praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar Zuma, VSA se bondgenoot in Afrika?

Zuma, VSA se bondgenoot in Afrika?

E-pos Afdruk PDF

Daar was dié week weer 'n vrag vol mooiklinkende beloftes: Afrika-ontwikkeling, integrasie, veiligheid en volhoubaarheid om swaargewig Nskosazana Dlamini-Zuma se kandidatuur as hoof van die Afrika-Unie se Kommissie 'n hupstoot te gee.

Suid-Afrika se ambisieuse plan om Afrika se toekoms te bepaal, is Woensdagmiddag onthul in 'n konferensiekamer van die Bela Bela-munisipaliteit waar vyf topkabinetsministers sowel as 'n adjunkminister die media toegespreek het.

Dit was nie 'n gewone perskonferensienie nie, want die wedloop tussen die VSA en China in Afrika tel stoom op en dis baantjies vir boeties, of liewer, sussies. Dlamini-Zuma wil Jean Ping as voorsitter van die Afrika-unie se Kommissie vervang. Ping, van Gaboen, is half-Chinees en praat Mandaryns vlot, 'n natuurlike Chinese bondgenoot.

Ping was een van die belangrikste figure wat gehelp het om die besoek aan Gaboen in 2004 van die Chinese president Hu Jintao te reël. Die Chinese president het in die hoofstad Libreville sy grensverskuiwende toespraak gemaak waarin hy 'n nuwe tydvak in China se verbintenis met Afrika belowe het, naamlik hulp "sonder politieke voorskrifte".

Franssprekende Afrika is reeds verdeel deur Suid-Afrika se vele beloftes en sal nie meer as 'n blok vir Ping stem nie, maar individueel.

Die posisie van voorsitter is 'n sleutelrol in die argitektuur van Afrika-diplomasie, want die toon en styl van die Afrika-Unie se interaksies en ingrypings het enorme politieke implikasies vir die kontinent. En soos ons almal weet is politiek en sake een en dieselfde ding. Dit is dus 'n gesogte rol, en Suid-Afrika en hul ondersteuners is vol moed dat hulle die pyp gaan rook.

Volgens die minister van internasionale betrekkinge Maite Nkoana-Mashabane, wat die inligtingsessie gelei het, het Suid-Afrikaanse verteenwoordigers al kruis en dwars oor die vasteland gereis om ondersteuning vir die kandidatuur te werf. Al 53 Afrika-lande is besoek en president Zuma het persoonlik met byna elke Afrikastaatshoof ontmoet. "Ons het dit hard gedryf," het sy gesê.

Die hele poging is gelei deur 'n hoëvlakspan wat insluit die minister van staatsveiligheid Siyabonga Cwele, justisie en grondwetlike ontwikkeling Jeff Radebe, korrektiewe dienste Nosiviwe Mapisa-Nqakula en adjunkminister in die presidensie, Obed Bapela.

Daarom is president Jacob Zuma se BBP-straler, die Inkwasi, nie net versien nie, maar uit vrees word dit nou klaarblyklik op lang vlugte deur 'n ander straler vergesel. Duidelik word niks aan die toeval oorgelaat nie.

Sowel dié vliegtuig as Zuma s'n gebruik die presidentsroepsein, het www.defenceweb.co.za berig. Dit lyk beslis asof sekere belangegroepe versigtig is vir 'n herhaling van Samora Machel se onverwagte einde.

Verkiesings sal aan die einde van Januarie by die Afrika-Unie se beraad in Addis Abeba plaasvind. Elke Afrikaland kry 'n stem en die suksesvolle kandidaat moet 'n tweederdemeerderheid behaal. Jean Ping is 'n suksesvolle en gewilde voorsitter, maar Nkoana-Mashabane is vol moed: "Ons is baie, baie vol vertroue dat ons die nodige ondersteuning het."

Die Britte is maar taamlik bekaf oor die veldtog waarin hulle nie geken is nie. Tuis in Suid-Afrika moet hulle vir hulle paaltjies keer met die klagtes oor rassisme in krieket wat ondersoek word. Die Statebond sukkel ook maar met dieselfde lot. En daar is nie Afrikaners wat hulle kan blameer vir rassisme nie.

Die DA het ook probeer om vlieë af te vang oor die koste van die twee stralers, maar sonder veel sukses. Op Amerikaanse steun kan hulle nie reken nie; die Amerikaanse invalshoek is swart en links en onbeskaamd so.

Binnekort sal Brittanje seker op die Afrikaners aangewese wees om enige invloed op die kontinent te kan monster. Dit is seker waarom Tim du Plessis in Beeld meen Afrikaners het 'n Tahrirplein nodig en FW de Klerk intussen ontpop het as 'n taalstryder. Dié nuwe ywer is ongetwyfeld toe te skryf aan Britse frustrasie met hul toenemende onmag in Afrika.

Jean Ping het nog net een termyn in die amp gedien en sal sy stoel moet verlaat na sy tweede. Maar Suid-Afrika en die VSA wil nie wag nie. Noudat Sirië sukkel en Libië en die Ivoorkus nie groot suksesse was nie, is die Amerikaners bekommerd en wil hulle vinnig beweeg. In elk geval lyk Zuma se tweede termyn as president, op voorwaarde dat die AU-stoel gewen word, asof dit 'n gegewe gaan wees met só 'n bondgenoot.

Vir Zuma om 'n wesenlike impak te maak in Afrika, het hy kennelik besluit dat hy Amerikaanse belange sal moet oorweeg. Die farmaseutiese maatskappye is reeds dankbaar vir die feit dat hy hulle toegelaat het om tot die MIV-mark toe te tree.

Wat ook al aan die einde van hierdie maand in Addis Abeba gebeur, sal dit 'n taai stryd wees.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: