Wat die Amerikaners van die DA dink, is waarskynlik die rede vir die besluit om die party in 'n swart party te verander. Dat lofwaardige teorieë oor die werklikheid mag verskil, is egter nie vir die immer jong gesig van die opposisie 'n uitdaging nie.
Helen Zille het haarself reeds begewe in die stryd om die magiese sentrum wat die VSA graag in Suid-Afrika verwesentlik wil sien.
In 2007 het Donald Teitelbaum, die Amerikaanse ambassade in Pretoria se charges d'affairs, 'n vertroulike verslag geskryf waarin hy Zille as die voorkeurkandidaat vir die party uitsonder. Dié verslag is intussen deur WikiLeaks gelek.
In die verslag skryf Teitelbaum dat die DA hoop om 'n vars gesig en 'n nuwe strategie aan te bied wat deur rassegrense sal breek sodat die party meer relevant, nie net as 'n ANC-waghond nie, maar as 'n lewensvatbare politieke alternatief vir alle Suid-Afrikaners kan word.
Die Amerikaanse gesant konstateer dat die land se politieke stratifikasie grootliks op ras gegrond is, en dat die DA daarom nie in staat is om meer as 12 persent van die kiesers te lok nie.
Die Amerikaners het in 2007 kennelik reeds gehoop dat Zille, wat Kaapstad se "brose koalisie" vir meer as 'n jaar aan die gang gehou het, ook dieselfde met Suid-Afrika kan vermag.
Wat hy natuurlik nalaat om te noem, is dat die Vryheidsfront eintlik vir daardie "brose koalisie" se balans gesorg het met die pos wat die Speaker, 'n lid van die VF+, beklee het en dat die DA elke pro-Afrikaanse mosie ondermyn het om die ANC tevrede te hou.
In Teitelbaum se lowende, maar gebrekkige voorstelling is Zille "verreweg die beste kandidaat van die DA en die opposisie as 'n moontlike samewerkingsvennoot in die regering".
Duidelik was die skuif om die party te verswart al in 2007 in die vooruitsig gestel, want Teitelbaum sê voorts: "Die DA se langtermyn-doelwit van die verbreding van sy steunbasis berus op Zille se prestasie en partybeleid en praktyke. Tot nou toe, was die DA 'n hoofsaaklik wit bastion."
Konserwatiewe blankes wat nie welkom voel binne die ANC se groot tent nie, is deur Zille na die DA gelok, merk Teitelbaum op. Die party het 'n liberaal-demokratiese kern, maar al hoe meer konserwatiewe voormalige lede van die Nasionale Party sluit aan.
Volgens die voormalige DA-LP Raenette Taljaard, is 'n hewige stryd aan die gang agter die skerms tussen die "liberale (wat beperkte staatsinmenging wil hê en meer verwant is aan libertariërs in die VSA) en konserwatiewes van die voormalige Nasionale Party".
Dié voorstelling van 2007 en Taljaard is natuurlik suiwer aangedik vir die Amerikaanse gehoor en het geen basis in die werklikheid nie. Dit was 'n kwalik bedekte manier om die Afrikanerstem in die DA as problematies vanuit 'n ideologiese hoek te skets.
Die werklike probleem was en bly steeds die kulturele onderbou tussen patriotte (Afrikaners) en internasionaliste (Engelse), wat onder 'n dik laag liberale Amerikaanse neocon-speak verberg word. Taljaard het haar opleiding en politieke styl in die VSA opgedoen, terloops.
Hoewel Taljaard destyds geglo het die party moet verdeel in dié rigtings as dit vinniger wil verswart of dan "oorleef", het dit nogtans tot Teitelbaum deurgeskemer dat tendensieuse Amerikaanse politieke filosofieë ironies genoeg, nie werklik resoneer met die meeste swart Suid-Afrikaners nie. Ten minste nie op die Westminsteragtige manier waarop die DA dit bedryf nie.
Dat Malema die toneel sou binnehaas, om kwessies te opper wat vir swart kiesers uitstekend klink, en dit die fokuspunt van die politieke diskoers te maak - weer eens op 'n uit-en-uit rassegrondslag - het die probleem vir die DA verdiep. Hulle sal noodgedwonge 'n swart party móét word om te kan oorleef.
En nie alleen 'n swart party nie, maar ook 'n veel linkser party. Die gonswoord "representivity" oorheers die Suid-Afrikaanse politieke toneel. Die woord kon net sowel "ras" of "swart" gewees het en gaan nie binnekort van enige belangrikheid vir 80% van die land se kiesers gestroop word nie.
Die gesant waarsku in sy communiqué juis dat nog 'n bydraende faktor tot die DA se swakheid in die lok van kiesers, hulle stilswyende goedkeuring van die ANC se neoliberale ekonomiese beleid is, een van die ANC se grootste swakhede onder die ontevrede lede van sy eie koalisie aan die linkerkant.
Teitelbaum beveel aan dat Zille voortgaan met haar party se rol as 'n regeringswaghond, met 'n vriendeliker gesig, die een wat bereid is om saam te werk, eerder as om "terug te veg". Hy noem Leon se gewilde slagspreuk, wat duisende Afrikaners na die DA gelok het, neerhalend 'n "rampspoedige politieke veldtog".
Duidelik voel die Amerikaners dat die Afrikaners geen plek in die party het nie en 'n remskoen vir groei verteenwoordig.
"Deel van die blaam vir die DA se onvermoë om vordering te maak, moet ook rus by die ANC," skryf hy voorts, omdat hulle in terme van "ras-identiteit" dink. Hy sonder die mense van Khutsong uit as 'n perfekte voorbeeld. Mense brand huise van die plaaslike ANC-leiers af om ontevredenheid uit te spreek, eerder as om hul stemme by dié van die opposisie te voeg, kla hy.
Gegewe die DA se wit kiesers, tesame met wit emigrasiepatrone, meen Teitelbaum dit is onwaarskynlik dat Zille in staat sal wees om die DA se lidmaatskap genoeg hupstoot te gee om die ANC om die mag op nasionale vlak enige tyd in die nabye toekoms uit te daag.
Zille het duidelik besluit dat sy oor die nodige vernuf as politikus beskik en het haarself gewend tot sogenaamde "race-baiting" of rasuitlokking waar sy haar swart teenstanders as "Verwoerdiane" uitdaag sodat sy meer swart as die swartes kan lyk.
Soos Europese gesante in hul stomme naïwiteit glo, dink die Amerikaanse gesante insgelyks daar bestaan 'n politieke sentrum in Suid-Afrika wat nie van ras omgewe is nie. Zille se aapstreke om buitelandse verteenwoordigers onder hul wanindruk te hou, is reeds in volle swang.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





