praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Friday, 10. February 2012

Bygewerk op:09:59:45 AM GMT

Jy is hier: Menings Briewe Die linie van my volk

Die linie van my volk

E-pos Afdruk PDF
My belangstelling in Afrikaner-volkskunde het so 20 jaar gelede ontstaan. Toe, nes vandag, was daar baie menings oor wie en wat 'n Afrikaner nou eintlik is. Ek merk toe dat al die verskeidenheid van definisies en beskrywings een ding in gemeen het: 'n politieke vertrekpunt. Die liberale Afrikaanse wou die volk definieer op grond van taal, die konserwatiewe Afrikaner wou die volk definieer op grond van ras. 

Volkskunde is die wetenskaplike studie van ons volk se etniese eienskappe en sluit in die ondersoek na volksherkoms, volksgeskiedenis, volkstaal, volkskultuur, ensomeer. In volkskunde word daar onderskei tussen dit wat 'n volksproduk is en dit wat 'n beskawingsproduk is. Met ander woorde, die maak van rieme is tradisioneel en 'n volksproduk, maar leerlooiery is 'n beskawingsproduk. Volksgeloof is spookstories, beskawingsgeloof is kerklike geloof.

Wanneer jy jou eie volk bestudeer, is die grootste probleem jou subjektiwiteit. Die groot voordeel is dat jy "binne kennis" het, jy weet hoe jou mense dink en voel. Daar is ook 'n tydsbeperking van toepassing. Die volk is deurgaans in 'n proses van verandering, wat vandag "tipies" is, is more verouderd. Die beskrywing van 'n etniese groep is dus gewoonlik van hoe daardie groep 'n geslag (sê maar 25 jaar) gelede was. Die mees onlangse beskrywing waarvan ek bewus is, is omstreeks 30 jaar gelede gedoen, dus beskryf dit hoe die volk 50 tot 60 jaar gelede was.

Daar is volkseienskappe wat streng gesproke beskawingsprodukte is maar wat wel 'n invloed het op ons eiesoortigheid. Byvoorbeeld ons kleredrag is vandag nie meer so formeel soos 50 jaar gelede nie en is ook, moontlik weens klimaat, sigbaar anders as wat populêr in Europa is.

Ek merk op dat daar veranderings in ons volk plaasgevind het sedert ek in die vroeë 1960's op hoërskool was. Dit wat toe 'n gegewe was, is nie meer so nie. Daar is veral drie terreine waar ek sulke veranderings opmerk.

Wanneer daar met Engelse (of ander Europeërs) ondertrou is, sê maar voor die Anglo-Boereoorlog, het die egpaar of verafrikaans of verengels. Toe ek op skool was, was dit nog so. Daar was 'n groot onderskeid tussen kinders in Afrikaanse en Engelse skole, ons het nie sosiale kontak met mekaar gehad nie en het gesukkel met mekaar se tale.

Die diensplig stelsel het dit verander. Jong mans is saamgegooi in dieselfde omstandighede en moes met mekaar klaarkom en saamwerk. Vriendskappe het ontstaan en daar is met mekaar se sussies ondertrou. Op 'n stadium het ek gemeen dat 'n derde blanke groep, Suid-Afrikaanse Blankes - wat nog Engels nog Afrikaans is – ontstaan het. Tog loop ek deesdae heelwat Engelssprekendes raak wat hulleself as Afrikaners beskou. Iemand het eenkeer gesê: We came with different ships, but now we are in the same boat.

Een van die unieke eienskappe van ons volk is familiale verweefdheid. Verlangs is ons almal familie van mekaar. 'n Tweede eienskap van ons volk is lotsgebondenheid: ons het 'n gemeenskaplike verlede, hede en toekoms. Vandag vind ons talle Afrikaners wat hulle bande met die volk verbreek, Engelssprekendes (veral die meer welgesteldes in die groot stede) wat nog steeds op ons volk neersien, maar dan ook Afrikaans- en Engelssprekendes wat hulle met ons volk identifiseer.

Ons stamouers het almal tot een stand, die middelklas behoort. Iewers in die loop van die 20 ste eeu het ons ook sosiale stande gekry: 'n laer klas, 'n middelklas en 'n hoër klas. Toe ek op skool was, was persone soos die dominee, die prokureur en die posmeester hoog geag en het hulle groot invloed gehad in die Afrikanergemeenskap. Kultuurorganisasies se leiers het die elite geword.

Dit het ook nou verander. Toe ons hierdie kultuur- en gemeenskapsleiers nodig gehad het om ons te waarsku teen die Nasionale Party se verraad, het hulle ons in die steek gelaat. Die hoër klas word nie meer gerespekteer nie. Die siening dat dominee of professor beter weet, is besig om te verdwyn. Oral hoor mens dat die volk niks wil weet van politieke- en kultuurorganisasies nie.

Terselfdertyd is ons arm volksgenote 'n groot kopseer. Hulle is nie net volksgenote nie, hulle is ook verlangs familie. Ons kan nie koud staan oor hulle lotgevalle nie, maar ons is ook magteloos en kan weinig vir hulle doen. Selfs al sou ons more selfbeskikking in 'n volkstaat kry, gaan dit nie onmiddelik die probleem oplos nie. Talle is swak geskoold en sal volwasse onderrig en opleiding moet kry. Ander se moed is gebreek en hulle selfrespek sal herbou moet word. Terselfdertyd sal ons in ons eie volk 'n ongeskoolde werksmag moet kweek van mense wat bereid is om huisbediendes en tuinwerkers te wees. Daar sal 'n denksprong by werkgewers en werknemers moet kom wat sulke werk eerbaar maak en waarin sulke werkers selfrespek kan hê.

In 1902 was 99% van alle Afrikaners waarskynlik lidmate van die susterkerke. Toe ek op skool was, was pinksterkerke reeds goed gevestig. Ry vandag deur ons dorpe en voorstede en jy sien kerke wat nie voorheen bestaan het nie. Waar die lidmaatsrekords van kerke vroeër 'n goeie aanduiding was van die volk se kerklike meelewing, is dit vandag nutteloos. Mense bedank nie formeel uit een kerk en sluit dan formeel by 'n ander aan nie, hulle stem met hulle voete. Daar is ook baie mense wat hulleself as Christene beskryf, maar uitdruklik sê dat hulle nie aan 'n kerkgenootskap behoort of wil behoort nie.

Neem ons die Angus Buchan-verskynsel in ag, lyk dit of Afrikaners se geestelike behoeftes nie voldoende in hulle kerke en deur hulle dominee's en pastore bevredig word nie. Kerklike tug het nie meer effek nie en mense het groot vryheid om te glo en doen soos hulle goedvind. Deur middel van die internet en boeke kom mense ook met idees in aanraking wat hulle aantrek. Lees ons verder die kommentare van Praag-lesers, hoor jy godsdienstige sienings wat vir jou vreemd is. Hoe beskryf mens die godsdienstige situasie onder ons volk?

Ek sou raai dat die meeste Afrikaners steeds protestants is en die beginsel van sola scriptura onderskryf. Ek kry ook die indruk dat daar 'n beduidende groep is wat wel ander literatuur hoog aanslaan en dit opbouend vind. Dit is duidelik dat tradisionele opvattings besig is om vervang te word met nuwe opvattings. Ons vind ook dat geestelike leiers vandag faal in hulle taak en dat daar 'n groot behoefte bestaan aan korrekte leiding wat ware behoeftes aanspreek.

Ons sal eers oor 25 jaar 'n meer betroubare beskrywing kan gee van hoe ons vandag is. Wat ons wel weet, is dat dit wat ons vandag dink, besluit en doen gaan bepaal hoe ons in die toekoms gaan wees. Daar rus op vandag se volwassenes 'n verantwoordelikheid ten opsigte van die kinders en ongebore nageslagte. Iewers in die toekoms gaan ons beoordeel word op grond van die hede. Gaan ons in ons volksaard groei en sterker word of gaan ons agteruitgaan en ons eiesoortige volksidentiteit verloor?

Hier sal elke een van ons standpunt moet inneem en dienooreenkomstig moet optree.

Ons Teudiese (Germaanse in die taalkunde) voorouers het 'n strydkreet gehad:

Kyk! Ek sien die linie* van my volk!

Kyk! Ek staan tussen hulle!

* "linie" is al die geslagte – van die vroegste tye tot in die verre toekoms.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: