. Swart mislukkings of onvermoë word klakkeloos aan rassisme toegeskryf.

Die swartman – selfs wanneer hy soos Thabo Mbeki regeer of soos die Mugabe-bewind kragdadig en gewetenloos teen sy politieke opposisie optree – is altyd ʼn slagoffer. Selfs die miljardêrsakeman soos Tokio Xegwale of Patrice Motsepe wat self hul rykdom deur swart ekonomiese bemagtiging bekom het, se kinders kwalifiseer steeds vir regstellende aksie want hulle bly slagoffers wat vir hul swartheid vergoed moet word.

Die kreet van internasionale rassisme wat nou vanuit Zimbabwe opklink, is veronderstel om die G8-lande tot stilstand te skok en te laat verkrummel. Enkele jare gelede sou dit moontlik daardie uitwerking gehad het, maar weens oorgebruik deur swartes en Afrikane het die beskuldiging van rassisme sy angel verloor.

Zimbabwe tas nou na strooihalms in sy pogings om aan internasionale druk te ontkom. Selfs die towerwoord rassisme wat in die verlede genoeg was om enige vorm van blanke kritiek te besweer of blankes deur skuldgevoelens te verlam, gaan dié keer nie werk nie.

In weerwil van die ANC-bewind se vele pogings tot dusver om sy bondgenoot in Harare, Zanu-PF, te red, wil dit voorkom asof die “internasionale rassiste” gaan sorg dat dié party tot ʼn val kom. Net 'n Sjinese veto by die Veiligheidsraad staan tussen Mugabe en sy ondergang.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: