Zille maak geen beswaar dat Mazibuko, die party se nuwe parlementêre leier en haar eie melanienryke buikspreker, swart stemme moet gaan werf nie. Mazibuko self, is so deeglik bewus van haar opgelegde taak dat sy die media daaroor ingelig het.
Die aanbiddende swart student, wat Zille as die onderwerp vir haar honneursgraadverhandeling gekies het, se ooglopende meriete tot dusver was dat sy nie teëpraat nie.
Mazibuko se enigste ander kwalifikasie vir die werk is ongelukkig haar swartheid. Die honneursgraadverhandeling is 'n verleentheid van sikofansie en haar gebrek aan ervaring vir die pos selfverklarend genoeg om die DA se aanspraak op kleurblindheid vir goed te begrawe.
Joe Seremane, die DA se voormalige federale voorsitter wat as 'n gefrustreerde man twee jaar gelede afgetree het, het ses jaar op Robbeneiland deurgebring, Mazibuko vyf in 'n privaatskool in Durban.
Tony Leon het destyds self die opmerking gemaak dat die ou maar hopeloos is, maar hy is nogtans swart en gekant teen die ANC en dit pas die DA goed. Kennelik is die algehele kleurblindheid al lank reeds onder verdenking in daardie party. Zille het haarself egter oortref met die wisselvalligheid van die kwaal.
Die DA is, soos enige wetsgehoorsame maatskappy deesdae, 'n regstellende-aksiewerkgewer. Behalwe dat die party se samestelling werklik nog nie na behore reggestel is nie. Ken Owen stel dit omonwonde so in vandag se Business Day.
Owen meen Suid-Afrika sal beter vaar as die land gesuiwer word van sy "wit regse opposisie". Sy oproep kan gesien word as 'n vermaning aan Zille om haar Afrikaanse kiesers uit Solidariteit se stal vaarwel te roep.
Jare gelede, het Zille tewens verklaar dat sy dit nie sal aanvaar as universiteitstoelating op meriete geskied nie want dit sal beteken dat die Universiteit van Kaapstad se Mediese Skool meestal deur wittes en Indiërsbevolk sal word.
Sy het hopeloos te lank getalm om die DA te transformeer. Om nog tien jaar te wag vir 'n lowende proefskrif, of gepigmenteerde meriete, sal die "demokraties" in die party se naam nie gestand doen nie.
Voorwaarts na Leeuwenhof!
| < Vorige | Volgende > |
|---|





