Dit kan dan besigtig word op webwerwe soos www.vpike.com.
Veral in SA is dit 'n omstrede kwessie, omdat kriminele die inligting kan misbruik om misdaadbeplanning mee te doen.
Wat nou op die lappe gekom het is egter veel meer kommerwekkend. Die sogenaamde "Google Streetcars", oftewel motors met gemonteerde kameras wat op en af in ons strate ry om die fotos te neem, is stilletjies met WiFi netwerkafluisterapparaat toegerus.
Terwyl die Google Streetcar stadig in die strate op en af ry, word inligting terselfdertyd ingesamel op mense se private draadlose netwerkstelsels. Die toerusting lees die naam (SSID) van die draadlose netwerk, sowel as MAC adresse van die 'router' en rekenaars daaraan gekoppel. Die Google spioenasie-apparaat probeer om op netwerke in te kom, en is gewoonlik suksesvol as die router se enkripsie en brandmure afgeskakel is.
Waar die router se sekuriteitvlakke laag was (geen enkripsie) het Google dan inligting gegaps en geberg, bv eposse wat mense gestuur het, kommentaar wat gelewer was op Facebook, blogs en webwerwe.
In Australie, Hong Kong, die VSA en verskeie lande in Europa is daar tans 'n hengse storm aan die broei oor wat presies Google met die inligting wil aanvang. Hong Kong het Google vir etlike maande verbied om rond te ry, en het hulle nou gedwing om die onwettig-bekomde inligting uit te vee.
Soortgelyke inisiatiewe is van stapel geloop wereldwyd. Eers het Google dit ontken, maar het later beken en jammer gesê nadat hulle op heterdaad betrap is.
Google se verskoning is tweeledig. Ten eerste hulle probeer wifi routers identifiseer sodat dit as 'waypoints' gebruik kan word om selfone en mobiele rekenaars se koordinate mee te bepaal; en ten tweede hulle het kastig "per ongeluk" die programmatuur ingesluit in hul afluister-apparate wat dan mense se persoonlike inligting versamel.
As IT-deskundige het ek al op verskeie geleendhede skynbaar nietige, onbenullige dinge opgemerk wat Google aanvang, wat opsigself nikkseggend is, maar in die groter perspektief uiters kommerwekkend kan wees. Google maak dit bv baie moeilik om eposse wat met Gmail gestuur en ontvang is, uit te wis.
Hulle bied 'n massale Gmail kapasiteit aan – 7 tot 10Gb per epos rekening, heeltemaal gratis.
Hoewel mens kan inlog op jou web-gebaseerde Gmail rekening en epos uitwis, maak hulle dit baie moeilik om te doen. Self gebruik ek Outlook om my Gmail-rekeninge te hanteer, maw epos te stuur en af te laai via Gmail. Jy kan Gmail stel om nie epos wat gestuur is of ontvang is, te berg nie maar om dit eerder dadelik uit te wis. Gaan loer egter 'n rukkie later en jy sal sien al die posse sit steeds daar, en moet met moeite uitgewis word. Gmail steek selfs die "deleted items" leer weg en jy moet soek daarvoor as jy hom wil leegmaak.
Begin jy om epos uit te wis, kom 'n Gmail boodskap op dat dit nie nodig is om jou eposse uit te wis nie, omdat jy so baie stoorspasie het! Ekself het derduisende posse in my inbox en sent items, maar kan slegs 100 eposse op 'n slag uitwis – met groot moeite en tydsame gesukkel.
Vra jouself af – wat wil Google met jou epos maak? Die antwoord is dat hulle "bots" (klein inligting-versamelingprogammetjies) stuur deur jou epos, om te lees en data te versamel deur sekere sleutelwoorde te identifiseer.
Databasisse word dan geskep op gebruikers, die onderwerpe in hul eposse, epos adresse word gekollekteer en gebêre.
Netwerk-verbande word dan geskep tussen mense wat met mekaar korrespondeer, wat dan deur forensiese analiseprogramme gejaag word om sosiale verbintenisse te ontbloot. Dis alles goed en wel, maar kan ons Google glo dat hulle slegs die inligting gebruik en aanwend om demografiese profiele te skep vir uitsluitlik bemarkingsdoeleindes? Wat as Google die inligting beskikbaar maak aan regerings wat om hul beurt dit wil aanwend om politieke teenstanders lam te lê? Kan Google hiermee vertrou word?
Google se korporatiewe slagspreuk is "Do No Evil". Hulle geskiedenis met betrekking tot bv Kommunistiese Sjina, waar hulle heel gretig saamgewerk het om Sjinese internet gebruikers te weerhou om polities sensitiewe webwerwe te besoek is skandalig en wys hoe maklik hulle die knie buig voor diktatoriale, totalitêre regimes.
Oor die jare het Google baie nikseggende dinge aangevang wat privaatheid-behepte mense die harnas ingejaag het. As mens egter al hierdie oenskynlik toevallige dinge in ag neem, vorm daar 'n groter prentjie wat lelike implikasies inhou. Google se jongste eskapades om op private huis- en kantoornetwerke te spioeneer is maar nog 'n rede om baie lig te loop vir hierdie Internet reus.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





