praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Briewe Politiek en akademie aan US

Politiek en akademie aan US

E-pos Afdruk PDF
Ek was in 1956 in matriek. Meer as een van my klasmaats was die daaropvolgende jaar onder die eerste eerstejaars aan die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe Afrikaanse mediese fakulteit. Dit was 'n mylpaal wat na baie jare se aanvoorwerk en opoffering bereik is. Voortaan sou dit nie meer (soos vir sommige van my familielede) nodig wees om medies in Engels aan die Universiteit Kaapstad of in Afrikaans aan die Universiteit Pretoria te studeer nie. Dit was toe onvoorstelbaar dat die US ooit sou transformeer in 'n inrigting wat sowel wittes as Afrikaanssprekendes om politieke en spesifiek rassistiese redes stief behandel. Maar dit is presies wat gebeur het en druk word uitgeoefen om dit in toenemende mate te doen.

Die drol het in die drinkwater geval toe Chris Brink as rektor aangestel is. Hoewel hy van huis uit Afrikaanssprekend is en uit Upington kom, het hy 'n aantal jare in Australië deurgebring en daar 'n voorliefde vir Engels ontwikkel. As hy daardie jare in België aan 'n Vlaamse universiteit deurgebring het, sou hy heel moontlik 'n ander deuntjie gesing het. In Stellenbosch aangekom, het hy hom eerder as 'n wêreldburger as 'n Afrikaner voorgedoen en die US probeer verengels. Hy het sterk teenstand ondervind en is heftig gekritiseer; dermate dat hy na 'n Britse universiteit verkas het.

Sy opvolger as rektor is die bevrydingsteoloog Russel Botman, wat daarop roem dat hy as UDF/ANC-aktivis dikwels ingeperk is. Met min doseerondervinding het hy gou professor in teologie aan die ANC-vesting, die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), geword. Kort daarna is hy in dieselfde hoedanigheid na die US. Hy was sterk ten gunste van die transformasie van die UWK van 'n oorwegend Afrikaanse universiteit na 'n eentalige Engelse inrigting. In 'n japtrap was hy vise-rektor aan die US.

Toe Brink voortydig vertrek, het Die Burger 'n propagandaveldtog gevoer om Botman bo 'n deurwinterde wit akademikus as rektor aangestel te kry. Die transformasie van die US moet glo op die hoogste vlak sigbaar wees. Die verengelsing van die US het groter momentum gekry, maar politiek-korrek is Botman, anders as Brink, kritiek en verguising gespaar. Toe Henry Jeffreys redakteur van Die Burger was, het hy in sy weeklikse rubriek Botman se afskaling van Afrikaans sonder omhaal van woorde gesteun. Hoewel dit algemeen bekend is dat ontwikkelde bruines hulle graag as Engelssprekend voordoen, is hulle die studente wat Botman by voorkeur met beurse na die US lok; myns insiens om etniese redes, hoewel hy absurd voorgee dat dit gedoen word om Afrikaans te bevorder.

Die mediese fakulteit kan net 'n beperkte getal studente akkommodeer. Tradisioneel is net studente met 'n A-simbool in al (of feitlik al) die matriekvakke tot die MB ChB-leergang toegelaat. In die nuwe Suid-Afrika word so 'n objektiewe, akademies-gefundeerde toetalingsbeleid nie geduld nie. Studente met gemiddeld sê 'n C-simbool het glo die potensiaal om net so goed in mediese studie te vaar; natuurlik mits hulle nie-wit is. Jonathan Jansen, die rektor van die Universiteit Vrystaat, het dit onomwonde gestel dat hy by toelating tot mediese studie voorkeur aan 'n swarte met een maktriekonderskeiding bo 'n witte met sewe gee.

Einde verlede jaar het die wit dekaan van die US se mediese fakulteit na tien jaar uitgetree. Die transformasie (dus verswarting) van die studentekorps is as sy hoofprestasie voorgehou. Voorspelbaar is hy deur die eerste swart (eintlik bruin) dekaan van die mediese fakulteit opgevolg. Die nuwe besem het by die aanvang van sy termyn aangekondig dat dit vir hom om nasiebou gaan. Sy begrip van die pos is dus om 'n politieke doelwit na te jaag, terwyl hy veronderstel is om akademies georiënteerd te wees deur die akademies beste studente te trek, die beste moontlike mediese onderrig aan te bied en op 'n nie-rassistiese grondslag hoë akademiese prestasie van al die studente te vereis.

Die aanleiding vir my skrywe is 'n berig in Die Burger (28 November 2011, p 7). Daarvolgens sal die eerstejaarklas van die US se MB ChB-program in 2012 uit 41% bruin en 30% wit studente bestaan. Dit is bekend dat die US besonder gretig is om studente uit Afrika noord van die Limpopo-rivier toe te laat. Hulle is nie Afrikaans magtig nie en hoef dit nie te word nie, omdat sulke toelatings vir die US politieke sin maak. Die skuld vir watter studente toegelaat en watter geweier is, is aan die keuringsriglyne gegee. Daarin weeg rassistiese oorwegings swaarder as akademiese prestasie. Hierdie riglyne het nie uit die lug geval nie. Hulle is deur mense opgestel, deur mense goedgekeur en word deur mense toegepas; mense wat deur nie-akademiese en spesifiek politieke oorgewings (veral ANC-gedienstigheid) gelei word.

Dieselfde gesindheid blyk uit die US se beleid by die toekenning van woonplek in sy koshuise. Akademiese verdienste is by 'n klein persentasie van die toegekende plekke van deurslaggewende belang. Voeg hierby dat dit die beleid van die US is om by voorkeur dosente uit die "aangewese groepe" (dus nie-wittes en veral nie wit mans nie) aan te stel en dit behoort duidelik te wees dat akademiese voortreflikheid nie die hoogste prioriteit geniet nie. Op die afgelope Vrouedag het die US teen groot koste 'n volbladsy-advertensie geplaas om te roem op sy groot getal vrouepersoneel. 'n Universiteit wat by voorkeur akademies-geöriënteerd was, sou op 'n nie-rassistiese en nie-seksistiese grondslag eerder op die akademiese gehalte van sy doseer- en navorsingspersoneel geroem het.

Daar kan geen akademiese regverdiging bestaan vir die genoemde 41% bruin en 30% wit mediese studente nie. Dat daar 'n ernstige skroef los is, blyk uit die onverdunde waarheid wat hier volg. In die jare sewentig was ek 'n dosent aan die UWK. 'n Tandheelkundefakulteit het toe daar tot stand gekom. Die regering kon nie bekostig om so 'n duur fasiliteit aan sowel die Universiteit Durban-Westville (vir Indiërs) as aan die UWK (vir bruines) tot stand te bring nie. Daar is toe ooreengekom dat die fakulteit by die UWK gesetel sou wees, maar dat die beperkte getal plekke om die helfte aan Indiër- en bruinstudente toegeken sou word.

As dit nie vir hierdie bepaling was nie, sou al die tandheelkundestudente suiwer op grond van akademiese verdienste elke jaar of bykans elke jaar Indiërs gewees het. Dit is bekend dat sowel wittes as Indiërs oor die algemeen akademies beter as bruines vaar. Daarom maak die genoemde 41% bruines en 30% wittes akademies nie sin nie. Om die waarheid te sê, dit is gewoon 'n skande. Maar dit is grondwetlik geoorloof, want daar mag mos maar teen wittes, en net wittes, gediskrimineer word; selfs wanneer die universiteit, insluitende die mediese fakulteit, deur wittes opgebou is. Dit word geregtigheid genoem.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: