praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Briewe Geskiedenis en die wenner  MT Steyn of Bram Fischer?

Geskiedenis en die wenner  MT Steyn of Bram Fischer?

E-pos Afdruk PDF

‘n Groot polemiek heers oor ‘n satiriese artikel oor waar Afrika sou staan as dit nie vir slawerny en kolonialisme was nie. Ten regte, want dit wat diep in Afrika gesetel is, is nie behoorlik opgeteken nie.

In ‘n Sondagkoerant is byvoorbeeld veel gemaak van die Timboektoe-dokumente. Ou beskawingslyne in Afrika is een van my belangstellingsvelde, en juis daarom vind ek dit effe sinies dat ‘n relatiewe jong beskawing, sterk deurspek met Arabiese kolonialisme (daar was verlede jaar weer ‘n Toareg-opstootjie in Niger) so baie aandag kry. Selfs Augustinus se verblyf in Afrika dateer van lank voor die Timboektoe-beskawing. Om nie te praat van die Kartaagse ryk, die Ethiopiese, selfs Zimbabwe en natuurlik die Egiptiese en Nubiese ryke.

Baie van die ou Arabiese of Moslemryke, soos onder andere dié van Darfoer, was sterk op slawehandel geskoei.

Om Timboektoe as vertrekpunt te gebruik, is kunsmatig en baie oppervlakkig.

Dit is nie nuut dat die opgetekende geskiedenis eers by ‘n laat stadium inval by die werklike nie. ‘n Paar jaar gelede is Columbus se “ontdekking” van Amerika groot gevier. ‘n Beter rekonstruksie van die geskiedenis dui daarop dat minstens die Vikings lank voor Columbus kolonies in Amerika gestig het – trouens, die doelbewuste vestiging van die eerste Christenkolonie se duisendste herdenking is verlede jaar gevier. Maar nie so dat mens dit sou agterkom nie.

Trouens, dit raak al hoe duideliker dat Columbus by die Yslanders van die bestaan van Amerika te wete gekom het – daar was ook genoeg geskrewe bronne onder andere in Rome hieroor waar hy gaan navorsing doen het.

Nou ontvou nog ‘n klassieke voorbeeld voor my oë. Verlede jaar is pres. M.T Steyn se 150ste geboorteherdenking gevier. Toevallig het ek vir Colin Steyn raakgeloop, en dit onder sy aandag gebring. Hierna het ek ‘n artikel aan al wat publikasie is gestuur oor Steyn, onder andere sy rol om generaals De la Rey en de Wet tot hul reg te laat kom. Radio Pretoria en radio Rosestad het dit gebruik. ‘n Kransleggingsaksie wat Colin Steyn-hulle gereël het, het die SABC gehaal, maar nie werklik die gedrukte media nie.

Op Heldedag is daar ‘n opskrif in een van die koerante wat dit geïgnoreer het: Ken jou helde van die geskiedenis. Met teleurstelling lees ek: Robert Sobukwe, Nelson Mandela... so gaan die lysie aan.

Vanjaar is die 100-jarige herdenking van Bram Fischer se geboorte – in lewe ‘n tydgenoot van die Komintern wat deur Stalin beheer is en wat tot die doodmaak van miljoene mense gelei het, waaronder ook miljoene Russe. Reeds is dit duidelik dat Fischer veel meer erkenning gaan kry as Steyn.

Steyn en Fischer se geskiedenis het verskeie ooreenkomste: beide Vrystaters (Steyn is in die Vrystaat gebore), beide was regsgeleerdes, en beide aktief in die politiek. Beide het hulle in ‘n politieke konteks aan die verkeerde kant van die oorheersende politieke winde bevind – Steyn eers na die Anglo-Boereoorlog) maar Steyn se statuur en wyse raad (juis onder die boom van sameswering) het ‘n simbool van wysheid geword.

En wie se herdenking kry by die Afrikaner en sy instrumente die meeste erkenning?

blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: