Soos wat mens by mede-Afrikaners aan huis kom om hulle as kiesers te registreer, word mens soms gevra oor watter kwaliteite volksleiers moet beskik. Dit is 'n baie goeie vraag en iets om ernstig oor te besin.
Dit wil uit gesprekke voorkom of 'n leier se christelike beginsels vir meeste volksgenote belangrik is. Ek is nie seker wat daarmee bedoel word nie. Ekself sal nie belangstel in iemand se teologiese siening of kerkverband nie, dit sal vir my meer belangrik wees om te weet of hy of sy 'n Christen is wat sy of haar geloof in die daaglikse handel en wandel uitleef. Daar is die gevaar van vormgodsdiens en ek sou graag iemand wou hê, wat soos 'n Dawid van ouds, 'n “man na die hart van die Here” is.
Vroeër jare het mense nogal waarde geheg aan persone wat 'n dinamiese spreker is. Iemand met 'n mooi diep stem soos Dr Malan wat die volk kon inspireer en motiveer. Persoonlik verkies ek iemand wat verstandig en sinvol kan kommunikeer, sê maar soos Dr Verwoerd. Moses was 'n groot leier en nie 'n goeie spreker nie.
Omdat daar 'n groot verskil tussen teorie en praktyk is, verkies ek eerder iemand wat iets bou wat waterpas en haaks is bo iemand wat referate aanbied oor een of ander esoteriese onderwerp. Die persoon wat 'n oog het vir wat prakties uitvoerbaar is vir een saak, kan dit ook toepas op 'n ander saak.
Dit het te doen met die manier waarop iemand se brein werk.
Kipling het geskryf van “walk with kings, but don't lose the common touch”. 'n Leier moet tuis voel by gewone Afrikaners en gereeld by hulle aan huis kuier. Dit is by hulle eie huise waar mense gemaklik voel en openlik gesels oor wat hulle dink en voel. Die leier wat slegs meng met die vooraanstaandes skep die indruk dat hy neersien op sy eie volk. Daar bestaan ook 'n gevoel onder vele van ons mense dat die vooraanstaandes dink hulle is beter of slimmer as die res van die volk. 'n Doringboom van Waterberg is verkieslik bo 'n seder van Waterkloof.
Persoonlik verpes ek skynheiligheid, valsheid en oneerlikheid. Lieg eenkeer vir my en ek beskou jou as 'n gewoonte leuenaar. Ek het meer tyd vir 'n teertou wat opreg is as vir 'n laventelhaan wat vals is.
Natuurlik is 'n leier, soos die naam aandui, iemand wat voorloop en die voorbeeld stel. Die persoon wat net opdragte gee en dit self nie wil of kan uitvoer nie, wil 'n diktator wees. Dink aan 'n skaapwagter wat voor loop om goeie weiding te soek en uitkyk vir bedreigings.
'n Leier moet ook verantwoordbaar wees, hy moet ontslaan word as hy nie sy verantwoordelikheid nakom nie. Hy is immers die dienaar van die volk en is deur die volk aangestel.
In die verlede het ons passief toegekyk hoe politieke partye op hulle koukusse leiers kies en ons het geen inspraak daarin gehad nie. Die laaste politieke leier wat 'n volksleier was, was seker Dr. Verwoerd.
Hiermee wil ek almal uitnooi tot 'n sinvolle gesprek oor toekomstige leiers en leierskap. As ons nou reeds ons gedagtes in orde kry, kan ons goeie besluite neem wanneer die tyd kom om leiers te kies.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





