praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar Van links na linkser: Die Amerikaanse verkiesingsirkus

Van links na linkser: Die Amerikaanse verkiesingsirkus

E-pos Afdruk PDF
Daar is nie meer kandidate in die regse Republikeinse resies in die VSA oor wat regs is nie. Newt Gingrich het 'n naam vir homself gemaak as die regse ideoloog van die 1994 "Republikeinse Rewolusie", maar internasionale kapitalisme is besig om in duie te stort en Gingrich het ontpop as die nemesis van opkomende kandidaat Mitt Romney se "roofkapitalisme". Is daar enige ander soort kapitalis in die VSA, terloops?

Vergeet 9/11 en ander bangmaakstories. Die slagveld is 'n toepaslike ekonomiese ideologie en daarby 'n ou-ou vergete stryd wat veronderstel was om lankal reeds gewonne te wees: Kapitalisme teen Sosialisme. Ja, die einste Rooi Gevaar! Ons weet mos watter een het in 1989 gewen toe die Berlynse muur geval het, of hoe?

Miljoene Amerikaners verloor hul werk. Miljoene meer gaan hul werk verloor. En die regering wat die "vrye mark" vier en sosialisme en kommunisme met hand en tand beveg het, weier om hulle te help.

Dan is daar die ander lastigheid: Die Amerikaanse regering se meesters, die bankiers, sal nie toelaat dat geld na die armes gaan nie. Hulle hou die Amerikaanse belastingbetalers se geld liewer vir hulself.

Die vryemarkstelsel is uiteindelik ontbloot as die korrupte, ondoeltreffende, wrede pseudodemokrasie wat die linkses altyd gesê het dit is, sê die gemiddelde kieser. Meer as drie jaar later het die Amerikaanse politieke klas en sy korporatiewe base nog nie die middele gevind om die woede van Amerika se werklose en sukkelende massas aan te spreek nie, en die aanloop tot die komende Amerikaanse verkiesing wys die krake.

Die kapitaliste het oplaas die tou gesteel in die vorm van maatskaplike hulp en besteding waarmee die sosialiste hulle wou hang.

Politieke disintegrasie is ontwrigtend en pynlik. Maar dit is beslis 'n skouspel vir enige, selfs semi-geletterde, toeskouer.

Die opkoms van die Republikeinse se anti-kapitalistiese brigades is die politieke sirkus se trekpleister. Hulle teiken is tans Bain, die maatskappy wat aan Romney sy fortuin besorg het. Gingrich het 'n dokumentêre film gemaak oor Romney se maatskappy by name When Mitt Romney came to town, om sy eie veldtog weer aan die gang te kry.

Die hartelose geldwolwe wat Wallstraat bevolk, is nie bekommerd oor die bloed en trane wat hulle in hul gierigheid agterlaat nie. Soos alle vampiere hou hulle maaltyd en vlug. En hulle het altyd die Republikeine ondersteun, of is dit nou anders om?

"Ek dink daar is werklik 'n verskil tussen mense wat glo in die vrye mark en mense wat rond gaan, finansiële voordeel uitbuit, plunder, en gebroke gesinne, gebroke dorpe, werkloosheid agterlaat," keer die voormalige speaker.

Newt is nie die enigste Republikeinse presidensiële kandidaat wat 'n aanval op kapitalisme loods nie. Texas goewerneur Rick Perry, trek ook sy neus op vir Romney se "aasvoëls... wat die karkas kaalvreet, en ... die beendere" van maatskappye wat hulle teiken, agterlaat. Romney, het hy gesê, is 'n "vernietiger van Amerikaanse werk".

Volgens meningspeilings deesdae, is Kommunisme meer gewild as die Kongres. Sedert die presidentskap van Barack Obama het die gaping tussen ryk en arm toegeneem, terwyl die lewe uit die droë doppe van die Amerikaanse middelklas gesuig word.

Intussen, wag die rooi rewolusie om sy buiging te maak. Maar dit lyk amper asof die Republikeine dit gaan lei. Die VSA het van 'n sentrum-regse land na 'n sentrum-linkse een geswaai. Binnekort sal hulle links-links wees, ten minste wat ekonomiese beleid betref, as dinge so aangaan.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: