praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Briewe Afrikaners praat oral in openbaar Engels

Afrikaners praat oral in openbaar Engels

E-pos Afdruk PDF

Ek dink Fanie van Heerden is reg. Oral waar jy in die openbare plekke, soos by die poskantoor, banke, kettingwinkels, ens. kom, en in die rye staan, hoor jy hoe "Afrikaners" Engels met mekaar en die toonbankbeampte praat. As jy as enkeling wat Afrikaans wil praat, by die beampte kom en Afrikaans met hom/haar praat, dink hulle jy's snaaks of moedswillig om nie ook Engels te praat nie en hou maar net aan Engels met jou praat. Ek gaan natuurlik in Afrikaans voort.

Net laas week moes ek my telefoon by Telkom se Hulplyn wat hulle 'n paar 'n paar jaar gelede spesifiek vir Afrikaanssprekende kliënte ingestel het, rapporteer. Nadat ek net soos met al hierdie "hulplyne" ook na die stem met 'n klomp aankondigings moes luister en aanhou, antwoord iemand uiteindelik in Engels. Ek het hom geïgnoreer en my probleem in Afrikaans gerapporteer, maar sal die persoon wraggieswaar nie vir my in die rede val en sê hy verstaan nie Afrikaans nie en of ek dit nie in Engels kan doen nie! 

Ek was natuurlik sommer dadelik kwaad maar het hom kalm en beskaafd meegedeel dat die betrokke fasiliteit dan kamtig vir die Afrikaanssprekende kliënte ingestel is en hoe is dit dat hy nie eers Afrikaans kan verstaan nie, waarop hy onmiddellik afgelui het. Toe ek 'n tweede keer inskakel, het die persoon ook weer in Engels geantwoord maar darem gesê dat as ek sy swak Afrikaans sal verskoon, hy in Afrikaans met my sal praat. Sy Afrikaans was toe glad nie so swak as wat hy wou voorgee nie maar dit wys jou net dat daar 'n moedswilligheid by hierdie spul "nuwe SA's" is om teen Afrikaans te diskrimineer.

Ons groot probleem is natuurlik nie hierdie "nuwe SA's" nie, maar ons "eie mense" en voordat daardie slapgatgeit wat jy van praat nie by hulle regkom nie, sal die probleem ad infinitum bly voortbestaan. Sonder om negatief te wil wees, is ek van mening dat die Afrikaner nie meer vir sy eie taal wil veg nie. Daar bestaan wel 'n klein groepie binne die "Afrikanerdom" wat dit wil doen, maar die grootste persentasie het reeds boedel oorgegee.

As ou Fanus Rautenbach van "Flink uit die Vere"-faam in sy tyd al die volgende oor Afrikaans en die Afrikaanssprekende gesê het: n Afrikaner is iemand wat by die huis Afrikaans praat maar Engels in die openbaar en wanneer hy met vakansie gaan (of min of meer, so iets), is dit maar net 'n bewys van waar en wanneer af die traak-my-nie-agtige houding van "Afrikaners" teenoor Afrikaans, vandaan kom.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: