praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Donderdag, 11. Maart 2010

Bygewerk op:08:28:58 PM GMT

Jy is hier: Menings Kommentaar
Facebook Twitter Digg Delicious Stumbleupon Google Bookmarks RSS Feed 
Aantal kere gelees: 4314

Hoofartikels

Weet die linkerhand....?

E-pos Afdruk PDF

Vanaand voer pres. Jacob Zuma na verwagting samesprekings met bekende Afrikaners en Afrikanerorganisasies. Buitengewoon baie is op die spel.

Dié samesprekings volg kort op die hakke van ‘n nuwe nuusstorm wat Zuma se aangewese kroonprins, Julius Malema eiehandig veroorsaak het. Dié hofnar loop hom nou minstens tien klagtes van haatspraak op die lyf.

Soos gebruiklik is die werklike probleem nie dat Malema dit sê nie, maar dat die ANC laer om hom trek.

Aanvanklik is ontken dat Malema sekere woorde kwytgeraak het, maar die SABC was braaf genoeg om aan te dui dat dié instelling beeldmateriaal het wat aandui dat hy dit wel geuiter het. Die ANC se reaksie was om te ontken dat dié bevrydingslied haatspraak behels.

Die media wys egter daarop dat die ANC die lied reeds in 1993 verbied het.

In die proses het Malema nou die minister van polisie, Nathie Mthethwa, effektief gerepudieer nadat die minister op lange laas plaasmoorde baie gekwalifiseerd veroordeel het. Mthethwa het politieke partye gevra om nie politiek van plaasaanvalle te maak nie, maar hieroor steek sy eie party nou vir hom ver tong uit.

Zuma is egter ‘n ervare Houdini. Pas het hy weer die ongeneentheid met Solidariteit se misdaadveldtog in ‘n geleentheid omskep om dié vakbond met mooi woorde ‘n rukkie lank te pasifiseer, en selfs om lof aan Zuma toe te swaai.

Gaan Zuma dit vanaand weer regkry?

Dié keer is die teerling, wat die publiek betref, egter gewerp. Zuma mag dalk vanaand die afvaardiging met sy bekende sjarme om sy pinkie draai, maar in die oë van die publiek gaan die samesprekings net nog hol woorde wees as Malema nie onomwonde vasgevat word, en die probleem op ‘n manier blywend aangespreek word nie.

In ‘n sekere sin bevind Zuma hom nou tussen die duiwel en die diep blou see, en sekere mediagroepe bespiegel kliphard oor tekens dat die president se uurglas binnekort leeggeloop gaan wees.

Zuma het inderdaad nie net te kampe met, wat Jakes Gerwel en Max du Preez verregsing noem nie, maar ook groeiende verset aan die teenoorgestelde kant van die politieke spektrum waar Comrade Winnie haar mond uitspoel. Die verregsing is in ‘n groot mate die resultaat van Malema se ongetemde losbekkigheid, terwyl ander groeperings hul pond vleis begin opeis na Zuma met beloftes Kersvader gespeel het.

Zuma besef ook dit is nie meer so maklik om Malema vas te vat en sodoende polarisasie in die land te help temper nie. Waarnemers wys al ‘n geruime tyd daarop dat Malema se radikalisme ‘n breë stroom onder die swart jeug verteenwoordig. Malema self is dus nou net die oortjies van die seekoei.

Tog het Zuma in die praktyk nie vanaand ‘n keuse nie. Geen Houdiini-toertjie om Malema te laat loskom gaan meer goed genoeg wees om polarisasie te stuit nie.

Zuma moet duidelik sy voet neersit, én dit bedoel, en daar moet sigbaar van werk gemaak word. As hy nie die ruggraat hiervoor het nie, moet hy plek maak vir iemand wat wel ernstig oor die land se toekoms voel.

Afrikaners: Na wie het die ANC geluister...

E-pos Afdruk PDF

Na wie het die ANC geluister wanneer hy gemeen  het hy na die Afrikaner geluister het?

Die vraag kom op toe ek mnr. Gwede Mantshe se reaksie op ‘n artikel van prof. Herman Giliomee lees. Mantashe klim onder Giliomee in en kritiseer verskeie van sy stellings.

Toevallig het ek self Giliomee se artikel gelees, en bykans volkome gehou van wat ek gelees het. Ek het die artikel heel duidelik met ‘n ander bril gelees as waarmee Mantashe daarna gekyk het.

(Ek, ‘n nr. 2 apteekbril, en Mantashe blykbaar ‘n donkerbril).

Die eerste waar ek meen Mantashe mistas, is dat hy ras inlees in aspekte waar Giliomee self nie ras bedoel het nie, en tweedens lei Mantashe aan die skeet om die rassisme in eie geledere mis te kyk. Byvoorbeeld, noem Mantashe, glo hy en die kaders om hom Suid-Afrika se ekonomie is groot genoeg om vir alle opgeleides, ongeag ras, volledig plek te kry.

Maar die polisie, onder regstreekse beheer van die ANC-beheerde regering, gaan appelleer teen ‘n arbeidshofbevinding wat juis rassisme in die weiering van bevordering van ‘n vroulike polisiekaptein bietjie in die bek ruk. Die arbeidshof gebruik internasionale norme, onder meer soos gemanifesteer is in ‘n New Hampshire-saak in die Amerikaanse Supreme Court. Die afleiding dat die polisie, en dus die ANC, die eintlike rasbeheptes is, is dus nie sommer ‘n plaaslike persepsie van “die (wit) Afrikaner” nie.

Die ANC is ook blind (of met baie donker donkerbrille uitgerus) om nie te kan begryp hoekom dit onvanpas is om internasionale sokker in ‘n stadion vernoem na die belangrikste eksponent van die slagspreuk, “kill the Boer, kill the farmer” te speel nie.

“Woon die verskillende rasse in dieselfde land?” wonder ek toe ek vandag so vinnig die oog laat gaan op die kommentaar op ‘n rubriek van Die Burger se redakteur, Henry Jeffreys. Jeffreys het naamlik ‘n ligte blapsie oor die nasionale belastingverenigings se trustfondse  Sondagaand op RSG se Kommentaar na ‘n rubriek oorgedra, en daarmee skynbaar die grootste sluis moontlik van helse kritiek oopgetrek.

Behalwe dat Jeffreys ‘n regsuitleg bietjie vooruit geloop het, het hy in die slaggat getrap om die minister van Samewerkende Regering se voorbeeld te gaan volg en ras te gaan soek waar ras nie die bepalende saak is nie, maar swak dienslewering en kleptokrasie, en die pligsgetroue belastingbetalers se absolute keelvolheid hiermee.

Die kern van die probleem is natuurlik dat ons mense is, en dat mense op hul persepsies van die werklikheid, eerder as die werklikheid self reageer. En persepsies word nog gans te veel gevorm teen geykte ideologiese groewe.

Kan ‘n land wat met dienslewering so in tamatiestraat is (eintlik loop iets anders gereeld in die strate af), of dit nou munisipale dienste is en of dit kerke is wat dikbek oor die nuwe prosedures vir huweliksbevestiging is, nog enigsins plek vind vir enige ander ideologie as dat daar nou so vinnig as moontlik die beste moontlike kundigheid ingespan moet word?

Verkieslik eerlike kundigheid met hoë vlakke van integriteit.

Maar so wil dit voorkom uit Mantashe se skrywe – hierdie soort stelling is nou juis weer rasgedrewe want dit “sê” swart mense is nie bekwaam en eerlik genoeg nie. Sou Mantashe en kaders so ‘n afleiding maak, dan wys dit net in hoe ‘n treurige toestand van vooropgesette idees die land vasgevang is. Want so iets is nie hier geskryf nie (gaan lees weer) en dis ook nie so bedoel nie (kyk weer).

En, mnr. Mantashe en kaders, geen mate van die hersirkulering van uitgevangde onbevoegdes of kleptokrate gaan die situasie verander nie. Al is hulle wit, en al is hulle nou ook wit lede van die ANC.

Kom ek herinner Mantashe en kaders aan ‘n gewilde sêding van die ANC, UDF en die liberaliste uit die pre-1994-bedeling: “Apartheid is so boos, dit kan nie hervorm word nie, dit kan net vernietig word.”

Dan pas ek dit by vandag se omstandighede aan: “Onbekwame en skelm kaders kan nie deur herontplooiing bekwaam en eerlik gemaak word nie, hulle kan net afgedank en vervolg word om die land weer te laat werk.”

Onlangs het Pieter-Dirk Uys soos ‘n tipiese agteros (of koei in die gedaante van miesies Evita) in die kraal ingestrompel gekom en ‘n afgesaagde deuntjie kom opdis: Ignoreer Malema.Antie, baie ander het dit al hoeveel keer tevore gesê, maar hulle dan vasgeloop in die realiteit dat dit nie so maklik is nie, want, so blyk dit, die kroonprins verteenwoordig sentimente van ‘n breë spektrum van die jeug.

En toe gebeur ‘n vreemde ding. Ek gaan kry nogal meer respek vir die SAKP se jeugleiers wat Malema kortvat, as vir die ANC se jeug, wat beteken my dunk van die SAKP-jeug is so ‘n titseltjie meer as my respek vir Max (die een met die baard), wat weer ver onder Kevin Pietersen is, voor ek by die mense begin kom vir wie ek al amper respek het.

Net so sou ek graag wou sê ons moet ons tog nie steur aan die sentimente wat Mantashe opper nie. Maar om dit te ignoreer is om met ‘n mens se kop in ‘n lugkasteel en mens se stert uiteindelik in die *&^ te sit. Boonop is daar ook enkele positiewe sentimente in Mantashe se artikel.

Maar voor ek myself vir ‘n toffie uitgee en dié positiewe elemente lys, wil ek eers een daarvan in die praktyk sien neerslag sien vind.

Terug by die vraag: “Na wie luister Mantashe en kaders wanneer hulle kers opsteek oor waaroor Afrikaners se harte warm klop, dat hulle so sleg ingelig, en eintlik oningelig is?”

Kort-kort word Bram Fischer as super-Afrikaner opgedis. Straat op straat word na Beyers Naudë vernoem. Nico Smith moet selfs nou weer taamlik die pot roer om te keer dat hy nie per ongeluk vergeet word nie.

Of is diegene wat so hoog opgegee het dat “ons sal jul stem wees” dalk meer verbaal as waarvan mens in die oopte kennis neem? Af en toe luister pres. Zuma na dr. Pieter Mulder. Maar as Mantashe so kwaad is vir Giliomee, het ek nie baie moed vir hoeveel die ANC na Mulder gaan luister nie.

Dit is blykbaar nie net die Afrikaners wat sukkel dat die ANC na die “regte” woordvoerders luister nie, ook die kerke sukkel om deur Zuma gehoor te word.

Selfs die SARK sukkel nou om gehoor te word, omdat die Prez voorkeur gee aan die National Interfaith Leadership Forum van past Ray McCauley. Mccauly se blatante politieke voortrekkery van Zuma is bekend.

En toe begin ek nou wonder: “Na wie moet die regering luister om die Afrikanerhart te hoor?”

Ek sal nie die ANC se “aanstelling” van iemand soos Bram Fischer aanvaar nie, ook nie eens omdat prof. Jonathan Jansen hom met sy intreerede as versoeningsgebaar teenoor die Afrikaner so geloof het nie. Mense wat in Stalin se tyd en die miljoene mense wat hy vredestyds vermoor het met die Komintern deurmekaar was, tel nie in my boekie as ‘n model-Afrikaner nie, nie eens met ‘n nadoodse doktorsgraad van Maties nie.

Oom Bey? Nee dankie. Ongelukkig is die meeste van my redes geklassifiseerd.

Antjie Krog? Selfs al het sy op skool van die uwe, toe ook ‘n skoolseun, gesê ek is aantreklik, moet ek verbyhou. Ek dink ook nie sy wil Afrikaners verteenwoordig nie, synde sy so “beg to be black.”

Max? Nee, die regte Max is ongelukkig ‘n paar jaar gelede in die Johannesburgse dieretuin dood.

En so gaan die lysie aan en aan.

Uiteindelik is my gevolgtrekking: Ek dink nie die ANC is toegerus om te besluit wie my Afrikanerbelange verteenwoordig nie. En dit het niks met ras te make nie.

Reaksie op Henry Jeffreys

E-pos Afdruk PDF

My reaksie op die redakteur van Die Burger, Henry Jeffreys, se rubriek oor die aksies van die Belastingbetalersverenigings. Ek wou dit as kommentaar by sy rubriek op die internet plaas, maar kon dit nie regkry nie, en so ook nie by sy blog nie.

Die howe moet nog finaal uitsluitsel gee oor waar die reg sy grense oor die “weerhouding” van munisipale belasting gaan trek. Prof. Marinus Wiechers is bekend daarvoor dat hy nie besonder simpatiek teenoor ‘n uitleg staan dat die Belastingbetalersverenigings se regsprosedure, soos die verklaar van ‘n dispuut en die betaal van die fondse in ‘n trustrekening, regmatig is nie. Tog het die verenigings al verskeie hofsake gewen, oa ook in die Vrystaat, waar munisipaliteite gedwing is om hierdie “wanbetalers” se kragtoevoer (wat volledig betaal is) te herstel.

In die grondwethofsaak van Walker versus City Council of Pretoria is, eenvoudig gestel, in die meerderheidsuitspraak beslis dat die burger nie bloot die wet kan verbreek as die staat die grondwet oortree nie. Die burger moet eers ‘n regsoptrede volg soos om die howe te nader om die staat te dwing om die grondwet nie te skend nie. (In die omgewing wat natuurlike geregtigheid klink dit vreemd dat ‘n hofsaak nodig is om te keer dat die staat nie die grondwet skend nie, maar daar was ‘n rits soos SA-burgers e belange in Zimabbawe. Vrystaat landbou is nou op pad hof toe met die regering oor veral versuim om die Lesothogrens behoorlik teen oorgrens-misdaad te verskans).

Die Pretoria-saak se belangrikste bevinding was egter ook dat ‘n munisipaliteit ook nie op grond van ras mag diskrimineer nie.

Nie almal het egter die fondse om hulle op die howe te beroep nie. Prof Herman Gilliomee het onlangs in ‘n artikel ook gewys op die vertolking wat die ANC aan die sg Hoofstuk 9-liggame heg, wat in effek neerkom om as verlengstukke van die ANC te dien. Ek tel onder diegene wat ruim meer as ‘n dekade op die Openbare Beskermer wag om ‘n finale verslag oor ‘n onreg uit te bring. In kort, min mense het nog geloof in hierdie instellings.

In die howe is die stryd gewoonlik baie ongelyk, met die staat wat kan aanjaag en die belastingbetalers wat moet opdok. Daar was enkele gevalle, maar hopeloos te min, waar die besluitnemers aan staatskant aangesê is om self die regkostes te dra. ‘n Veel regverdiger speelveld sal ontstaan as staatsaanspreeklikheid vir regskostes heeltemal onttrek word, en besluitnemers verplig word om regsaanspreeklikheidsversekering uit te neem. As die staat gedagvaar word, en die besluitnemer besluit om teen die advies van sy versekeraars die saak teen te staan, moet hy gewoon self sy regskostes dra as hy verloor.

Dit is agter te midde van hierdie ongelykheid dat getroue belastingbetalers in magteloosheid moet toesien hoe hul munisipale dienste ten gronde gaan, en geld vermors word. Terwyl ek gou ‘n bietjie navorsing vir hierdie antwoord gedoen het, het my oog geval op R100 000 wat ‘n erg sukkelende munisipaliteit (Ngwathe wat Parys en Heilbron insluit) op die begrafnis van ‘n raadslid gespandeer het. Ek kan by my voordeur uitkyk op ‘n mangat oorkant die straat waarvan die deksel weg is. As lid van ‘n munisipale wykskomitee (ek is nie lid van ‘n belastingbetalersvereniging nie) rapporteer ek dit al meer as twee jaar. Daar was al ‘n foto daarvan in die koerant, en die munisipaliteit moes al aan verskeie mense wat in onbedekte mangate geval het skadevergoeding betaal.

In die Karoo het minstens een Belanstingbetalersvereniging sy ding begin doen toe nog ‘n munisipale afvaardiging kort na voriges op pad oorsee was.

In verskeie dorpe is al munisipale dienste wat hoegenaamd gelewer word, dit wat die belastingbetalersvereniging uit die trustrekenings lewer.

Kort voor die algemene verkiesing het die aangewese, en nou Vrystaatse Premier by ‘n SALGA-kongres aangekondig dat korrupte en onbekwame burgemeesters en munisipale bestuurders afgedank gaan word. Hy is toe uitgelag. Sedertdien het die vreemdste goed gebeur, soos ‘n geskorste munisipale bestuurder wat elders as administrateur aangestel is waar die betrokke munisipaliteit onder administrasie geplaas is.

Berigte is volop waar belastingbetalersverenigings voor en na hulle dispuut verklaar het vrugteloos probeer afsprake maak het met die rade.

Uit briewe en berigte blyk dit dat die Nasionale Belastingbetalersvereniging ook van g’n sout of water weet van ‘n afspraak wat die minister sê hy met hulle het nie. Trouens, dit blyk eerder dat die minister hul pogings vir ‘n afspraak  ontduik, en selfs blykbaar ‘n kluitjie gebak het oor die rede waarom ‘n afspraak op baie kort kennis afgestel is (om ‘n Zuma-saamtrek te gaan bywoon).

Die hartseerste is dat die minister dit wys ag om ras by die kwessie in te sleep. Dit het onmiddellik die deur oopgelaat vir teenreaksies met rasse-ondertone, soos dat die (wit) belastingbetalersverenigings darem steeds hul belasting bly betaal, terwyl (swart) ontevredenes heeltemal nie betaal nie (wat blykbaar talle raadslede insluit want by Dihlabeng (Bethlehem en omgewing) sal die raad volgens die ANC self nie ‘n kworum hê as wanbetalende raadslede van vergaderings uitgesluit word nie). Die rasspeletjie kan ‘n entjie verder getrek word soos verskeie voorvalle van oproer, en waar daar deesdae weer taamlik lustig met rubberkoeëls geskiet word, al word nie met rubberklippe gegooi nie.

Die hartseer is dat ‘n moeder van hofsake soos die minister dreig, sake net sal vererger eerder as verbeter. Die oplossing is taamlik eenvoudig. Die ANC moet woord hou en van korrupte en onbekwame burgemeesters, raadslede en amptenare ontslae raak. Trouens, onlangs nog het Zuma en kie nukkerige burgemeesters weer mooi soos eendjies in die lojale ry gekry deur te dreig om van die stelsel van uitspattige burgemeesters ontslae te raak.

Dis nie altyd rade wat in ANC-beheer is wat sleg vaar nie. Die ANC het immers nie korrupsie uitgevind nie, net vervolmaak.

Intussen is dit ongelukkig dat trotse, lojale Suid-Afrikaners wat desperaat probeer keer dat die land ‘n volledige piesangrepubliek word, as verraaiers en misdadigers afgemaak word. ‘n Hofsaak (en mag die nodigheid daarvan deur gesonde verstand oorbodig raak) is nou al wat kan beslis of die trusfondsrekeningshouers werklik misdadigers is, en of hulle eintlik helde is wat deur gemeenskapspolitiek probeer beredder wat nog beredder kan word.

 

 

Bladsy 1 van 63