Die Europese skuldkrisis het die wêreldsoeklig byna uitsluitlik op opbrengste van staatseffekte en beurse wêreldwyd gerig. Maar dit is nie dié persentasies se fluktuasies wat die uitkomste in die wêreld gaan bepaal nie.
Wat uiteindelik gaan tel, is of die negentig persent van alle goedere wat tussen koninente verhandel word, in die toekoms steeds veilig per see vervoer sal kan word en of die politieke wêreldorde wat die seeroetes bestendig, sal voortduur.
Globalisering van die afgelope 20 jaar het gekom danksy die VSA se dominansie van die seë. Waarborge vir die voortbestaan van die heersende orde in die Stille Oseaan is daar nie egter nie.
Vanaf die 1980's, toe die Amerikaanse Vloot met 600 oorlogskepe gespog het, het die aantal ná die val van die Berlynse muur, afgeneem na 350. Vandag besit die VSA 284 sulke skepe.
Dié aantal mag kortstondig styg na 313 as die Vloot sy kusbewakingskapasiteit opskerp, maar koste-oorwegings en diensjare gaan veroorsaak dat ouer vaartuie uitgefaseer sal word.
Om Amerika se seemag te bestendig sal die land ten minste 350 vaartuie benodig, volgens 'n onlangse amptelike verdedigingsoorsig, maar hulle sal met 'n 100 minder tevrede moet wees. Meer nog as grondmagte, projekteer 'n vloot en lugmag dominansie.
Die pax americana word daarom tans op alle terreine uitgedaag, maar die Stille Oseaankom se wapenwedren, is die een om van kennis te neem.
Dit is nie 'n laegraadse grondmaguitbreiding nie, maar konsentreer op veral duikbote, aanvalsvaartuie, vegvliegtuie en kubervaardighede.
China het hulle aantal duikbote vermeerder van 62 na 77, 'n kwalitatiewe sowel as kwantitatiewe verbetering op die VSA s'n. Hulle het ook seker gemaak dat hulle vyfde generasie vegvliegtuie aanskaf.
Dié aankope het daartoe gelei dat Viëtnam, Maleisië, Indonesië en Singapoer ook duikbote bestel het. Omdat verbeteringe in en die koste van missieltegnologie oorlogskepe kwesbaar maak, kry duikbote voorkeur.
Australië, met 'n skamele 23 miljoen mense, gaan binne die volgende twee dekades 'n yslike $279 miljard aan duikbote, aanvalsvaartuie en vegvliegtuie besteë.
Militêre moderniseringsplanne is insgelyks deur Japan en Suid-Korea onderneem. Asië in die geheel, gaan na raming teen 2030 soveel as 111 duikbote onderhou, volgens AMI International, 'n skeepsbouernavorsingsgroep.
Die noodgedwonge Amerikaanse besnoeiing vanweë hulle staatskuld en die gepaardgaande afskaling van die F-35 program en vlootuitbreiding, het Amerikaanse oorheersing in die Stille Oseaan gedoem.
Voorkeurhandelsooreenkomste, uiteraard, sal dus in die toekoms hersien word. So ook politieke verhoudings.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





