Johann Wingard beskryf ‘n baie boeiende standpunt oor minderheidsvolke se soewereiniteit en die gepaardgaande regte. Ek wil ‘n enkele paragraaf van nader beskou. Hy skryf: “Die dilemma vir Afrikaners is egter die mate (van erkenning?) wat sy volkskap onderling tussen lede van daardie gemeenskap geniet. By die Boerevolkgedeelte is die getalle klein met ‘n intense gevoel van solidariteit, maar onder Afrikaners, oftewel wit Afrikaanssprekendes, bestaan twyfel oor ‘n gemeenskaplike kultuuridentiteit, ‘n identiteit wat baie van hulle met ander Afrikaanspraters wil deel.”
Myns insiens is daar egter nie soveel te spreek van ‘n heterogene gemeenskap, as van strydige strategieë (sonder ‘n duidelike wenner) nie.
Sedert 1994 is daar hoofsaaklik drie soorte toekomsdenke deur Afrikanerleiers gepropageer. Ten eerste was daar diegene wat die liberale Grondwet met sy menseregte as ‘n bevrydende wonderwerk beskou het. Hulle het die streng dissipline, werksetiek en protestantse waardes van die vorige bedeling as onderdrukkend ervaar en die 1994 oorname in ‘n gees van “change is as good as a holiday” aangegryp. Hulle het hoofsaaklik bestaan uit kunstenaars en ander kreatiewe denkers wat op die periferie van die hoofstroom hul kunste beoefen het, maar skielik in veranderde omstandighede hulself in die middel van die kalklig gevind het, en deeglik van die geleentheid gebruik gemaak het om hul menings te versprei in ‘n mate wat ver bokant die verhouding staan wat hul getalle sou regverdig.Ten tweede was daar diegene wat in die ANC-gedomineerde Suid-Afrika ‘n ernstige fisiese bedreiging vir Afrikaners waargeneem het. Hoewel hulle vertrekpunt dieselfde was, het hulle hierop gereageer met twee uiteenlopende strategieë. Die eerste strategie is gepropageer deur die leiersfigure wat die swaarste gedra het aan gevestigde belange. Hulle het bestaan uit leiers uit die ou NP, sakepersone soos die AHI, hoogwaardigheidsbekleërs van staatsinstellings en akademici aan staatsgefundeerde universiteite. Hulle was afhanklik van die nuwe maghebbers om hulle gevestigde belange te beskerm, en weet dat enige iets wat ruik na rassisme homself vinnig tussen die aambeeld en die hamer sal vind. Hulle het daarom in hul poging om “aanvaarbaar” voor te kom terwyl hulle vir Afrikaans se behoud wil werk, begin met ‘n proses om die verskillende kleurlinggemeenskappe op ‘n paternalistiese wyse by die Afrikaner-laer betrokke te kry deur die “Afrikaanses” beweging op die been te probeer bring.
Die derde groepering, wat soos die tweede groepering die Nuwe Suid-Afrika se bedreigings vir ‘n Afrikaner-toekoms ernstig bejeën, vind min bemoediging in die skamele 3 miljoen wat die kleurlingbevolking by Afrikaners se getallevermoëns sou voeg, terwyl hulle voel dat die selfverraad wat ‘n stap van samesmelting met die kleurlinge vereis, die kool die sous nie werd is nie. Hulle verteenwoordig grootliks die leierskorps wat nie in die eerste twee kategorieë opgegaan het nie, hoewel hulle tot op hede nie met ‘n strategie vorendag kon kom wat inslag by die voetvolk van die Afrikaners kon vind nie. Hierdie groepering word as “regs” afgemaak deur die eerste twee groeperinge en in reaksie het sommige begin om na hulself te verwys as Boere, eerder as Afrikaners.
Dit is duidelik dat ons onder omstandighede leef wat baie verwarrend vir die meeste Afrikaners is. Daar het ook heelwat apatie by die Afrikaner-voetvolk ontstaan jeens leierskap as gevolg van die mislukkings van die verlede. Verder word die stryd tussen die drie Afrikanergroeperinge bemoeilik omdat daar nie ‘n forum is waarop die leiers van die groeperinge dit as ‘n Afrikaner-aangeleentheid vir Afrikaners kan voorlê, en waarby die Afrikaners dan ‘n keuse kan maak vir die een of die ander nie. Indien daar so ‘n forum sou ontstaan is dit ook baie waarskynlik dat die verloorders van die stryd onder huidige omstandighede eerder die forum se geloofwaardigheid in twyfel sou trek as om hulle by die uitslag daarvan te berus.
Hoe dit ook al sy, daar moet deurentyd deur die leiers gepoog word om die harte en gedagtes van ons volk te wen en te mobiliseer. Dit is immers die eerste plig van ‘n leier. Pogings om die volk te verdeel in Afrikaners (dié wat ons nie ondersteun nie) en Boere (dié wat ons ondersteun) as alternatief, spreek baie van die frustrasie van daardie leiers, maar dit laat nogal vrae ontstaan oor die vermoëns en vaardighede van hul leierskap, want dit lyk asof hulle opgee.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





