Toe die Reitzvideo aanvanklik gedurende Februarie 2008 op die wêreldtoneel gebars het, het meeste Afrikaners gedink hier is slegs 'n geval van onsmaaklike studentepret wat effens handuit geruk het.
Die mediareaksie op die video het egter getoon hier is 'n senuwee oopgeboor wat die onsekere bestaan van die nuwe Suid-Afrikaanse orde wesenlik bedreig.
Soos die Reitz-4 sage voortsleep in 'n opvoering van politieke teater in sy mees absurde vorm, word toenemend besef dat die historiese omvang van die Reitz-4 sage nie meer onderskat kan word nie. Ons het hier 'n video wat die bodem uitruk uit die skyn en pretensies van die nuwe Suid-Afrika.
Die gebeurtenis in die Afrikaner se geskiedenis wat die naaste hieraan herinner, is die Slagtersnekrebellie amper 200 jaar gelede, wat die eerste Afrikanerdaad van openlike verset teen die Britse kolonialisme was en bygedra het tot die Groot Trek dekades later. Soos die Slagtersnekrebellie is die Reitzvideo 'n onsmaaklike voorval van groot historiese betekenis.
Soos met die Bezuidenhoutbroers voor Slagtersnek, het die Reitz-4 nooit die historiese implikasie van hul dade besef nie.
Hier is 'n voorlopige en onvolledige lys van die historiese implikasies van die Reitzvideo:
a)Vir die eerste keer sedert 1994 is openlik die spot gedryf met die absurditeite en skyn van die nuwe Suid-Afrika en sy politieke ideologie.
b)Die histeriese reaksie van o.a. die media, het gewys hoe onseker en bedreig die wit Suid-Afrikaanse establishment is oor die huidige sosio-politieke opset in Suid Afrika.
c)Die vreesbevange reaksie van organisasies van die ou Afrikaner establishment, wat vir een of ander rede verantwoordelik gevoel het vir die optrede van die vier studente. Die ironie is dat hierdie organisasies eintlik niemand meer verteenwoordig nie en hul irrelevansie net verder beklemtoon het.
d)Die finale doodskoot van die Vryheidsfront Plus as deelnemer aan politieke prosesse in die land "namens" Afrikaners. Die Afrikaners wat wel nog aan die politiek wou deelneem sou die volgende verkiesing binnegaan as Kaapse koloniste wat DA stem.
e)Die blootlegging van die onderliggende beskawingskonflik in Suid Afrika deur die teenstrydige intrepretasies van die video nl. studentepret vs nasionale rasseramp.
f)Die video is ook 'n permanente historiese illustrasie van die ontstellende wyse waarop die heersende politieke ideologie die ontspanne menseverhoudinge tussen mense van verskillende rasse beduiwel het.
g)Die mediaveldtog, die vervolging van die Reitz-4, die sogenaamde "vergiffenis" en "heropleiding" om gedrag te verander en transformasieretoriek toon onteenseglik dat die liberale demokrasie op 'n totalitêre wyse afgedwing sal moet word om in Suid-Afrika te slaag.
Staatsgesag en mediamanipulasie sal toenemend gebruik moet word om mense se kulture af te breek en te dwing tot nie-rassige Engelsprekende individuele verbruikers van kommersiële nutsprodukte wat elke vyf jaar gaan stem.
Persone wat nie hierdie nuwe vereistes vir "vryheid" nougeset nakom nie, kan verdink word van afwykende gedrag en geteiken word vir "heropleiding in diversiteit."
h)Die versnelde transformasie van die Universiteit van die Vrystaat tot nog 'n Engelssprekende derderangse akademiese instelling.
i)Die voorspel tot die verskyning van Julius Malema waar ANC-ondersteuners vir die eerste keer sê wat hulle dink.
j)Die versnelde dekonstruksie van die Afrikaner na 'n pre-1910 opset van Kaapse koloniste en Boere. Laasgenoemde kan dan weer op die Groot Onttrek gaan.
j)Die moontlikheid dat die Reitz-4 historiese martelaarstatus onder Boere kan verwerf is nie meer uitgesluit nie.
Opsommend kan gestel word dat die liedjie "De la Rey" en die Reitz video meer grensverskuiwend kan word as al die letterkunde van die Sestigers.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





