praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Briewe Eie koerant asseblief!

Eie koerant asseblief!

E-pos Afdruk PDF

Nou kan dit nie meer anders nie. Die Afrikaner moet ‘n eie koerant met ‘n Christelike inslag kry.

Nie die Konserwatiewe Afrikaanse Koerant nie. Nie oor die afkorting wat dit oplewer nie, maar omdat terminologie ‘n koerant se lewensvatbaarheid kan saboteer.

Die behoefte, besef ek vanoggend opnuut, toe ek ‘n rubriek in een van Naspers se dagblaaie lees. Die ou refrein van Christenskap en politiek skei.

Sonder om die debat oor te voer: In die kerk bely ons ons is nie net Christene terwyl ons in die kerk is nie, maar ons moet ons Christenskap na alle lewenssfere uitdra. Maar kom dit by die politiek, dan moet ons Christenskap in die kerk bly.

En so word die liberale politiek gedien, daardie skisofreniese filosofie wat dit moontlik maak dat ‘n mens in die kerk teen aborsies en gay huwelike gekant is, maar in die politiek is ons weer daarvoor.

En dit is die filosofie wat Naspers se koerante aan ons voorhou. Soms subtiel, soos om aalmoesies na ander partye te werp wat nuusdekking betref, maar as dit by standpuntinname kom, dan ervaar beide die Christen-Volkseie en die Christen-demokrasie maar stief behandeling van koerante wat hulself formeel as polities onverbonde verklaar het.

Is ‘n eie gedrukte koerant moontlik?

Die eerste vraag behoort egter te wees? Leef ‘n volk en sy tradisies as sy koerante, soos Jepete, die Sarie Marais-digter oor sy opponerende koerant geskryf het: “Afrikaner syn blad met jingoe syn gees...” aan die dag lê.

Sarie self gee aan die einde van die gediggie ‘n belangrike deel van die antwoord: “”Laat staan daardie ding, jy hou daar nie van.”

Kom ons betrag kortliks die praktiese.

Moderne tegnologie maak dit vandag moontlik om so gereeld as wat ‘n mens die kapasiteit en fondse het via die internet letterlik op ‘n lessenaar ‘n gedrukte koerant te produseer. Die drukkoste van ‘n koerant wat so gereproduseer word maak dit onlewensvatbaar.

Maar wat as daar ‘n sentrale redaksie is, wat ter aanvang weekliks ‘n koerant volledig op die internet maak en dat bestaande en nuwe gemeenskapskoerante dit bloot in hul omgewing kan “uitrol.”

Daar is miskien nou min sulke bestaande koerante op gedesentraliseerde plekke, maar in die Vrystaat versprei die Ditsem Vrystaat byvoorbeeld met ‘n sterk Orania-inslag. Daar mag dalk ander wees.

Elke gedesentraliseerde koerant werf steeds advertensies in sy omgewing, maar word aangevul deur nasionale, korporatiewe advertensies.

In Europa word ook gereeld gebruik gemaak van “publieke joernalistiek.” Die prinsiep is dat daar bykans oral, waar koerante nie streekkantore kan bekostig nie, mense met opleiding en selfs ervaring in joernalistiek sit, wat graag iets in druk sal wil sien. Met ‘n rekenaar, veral ‘n skootrekenaar, en selfoon, is elke kundige persoon potensieel ‘n mediakantoor. Met die selfoon kan foto’s geneem word, en met die rekenaar berigte geskryf en versend word.

So ‘n persoon kan sy eie “salaris” verdien deur in sy omgewing advertensies te bemark en die kommissie te hou. ‘n Meer waarskynlike scenario is dat die persoon, of sy haar eggenoot, ‘n sake-onderning het en dat advertensies as ruiltransaksies vir joernalistieke werk verkry word.

Alles ter wille van die saak.

Maar ter wille van die saak of nie, dit gaan steeds minstens ter aanvang, meer geld kos as wat ingebring word. En dis waar Sarie se raad so handig inkom. Los daardie ding.   

Dis nie goed vir jou gesondheid om elke oggend te sit en m*&r trek ook joernalistieke prul nie.

Waar ‘n koerant vir jou probeer wysmaak donkiedrolle is vye nie.

Sit daai geldjie weg, en as “die koerant” gelees moet word, gaan lees hom op die internet. As jy die koerantverkoper langs die pad jammer kry, gee hom steeds ‘n fooitjie, maar moenie die koerant koop nie.

Wanneer die geldjie wat weggesit is, die moeite werd is, betaal dit oor in ‘n trustrekening.

Intussen kan iemand die internet fynkam om te kyk waar min of meer lê die ontevredenes se mediaanverwagting van ‘n koerant. Dit gaan immers nie werk om iets wat onaanvaarbaar is met nog iets wat onaanvaarbaar is te vervang nie. Die mediaan sal waarskynlik min of meer lê waar Afriforum en Solidariteit nou lê.

Die web kan ondertussen bedryf word. Ek wil nie Praag moontlik teen sy sin probeer inbind nie, maar op die web wat as grondslag dien, kan solank ‘n lysie gemaak word van die adverteerders wat in die bestaande ongewenste koerante adverteer, sodat die ondersteuners kan weet welke besighede om nie te steun nie. (Ek gebruik aspris in hierdie konteks “besigheid” want ‘n “besigheid” bly steeds vir my die ding wat die hondjie op die gras maak... ‘n onderneming wat in ‘n goeie koerant adverteer is ‘n sake-onderneming).

Oor die nuusaanslag van so ‘n koerant wil ek my nie voortydig uitlaat nie. Wat ek wel wil sê is dat daar nie, soos in een van Naspers se koerante, ook daagliks ‘n stukkie uit die Koran in sal wees nie.

Ek wil ook voorspel dat so ‘n koerant se joernalistieke personeel (gesentraliseerd of wat ook al) nie die saamtrekpunt sal wees van mense in dieselfde geslag huwelike of met “lewensmaats” nie.

Ek wil ook voorspel dat so ‘n koerant nie in ‘n hoofartikel sal verklaar “aborsies in nie meer deel van die openbare debat nie” en daarna nie weer oor die twis hieroor berig nie.

Ek wil ook voorspel dat ‘n te groot vir sy skoene joernalis wat niks van ‘n onderwerp weet nie, nie toegelaat sal word om sy onkunde so ten toon te stel deur waardevolle redaksionele ruimte te kry om die groot honde wat wel iets van die onderwerp weet, aan te durf nie.

Voorts wil ek voorspel dat ‘n sportverslaggewer van hierdie koerant nie onderweg na ‘n groot rugbywedstryd by ‘n kroeg sal vasval, en as hy weer nugter is by sy buurman wat ook pas bygekom het, verneem wat in die wedstryd gebeur het en dan sy berig skryf nie. (So ver ek weet het die laaste van daardie spesie darem al so twee dekades gelede uitgesterf).

Ek wil ook voorspel dat so ‘n koerant soveel nuus gaan hê dat net ‘n fraksie in gedrukte vorm sal kan verskyn, en dat daar veral ten opsigte van briewe en meningsbydraes, ‘n oorwig steeds net op die internet sal kan wees.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: