praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar Malema: Nagmerrie-scenario vir Zuma

Malema: Nagmerrie-scenario vir Zuma

E-pos Afdruk PDF
Anders as wat 'n paar goedgelowiges glo, is Malema se politieke loopbaan alles behalwe verby. Hy sal teen sy skuldigbevinding appelleer, soos hy reeds aangedui het.

Hy is dalk gestroop van die presidentskap van die regerende party se jeugliga, maar van sy gewildheid allermins. Dit was gister opmerklik dat talle swart Suid-Afrikaners aandagtig na die tugverhoor se bevindinge geluister het en met teleurstelling op die uitspraak gereageer het.

Zuma mag dalk meen dat hy deur sy optrede gesorg het dat hy sy tweede termyn kan verseker, maar al het die president die veldslag gewen, het hy die oorlog verloor. Jong swartes gaan Zuma toenemend beskou as 'n wit lakei, 'n kragtige idee wat vir Malema se gewildheid gesorg het.

Meer onheilspellend, is 'n direkte uitdaging aan die leierskap van president Jacob Zuma, want Malema het intussen belowe om die stryd reguit na die ANC se verkiesingskonferensie in Bloemfontein te neem.

"Laat die vyand dit geniet, maar die oorwinning sal nie blywend wees nie. Ons sal bevry word deur Mangaung 2012,'' het die uitdagende jeugligaleier, gister belowe.

Die oënskynlike verdelingslyne binne die ANC oor ekonomiese beleid, nasionalisering, en die riglyne van die Freedom Charter, sal die geskil ongetwyfeld in die regerende party se konferensie indra, waar Zuma verwag om herverkies te word.

Want die ware dryfveer is stamgebondenheid, met KwaZulu-Natal wat heel voorspelbaar die middelpunt is. Aangesien hierdie provinsie se ANC-lidmaatskapgetalle van 100 000 tot ongeveer 240 000 met Polokwane die hoogte ingeskiet het, is daar 'n sterk Zoeloekomponent wat die ander stamme onrustig laat. 

Benewens Malema se jeugdige aantrekkingskrag vir die massas, is hy ook nie 'n Zoeloe nie.

Malema se eerste stap sal wees om die ANC se nasionale dissiplinêre appèlkomitee te nader, onder voorsitterskap van Cyril Ramaphosa.

As sy appèl nie slaag nie, kan hy steun van die lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee monster om die dissiplinêre komitee opdrag te gee om sy vonnis te hersien.

As hy nie genoeg ondersteuning van die uitvoerende gesag vir 'n hersiening kry nie, sal Malema se loopbaan in die ANC verby wees. Soos een ontleder dit stel, sal dit 'n "nagmerrie-scenario vir Zuma wees" indien die ANC se uitvoerende gesag besluit dat Malema se toekoms deur 'n stemmery by Mangaung bepaal moet word.

Die kritieke vraag is of Malema genoeg steun by lede van die ANC-uitvoerende gesag sal kan bymekaarskraap. Die valbylkwessie is en bly die nasionalisering van Suid-Afrika se myne, 'n uiters gewilde tema in die plakkerskampe.

AgriSA het reeds toegegee dat grondhervorming nodig is en daarmee die boere se grond aan die ANC oorhandig. Lindiwe Mazibuko het dit goed begryp. Die grondvraag is nie meer op die tafel nie. Die myne se toekoms wel.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: