Jy is hier: Menings Kommentaar

Hoofartikels

Die omskop van ‘n holgevrete Afrikaans

E-pos Afdruk PDF

Afrikaans se grootste bedreiging kom van binne, meen prof. Hans du Plessis, direkteur van die ATKV se skryfskool in Potchefstroom.

Du Plessis ontken nie die bedreiging vanuit die geledere van die regering en ANC nie, maar meen dit is veel makliker om ‘n boomstomp om te skop wat van binne holgevreet is.

Hy gebruik die voorbeeld om in die ooste van Pretoria ‘n kleuterskool vir jou Afrikaanse kind te vind. Oral word verduidelik dit is veeltalig of dubbeltalig Engels, want oor ‘n paar jaar sal die kind nie meer in Afrikaans kan skoolgaan of werk nie.

Terwyl Afrikaanse musiek en literatuur blom – al laat die taalgebruik taalpuriste se bloed yskoud word, word die Indrafkafee op die platteland die Fast Food Cafe en die Altefraai-salon die Angie’s Beauty Parlour .

Du Plessis wys op die voorliefde wat Afrikaners so met elke eeuwending vir Engels ontwikkel, en meen dit geld nou weer.

Die spook, as’t ware, van Langenhoven se Wênderbaails loop weer.

Die internet word behoorlik oorstroom deur Afrikaans, maar daar skerm webmeesters wat omgee vir die vale: Gebruik tog ‘n goeie Afrikaanse speltoetser. Want dit wat opgedis word mag die mooiste klanke voortbring, maar die spelling doen die taal oneer aan. Kennis oor wat los, en wat vas geskryf moet word, het skynbaar heeltemal verdwyn.

Na maande se beplanning het ‘n Afrikaanse woongebied in Bloemfontein se inwoners hul GPF-borde gekry. Een van die ontvangers is ‘n dosent in Afrikaans, met die gevolg dat die borde eers teruggetrek moes word om die ergste spelfoute reg te maak. Die woorde wat vas moet wees, en wat los geskryf is, is egter net so gelaat omdat die herstelkoste te groot sal wees.

Dit mag wees dat ‘n gekibbel oor hoe die taal gebruik word terwyl die stryd om amptelike oorlewing en behoud as taal van hoër onderwys nog woed, die selfde soort luukse is as ‘n ter dood veroordeelde wat kibbel oor die kleur skoene wat hy met sy teregstelling gaan dra.

Ma’ check my mooi, my China, dis lekka groovy om dit in A-one Afrikaans te spin, ek sê.

Of moet miesies Wênderbail se vermaning aan die kinders wat in die agterplaas bietjie meer op die lot van Afrikaans toegepas word?: “ Children, come out of de after yard. You will tramp in de hounde strount!”  Of in Afrikaans: Moenie met die skoonste taal op Avbob se stoep speel nie.

Gekoring agter die stuurwiel

E-pos Afdruk PDF

Die Wes-Kaapse departement van vervoer het pas die kwessie van dronkbestuur, en die probleme wat dit teweeg bring, onder die aandag gebring. Sover vanjaar is 2 000 mense in dié provinsie vir dronkbestuur gearresteer, waarvan 96 die afgelope naweek. Altesaam 296 mense het dié jaar reeds op die provinsie se paaie die lewe gelaat, terwyl dronkbestuur en snelheid die twee hoofoorsake hiervoor is. Baie van die sterftes is ook die gevolg van dronk voetgangers, wat nie sonder meer voor die motoriste se deur gelê kan word nie.

Die 2 000 arrestasies vanjaar is effens misleidend, aangesien daar die vorige jaar meer as 12 000 dronkebestuurgevalle in die Wes-Kaap was. Met 242 gevalle per 100 000 van die bevolking, is die Wes-Kaap die provinsie wat meeste wetstoepassing op dié terrein doen. Limpopo met 31 per 100 000 is die provinsie wat die minste doen, terwyl die land se gemiddeld op 115 per 100 000 staan.

Uit aanvullende syfers soos padongelukke en die moordsyfers – wat immers ook dikwels drankverwant is – is dit duidelik dat dronkbestuur nie so ‘n unieke Wes-Kaapse verskynsel is nie, maar wel die vlakke van wetstoepassing.

Die Wes-Kaap se 242 per 100 000 is byvoorbeeld dubbel die Gautengse syfer.

Volgens die nie-regeringsorganisasie, Suid-Afrikaners teen dronkbestuur, word juis so baie dronkbestuur omdat daar so maklik mee weggekom word. Die organisasie gaan egter voort en beskuldig die howe van ‘n te sagte benadering, en dat dronkbestuurders veel laer boetes opgelê word as wat die wet voor voorsiening maak.

Ander faktore dra by tot die padsterftesyfer, soos padtoestande en die padwaardigheid van voertuie. Hoe knapper die ekonomie raak, hoe ouer word die gemiddelde ouderdom van voertuie op die pad.

Verskeie internasionale studies toon hoe groter ‘n land se inkomstegaping groei, hoe meer maatskaplike probleemtoestande ontwikkel, en is ‘n newe-effek dat die tronke voller word. Ook hierin speel drankgebruik ‘n rol.

Van die syfers sluit ook bestuur onder die invloed van dwelmmiddels in. Wat die kategorie dwelmverwante misdrywe betref, staan die Wes-Kaap ook hier kop en skouers bo die res van die land uit, met meer as ‘n 1 000 gevalle per 100 000. Ook hier is die syfer vir Limpopo besonder laag, naamlik 63, maar Mpumalanga met 46 per 100 000 is nog laer. Dit klop nie met die aanwesigheid van grensposte en die algemene gebruik van dagga nie.

En ook dié probleem verwoes lewens.

Laas Opdateer op Woensdag, 01 September 2010 09:10

Koppestamp van ideologie en nasionalisme

E-pos Afdruk PDF

Uit die opskrif sou maklik afgelei kon word hierdie kommentaar handel oor Suid-Afrika. Dit is egter België wat aan die bod kom.

België sukkel steeds om ‘n regering te vorm, lank nadat die Belge verkiesing gehou het. Die party wat die grootste vordering gemaak het, die N-VA, is ‘n Vlaamse party wat hom vir die onafhanklikheid van België beywer. Die Vlaminge maak bykans 60 % van die bevolking uit, en met ander partye, soos die Vlaamse Belang, wat ook onafhanklikheid nastreef, is dit op die oog af moeilik om te verstaan waarom dit so moeilik is om ‘n regering te vorm.

Die werklikheid is dat die verskillende partye en hul belange in Vlaandere mekaar goed opdreun, en dat die sosialiste in die armer Franssprekende Wallonië oorheers. Die leier van die Franstalige sosialiste, Elio di Rupo, is gevolglik deur die monarg aangewys om ‘n regering saam te stel. Sedertdien word gesprekke gevoer.

Dit is geen eenvoudige taak nie. Di Rupo kan op steun of gedeeltelike steun staatmaak van Vlaamse partye wie se fokus op iets anders as groter selfregering of onafhanklikheid gefokus is, soos die sosialiste en die groenes. Die Vlaamse Belang se ekstremisme laat dit ook effens geïsoleerd vir soverre die nasionale staat aanbetref.

Baie eenvoudig gestel, vir die Franstaliges is baie op die spel vir die behoud van die eenheid van België. Wallonië word jaarliks met enorme bedrae belastinggeld uit Vlaandere gesubsidieer om op ‘n gelyke ekonomiese vlak as die noorde te kom. Dit is egter komplekser, met talle Franstaliges wat hulle veral in die omgewing van Brussels in Vlaamse gebied vestig, maar dit ondenkbaar vind om te vervlaams soos wat in werklikheid vereis word. Hierdie verset lei daartoe dat daar groeiende Franstalige kolle in Vlaandere ontwikkel. Word Vlaandere onafhanklik, is dit bykans ‘n uitgemaakte saak dat hierdie mense sal moet vervlaams of trek.

Di Rupo waarsku nou dat België op politieke chaos afstuur. Bart de Wever, leier van die N-VA, verweer hom deur te sê uit die toegewings wat Di Rupo tot dusver gemaak het, is daar geen sekerheid dat Vlaandere en Wallonië onder die nuwe regering nog selfstandiger gaan word nie. Dit word veral bemoeilik omdat die onderhandelings alles mondelings plaasvind, terwyl hy alles op skrif wil stel. Hy wil nou ook eers bilateraal met Di Rupo gesels, sonder dat al sewe partye wat Di Rupo betrek het deelneem.

Die verskille is duidelik. De Wever meen België stuur op ‘n mislukte staat af as die land nie verander en Vlaandere en Wallonië nie meer selfstandigheid verwerf nie, terwyl Di Rupo se fokus is om België vir die 21ste eeu te bou. De Wever mag die grootste belangesteun hê, maar sy onderhandelingsplatform word geërodeer deur mense vir wie die staatkunde sekondêr staan tot ideologiese sake soos sosialisme of groen sake.

Intussen stuur die land volgens Di Rupo op politieke chaos af.     
Laas Opdateer op Dinsdag, 31 Augustus 2010 08:30

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL