"Mulder kap minister oor Walmart- ingryping" is die opskrif van 'n onlangse berig in Beeld. Dit was nadat ek die minister gekritiseer het oor die onnodige hofsaak teen Walmart. Hoekom doen ek dit as ek bang is vir my pos?
Maar dit is die president wat die uitvoerende gesag saamstel. As Schoeman korrek is, moet ek bang wees om die president te kritiseer. Tydens die verkiesing het ek die president by die Onafhanklike Verkiesingskommissie aangekla oor sy stelling dat die voorvaders sal weet waar jy stem. Net so het ek sy ligsinnige verwysings na hemel en hel, sy 21ste buite-egtelike kind in Soweto, asook blou ligte gekritiseer.
Om die minister en president in die media te kritiseer, is maklike politiek. Jy skryf net 'n mediaverklaring.
Nadat die lesers dit gelees het, voel hulle beter, maar niks het verander nie omdat die ANC die kritiek ignoreer.
Die moeilike politiek is om agter die skerms met gesprekke en oorreding sukses te behaal. As adj.pres. Motlanthe skielik Walmart prys omdat hulle in Suid-Afrika kom belê, het redelikheid gewen. As min. Gugile Nkwinti skielik sê: "Ons kan nie meer grond toeken soos wat ons dit gedoen het nie. Grondhervorming moet nie landbouproduksie ontwrig nie", vorder ons na meer realistiese regeringsienings. Dit gebeur net ná baie debatte en gesprekke daar waar die besluite geneem word.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





