Na 'n aansoek om toestemming om 'n drie-dag-beraad oor werkskepping, grond en behuising aan te bied, het burgerlike organisasies in Kaapstad hulself ondanks hul moeite aan die verkeerde kant van die polisie bevind.
Die groep het by die Rondebosch Meent in die Kaapse suidelike voorstede byeengekom. Die polisie het waterkanonne ingespan om die groep uiteen te jaag.
Die stad se armes sê hulle word gedwing om in haglike omstandighede te woon terwyl die owerheid niks aan hulle probleme doen nie.
Hulle sou in die hof verskyn en aangekla word, maar die klagtes is intussen teruggetrek.
Die Wes-Kaapse premier se selfverklaarde groot liefde vir die "struggle" en die arme verdruktes was toe net verkiesingspraatjies. Ons is terug na 'n era toe die polisie "die varke" was en nie vriende van die gemeenskap nie.
Hierdie genadelose onderdrukking het meer onlangs by Hangberg ook in lelike onluste uitgebreek vanweë die gedwonge verskuiwing van plakkers van die berghange wat die uitsig oor Houtbaai belemmer. Natuurlik is hulle 'n kopseer vir die eienaars van die land se mees gesogte huise.
Maar om mense se lewensbestaan te ontken, grens aan die onmenslike. Die brutaliteit deur die polisie het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur. Mense is selfs in die oë met rubberkoeëls geskiet, wat dodelik kon gewees het.
Sulke optrede lei na nêrens, en 'n mens sou gedink het die eertydse Black Sash-tannie, Zille, sal dit ten minste insien. Die gevolg van die hardhandigheid is nou ongelukkig 'n gemeenskap wat verenig staan teen hulle gedwonge verskuiwing.
Ten spyte van die burgemeester se vae besware, het die organisasies die nodige toestemming gehad. Ook die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en ander organisasies wat betrokke was.
Die polisie is veronderstel om misdaad te voorkom en nie op te tree as die lang arm van 'n politieke party nie. Wanneer hierdie mag misbruik word, sal die polisie vrae moet begin antwoord oor menseregteskendings... van die einste mense wat hulle veronderstel is om te dien.
Die beswaardes is besorg oor werk, behuising en grond. Is dit nie wat die DA wil help oplos nie? Of Kaapstad nou daarvan hou of nie, hulle kan nie weggewens word nie.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





