Omdat Afrikaans en Nederlands al ‘n paar eeue min of meer hul eie koers loop, is verwarring in woordeskat te wagte. Soms met humoristiese gevolge.
As eerstejaar met ‘n Nederlandse voorgeskrewe boek in Stedelike Geografie het dit kopkrap gekos om uit te pluis die alewige “vaak “ in die handboek het niks te make met ‘n eerstejaar wat die nag sittend op twee bierblikkies deurgebring het, nie.
Of die Nederlandse besoekers aan huise wie se dogter in vervoering geraak het toe Sus se “fraaie” kat die vertrek ingestap kom. Haar ousus het haar uitroep oor die wandelende dier met ‘n harde, strategiese “kat!” gesmoor.
Of as mens lees van die Palestyne wat die Israeli’s so met “raketten” bestook.
Of selfs al die verskillende “versies” wat oogetuies van ‘n bomontploffing opdis.
Jare gelede het ‘n kennis van wyle Pa-Jan ‘n doktorsgraad in Nederland gaan doen, en terwyl hy daar was solank ‘n tikster aan die werk gesit om met die tikwerk te begin.
Fout.
Want die instansie wat die “hoofrol” in sy tesis gespeel het, is vernederlands, en het dus ‘n “hoofdrol” gespeel – iets wat in Afrikaans en Nederlands kwalik iets verbandhoudend kan beteken.
Dié staaltjie skiet my vanoggend te binne toe ek die volgende in Trouw te lese kry, waar die “d” toe wel sy Afrikaanse betekenis vervul:
Schadevergoeding na val door hondendrol
MARSEILLE (ANP) - Het stadsgewest Marseille moet een schadevergoeding betalen aan een vrouw die in 2001 uitgleed door hondenpoep op de stoep en daardoor een botbreuk opliep. Dit heeft het gerechtshof in Marseille bepaald.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





