Dit het tydens die RSG-debat geklink of etnisiteit ontken word. Cobus Bester het my intussen verseker dat dit nie so is nie maar dat ons moet nadink oor die rol daarvan in konflik.
As daar nie entisiteit was nie hoekom, spesifiek in Mpumalanga, verdeel die Swazi's en Sothos (wat deel is van dieselfde bouspan) in spesifieke groepe tydens middagete?
'n Tipiese voorbeeld van etnisiteit is die twee karakters hier by ons in die Laeveld:
- Henry Milner wat volgens eie erkenning net in selfverdediging Engels praat – 110 jaar nadat sy oer-oupa die taal wou laat uitsterf,
- Carel Triegaardt wat met moeite Afrikaans kan praat (nadat sy oer-oer oupa hom 170 jaar gelede in Lorenzo Marques afgelaai het) maar as Engelssprekende die Afrikaanse sentimente handhaaf
Só verteenwoordig dié twee kêrels die troppe van die geweste – binne hul groep besig beide die taal van hulle aard – tog, as vriende bymekaar kom sal daar geskerts word oor Vryheidsoorlog-uitsprake maar dan is daar ook die gedeelde ervaring rondom die nuwe bewind met al die frustrasies/weersin.
Volgens eie ervaring word beleidsrigitngs gedryf deur ras/etnisiteit. Die tipiese teelaarde vir aktivisme – maar desnieteenstaande is die meeste gefrustreerdes verantwoordelike gesinsmanne wat meer as hulle deel doen om die nuutste Suid-Afrika te maak werk.
Waarom my reaksie? Juis omrede Piet Croucamp se opinies waardevol en sinvol is vir die nasionale diskoers oor die kleurgrens heen. Maar hy het gedurende die RSG-gesprek amper net so aktivisties en deterministies soos PW Botha opgeval, eerder as 'n omsigtige wetenskaplike.
Aan die ander kant, met sy meer debateerbare opinies buite rekening gelaat, is die punt wat Dan Roodt probeer huldig het, juis so relevant. Wannneer daar 'n konflik is om hulpbronne is die grondoorsaak "the have's vs. the have's not" maar mobilisering vind so geredelik rondom taal (etnisiteit) plaas.
En vir 'n meer onlangse verwysing; ons weet hoeveel Engelsmanne in die Weermag Afrikaans leer praat het; waar is die drempels/waardes vir Suid-Afrika om 'n Rwanda te word?
Hierdie vraag mag op die minste slegs as spekulasie afgemaak word maar hoeveel van die onmin teenoor Malema is daarin geleë dat die Pedi's van die Noorde ietwat te rammetjie-uitnek begin raak vir ANC se Zoeloe-basis? Dis natuurlik 'n mening wat geensins in 'n raadsaal gebesig sal word nie, dis werksvloertaal.
Dus, beide die twee here moet hierdie debat verder voer maar meer in die rigting van; Hoe gaan beleidsontwikkeling / -toepassing etnisiteitsgevoelens laat verdwyn of laat opvlam?
Entisiteit bestaan as 'n energiebron. Ons kan dit as 'n dinamo of 'n kruitvat aanwend. Watter een word deur die huidige maghebbers gestook?
| < Vorige | Volgende > |
|---|





