Hoeveel mense is vandag bewus van die feit dat die destydse Ossewa Brandwag agter geslote deure opgerig was deur niemand minder nie as Jan Smuts? En dat die OB se doel nie was om Afrikaners te verenig nie, maar juis om tweedrag te saai? Die OB se onderleider, Hans van Rensburg het blykbaar saam met sy pa Britse uniforms aangetrek en op Vrystaatse Boere geskiet. Sy motor was ook saans laat gesien voor Smuts se huis in Irene. Die motiewe agter Smuts was omdat hy geweet het dat bittermin Afrikaners tevrede sou wees met sy besluit om te bou aan die Pax Brittanica, oftewel wêreldvrede onder die Britse kroon. Vandaar het hy besluit om betyds enige nasionalistiese opwellings vanuit Afrikanergeledere te ontkrag met frontorganisasies soos die OB...en natuurlik om Afrikaners op die koop toe internasionaal te verketter as Nazi's. Die feit dat daar ongeveer net soveel kommuniste onder Afrikaners was, is iets wat hulle kennelik agterweë gelaat het omdat daar nie genoeg haat en woede teen kommuniste bestaan het nie. Afrikaners was oor die algemeen bereid om enige ideologie aan te hang wat die Britse imperialisme teegestaan het.
Advokaat PJ Pretorius het in sy insiggewende werk Volksverraad hierdie feite bekend gemaak, wat vir die nodige opskudding gesorg het onder inligtingsbeamptes. Sedert die eerste, mislukte moordaanslag op dr. Verwoerd deur David Pratt in 1960, 'n maand na die Sharpeville insident, het die grootmagte besluit om meer onderduims te werk te gaan om Suid-Afrika onder hul invloedsfeer in te trek. Van binneuit het hulle die Afrikaner Broederbond suksesvol geïnfiltreer en geleidelik oor die volgende dekades afgebreek en na links gestuur. Ons weet almal watter klomp volksvyandige lamsakke die AB deesdae geword het, slegs gedienstig aan die groot meesters in Londen, New York en Basel. As gevolg van hierdie feit is dit vanselfsprekend dat 'n volk na regs sal neig as hulle weet dat daar aan hul soewereiniteit gepeuter word, en vandaar die noodsaak om in te gryp en hierdie tendense betyds onklaar te maak. Dit verklaar ook waarom, in die laat sewentigerjare, die Herstigte Nasionale Party se populariteit begin groei het. Die kiesers het duidelik die skrif op die muur gelees onder Vorster en Botha se beleidsrigting. Die Konserwatiewe Party was toe opgerig om stemme weg te steel by die HNP en te vervang met retoriek wat minder regs was. Blykbaar het Constand Viljoen se Afrikaner Volksfront dieselfde doel gedien (hy was immers 'n Mi6 agent), naamlik om regse stemvee na links oor te haal.
Dit is min of meer die penarie waarin behoudende Afrikaners hulself vandag bevind. Baie sit en kopkrap oor hoekom Afrikaners nooit saam kan staan nie, maar die harde werklikheid is dat dit juis agter die skerms so bekokstoof is! Blykbaar het die Afrikaner Weerstandsbeweging op sy beste dae 'n ledetal van ongeveer 15 000 gehad waarvan die helfte uit polisieinfiltrante bestaan het. Dit laat 'n mens ook dink aan die aksie van Piet Rudolph afgelope Februarie toe hy die Volksraad Verkiesingskommissie ontwrig het. In plaas dat Rudolph die werklike vyand - die ANC/SAKP - se vergaderings gaan ontstig, doen hy dit onder sy eie mense wat dieselfde doel as hyself nastreef.
Dit bring ons na die tameletjie romdom die Pretoria-PEN. Waarskynlik vrees die Kaapse skrywers die strewe na soewereiniteit wat onder die Transvaalse Afrikaners heers. Die Kapenaars was nog altyd meer pro-Engels en pro-internasionaal as die Transvalers wat die Engelse gesel ken, en met hul kennis en insigte selfbeskikking nastreef. Voeg daarby toe dat Naspers se leserskring begin krimp kan 'n mens verstaan hoekom hulle nou hierdie poging aanwend om Afrikaanse letterkunde onder hul invloed te bring.
Suid-Afrika is 'n onsigbare oorlogsgebied. Die slagveld is ideologies. Die nasionaliste en internasionaliste staan lynreg teenoor mekaar in die loopgrawe. Die nasionaliste veg vir politiek en ideale wat hul nageslag veilig sal stel. Die internasionaliste veg om hierdie af te breek om te sorg dat hulle self die groot leiers kan word. Eintlik is die internasionaliste se belang eerder ekonomies as polities. 'n Nasionalis glo dat geld ondergeskik moet wees aan politieke en kulturele belange en die internasionaliste glo andersom dat geld belangriker is.
Van Oswald Spengler het ons geleer dat ekonomiese belange na die self gerig is en politieke belange na die ander gerig is. In politieke terme sterf mense vir iets en in ekonomiese stelsels sterf mense as gevolg van iets. In politieke terme word die krag om te lewe verhewe deur die dood, en in ekonomiese stelsels kwyn mense bloot weg. Onder 'n dun lagie politiek is die ANC gedrewe deur puur ekonomiese faktore. Die onuitputlike selfferryking van links, tesame met die ideologiese afbreuk van nasionale belange is hulle besig om 'n wêreld te skep van ekstreme ongelykheid.
Spengler het ons ook geleer dat uitiendelik 'n mens weer terug sal keer na die politieke belang. Bloed is uiteindelik belangriker as ekonomiese oorwegings, soos ons ook gesien het toe die Romeinse Ryk begin val het.
Toe Mao tse Toeng gesê het dat alle reaksionêre papiertiere was, had hy tot op 'n sekere mate gelyk gehad. Daarna is dit eerlik om te sê dat mense weer terug sal keer na die politiek van hul eie groep en die draad weer op te tel van hul kultuur, tradisie, geloof om weg te breek uit hierdie onhoubare situasie.
Voordat dit so ver is, moet ons sorg dat ons skrywers veiliggestel is van die Naspersgroep. Noudat die ANC die perse wil muilkorf, is dit belangrik om nie die knie te buig vir hierdie faktore wat Suid-Afrika wil verander in 'n rasgebaseerde Sowjet-Afrika nie.
Doe zo voort!
| < Vorige | Volgende > |
|---|





