praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar Manuel se groot sprong voorwaarts

Manuel se groot sprong voorwaarts

E-pos Afdruk PDF
Waarmee het die Nasionale Beplanningskommissie (NPC) hulself vir die afgelope 18 maande besig gehou?: Die Nasionale Ontwikkelingsplan, dommie! Die dokument wat vir ons sê waarheen Suid-Afrika na 2030 oppad is, en wat ons moet doen om daar te kom.

Ons het 'n visieverklaring, en 'n plan wat die nege uitdagings wat deur die diagnostiese verslag geoormerk is, uitlig. En volgens die groep mense self, is hulle die beste en bekwaamste breine in die land. Die NPC lyk op die oog af soos 'n eg-Stalinistiese sentrale beplanningsliggaam, maar minister Trevor Manuel en sy 25 kommissarisse gaan ons blykbaar desnieteenstaande na die beloofde land lei.

Die deel waarin die meeste van ons, die uitgelewerde inwoners van dieselfde grondgebied as die beplanners, belangstel, is natuurlik die ekonomiese implikasies van die plan, want om 11 miljoen meer werksgeleenthede teen 2030 te skep, gaan nie kinderspeletjies wees nie. Die uitgelese groep ANC-beplanners is nie skaam om grandiose beloftes te maak nie.

Suid-Afrika se inkomstegaping soos dit tans daar uitsien, is die hoogste meetbare ter wêreld soos deur die Gini-koëffisiënt aangedui word. Dit meet statistiese verspreiding en is reeds in 1912 deur die Italiaanse statistikus Corrado Gini ontwikkel. Dit word gewoonlik aangewend as 'n instrument om ongelykheid van inkomste of rykdom te meet.

Die implikasie van sulke groot maatskaplike ongelykhede is dat Suid-Afrika op 'n onverkwiklike kookpot afstuur. Buitelandse waarnemers en eintlik almal wat waarde heg aan die Gini-skaal, hou dus die werksaamhede van Nasionale Beplanningskommissie met 'n arendsoog dop, want wat hulle betref is die ANC-Jeugliga eerder die simptoom - en nie die oorsaak soos dit voorgehou word nie - van gebrekkige bestuur.

Die Nasionale Beplanningskommissie se Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP) is glo die sleutel wat alle ekonomiese knelpunte gaan aanspreek.

Soos gewoonlik is die aanvanklike premisse van die hele oefening verkeerd, weens die taboe op enige verwysing na etnisiteit, taal- en kulturele verskil.

Die bloudruk wat voorgehou word, antwoord die vrae wat deur die diagnostiese verslag opgestel is. Te min mense werk? Voeg 11 miljoen meer werkers by die ekonomie teen 2030 en brei die vervaardigingsektor sodoende uit. Swak infrastruktuur wat ekonomiese groei belemmer? Gooi massiewe bedrae geld in die ontwikkeling van infrastruktuur. Standaard van onderwys in die algemeen swak, en meer so vir swartes? Verhoog die gehalte van onderwys.

Dis die gewone antwoorde waarna ons nou al meer as 15 jaar ononderbroke luister: 'n Ekonomie wat naby aan volle indiensneming funksioneer, bekwame en toegeruste indiwidue sonder etniese herkoms, taal of kultuur, en les bes, minder gekonsentreerde wit eienaarskap.

Die kommissie se siening is dat "gebruikers oor die lang termyn die grootste deel van die koste moet betaal, met die nodige beskerming vir arm huishoudings. Die rol van die regering en die staatskas is om die nodige waarborge te verskaf". Daar is darem 'n versluierde verwysing na ras in laasgenoemde stelling, want die wit melkkoei word weer eens uitgesonder.

Die plan is voorts om groter en meer doeltreffende stede te bou, terwyl die bou van 'n "inklusiewe" landelike ekonomie in die vooruitsig gestel word. Die ekonomie wat die beste geskik is om Suid-Afrika se ontwikkelingsbehoeftes te dien, is 'n arbeidsintensiewe een, volgens die beplanners. Verwoerd sou ten minste trots gewees het op só 'n insig!

Die debat oor die nasionalisering van die myne en die onteiening van grond sonder vergoeding, die twee sleutelkwessies, word uitdruklik in die dokument geïgnoreer.

Met die ekonomiese diskoers wat reeds gegiet is in die "wit rykes" en "arm swartes", in weerwil van DA-tenderpreneurs en groeiende Afrikanerplakkerskampe, behoef die "oplossings" van die NDP geen breinchirurg om te weet dat swart onderwys gaan aanhou sukkel, infrastruktuurbesteding in motoraankope gaan eindig en die staat die enigste werkskepper is danksy SEB en RA nie.

'n Bietjie herstrukturering van die regering, en 'n paar "onbekwame" ministers en Jeugligaleiers wat die deur gewys word en siedaar! Die uitdaging is egter hierdie keer ietwat groter: As die ANC op grondvlak asook die vakbonde nie inkoop in NPC se plan nie, is en bly dit 'n vermorsing van duur tyd. Ons het darem tot 2030 en 444 bladsye later om dit, tesame met verwonderde buitelandse ontleders, gade te slaan.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: