praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Briewe Oordrewe onderdanigheid

Oordrewe onderdanigheid

E-pos Afdruk PDF

Robert Ingersoll (1833-1899) het opgemerk dat daar altyd 'n Simson is wat voel hoe stewig die pilare staan. Kan politiek-gemotiveerde regstelling altyd geregverdig word? Met Media24 as die gevallestudie, word ten aanvang die volgende aan die orde gestel: Is politieke korrektheid in die gedaante van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) uit 'n etiese en 'n sake-oogpunt so voortreflik soos wat gewoonlik sonder meer aanvaar word?

In 2006 het Media24 op die SEB-wa geklim deur aandele in die maatskappy teen 'n afslag aan nie-wittes aan te bied. Uiteraard het die toekenning op 'n ras-/kleurgrondslag geskied. Bowendien is wittes afgedreig as hulle sou probeer om van hierdie diskonto-aandele te bekom.

Wat gedoen is, is (naas die rassediskriminasie) in minstens twee opsigte verwerplik. Enersyds is die rug gekeer op die etniese groep wat by uitstek Media24 gebring het tot waar hy deesdae is. Andersyds is die waarde van die tradisionele (hoofsaaklik wit) aandeelhouers se aandele verwater.

Maar die wangedrag het nie daar opgehou nie. Omdat die styging in die waarde van Media24-aandele sedertdien nie aan die verwagtinge voldoen het nie, is daar onlangs voorgestel dat die SEB-aandeelhouers nogeens bo die tradisionele aandeelhouers bevoordeel moet word, sodat hulle "'n billike kans het om geld te maak." Na beraming kan dit 'n (myns insiens onnodige) uitgawe/verlies vir die maatskappy en sy tradisionele aandeelhouers van R330 miljoen veroorsaak, wat as 'n aalmoes aan die SEB-aandeelhouers gegee word (Die Burger, 25 Sep, p 22).

Ek moet die sakesin en -etiek van die Media24-bestuur ernstig bevraagteken. Dit is sekerlik hoogs uitsonderlik dat 'n maatskappy homself en sy tradisionele aandeelhouers finansieel dubbelbenadeel. Die wesenlike aard van belegging in aandele, naamlik dat dit riskant is en dus tot verliese vir aandeelhouers kan lei, word om emosionele (dus nie-sake-) redes, spesifiek weens politieke korrektheid en by implikasie ANC-gedienstigheid, onteer, oftewel verkrag.

Die politieke onderdanigheid wat van Media24 uitgaan, behoort 'n emosionele teenreaksie by minstens sommige van sy tradisionele aandeelhouers te ontlok. Daar word dikwels beweer dat emosie uit aandeelbelegging gehou moet word. Maar lede van die publiek kan deur emosie beinvloed word wanneer hulle besluit watter maatskappye hulle ondersteun en in watter hulle bele.

Ek probeer om rasioneel te bele, maar soms kry emosie die oorhand. Voorheen was van my beleggings by Allan Gray. Die stigter en hierdie maatskappy het hulle fortuin uit die ondersteuning van veral blanke beleggers gemaak. In 2007 is met 'n groot ophef aangekondig dat Allan Gray 'n groot bedrag bewillig het om jaarliks talle beurse aan Suid-Afrikaanse studente toe te ken. Volgens party bronne word die beurse net aan nie-wittes toegeken, terwyl ander beweer dat tien persent na wittes kan gaan. Wat duidelik is, is dat die beurse nie deurslaggewend volgens akademiese verdienste of finansiele behoefte toegeken word nie, maar op 'n ras-/kleurgrondslag, met nie-wittes wat die voorkeur geniet. So 'n maatskappy moet nie van my ondersteuning verwag nie.

Onlangs het die Universiteit Vrystaat 'n duur advertensie, wat 'n halwe bladsy beslaan, in Rapport oor die inhuldiging van sy dertiende rektor gepubliseer. 'n Weeklange program is aangebied waarby buitelandse akademici betrek is. So iets is nie vir sy dosyn vorige rektore gedoen nie, maar die voriges was almal wit. Die nuwe rektor, Jonathan Jansen, is swart. In sy intreerede het hy aangekondig dat die universiteit skadevergoeding aan die "slagoffers" van die Reitz-video gaan betaal.

Die ander Suid-Afrikaanse universiteite met swart rektore het nie so uitspattig te kere gegaan toe hulle ingehuldig is nie. Vergelykenderwys is hulle dus benadeel. Gaan daar nou verskoning gevra en skadevergoeding aan hierdie swart rektore betaal word?

Erens moet 'n streep getrek word. Daar behoort 'n tyd te kom wanneer die voorheen benadeeldes genoeg bevoordeel en die tans benadeeldes genoeg benadeel is. Anders ontstaan die absurde situasie dat voorheen benadeeldes nie te veel bevoordeel kan word nie; dus dat heeltemal oorboord gegaan mag word.

 


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: