praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Briewe SARU, Supersport minag Afrikaans!

SARU, Supersport minag Afrikaans!

E-pos Afdruk PDF

Ope brief aan die bestuur van SARU en van Supersport

Ek het nooit werklik besef met watter minagting u as die South African Rugby Union en u agterryer Supersport ons Afrikaanssprekendes behandel nie. (Of is SARU die agterryer?) Eers met Donderdagaand se spektakel (en ek bedoel spektakel, nie spectacle nie) het dit behoorlik tot my deurgedring. Dit was met groot belangstelling toe ek die aand voor die TV inskuif om te sien watter rugbyspelers en -spanne en andere loop weg met die toekennings van Beste, Grootste, Mooiste, Gewildste, Jongste, Wat-ook-al-ste. Wat was my verbasing toe die seremoniemeester vir negentig minute lank die verrigtinge NET in Engels hanteer. Eweneens die bekendes en beroemdes wat die name van die wenners kom uitlees het en toe hand op die blaas saam-saam met die wenners vir die kameras reggestaan het.

Ek het nie fout te vind met SARU en Supersport se politiek korrekte benadering om allerhande bokspronge te maak ten einde die realiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing te akkommodeer nie. Ook nie met die meriete van die toekennings nie, hier en daar  ʼn verrassing ten spyt. Ek was wel verbaas oor die aard van die konsert wat met ʼn rugby-leefwêreld en tradisie maar weinig gemeen het. Maar ek was hoogs de foeter in oor die opsetlike en minagtende negering van Afrikaans. Ek sou raai dat die oorgrote gros rugbyspelers in Suid-Afrika Afrikaanssprekend is, dat 75% plus op die rugbypawiljoene en voor die TV’s Afrikaanssprekend is, maar dat Supersport en SARU nie eers ʼn poging aanwend om u talrykste klant en ondersteuner in ag te neem nie. Ons vra nie vir 50% Afrikaans tydens hierdie soort seremonies nie, nie eers 33% of selfs 25% nie, want ons verstaan dat ons in die Nuwe SA leef met nuwe vereistes.  MAAR ons dring aan op erkenning, nie minagting nie. Moet tog net nie weer met die verspotte verskoning van elf tale en elf seremoniemeesters en elf konserte en elf ander soorte snert kom nie.  U as SARU en Supersport moet u oë oopmaak en kyk wie speel en wie kyk en wie betaal.

Wat dus nou van die borge? Hulle en hulle miljoene? Weet hulle dat ons Afrikaanssprekendes nie miljoene rande aandra na hulle winkels toe nie, maar wel miljarde. Dis óns miljarde waaruit hulle skep en waarmee Supersport en SARU hierdie Engelse tempel van verering en aanbidding aan die gang hou. Want SARU en Super Sport teer op ons passie vir rugby, op ons passie vir ons spanne, ons Springbokke en ons spelers.

Besef u as SARU en Supersport dat gedurende die hele aand daar niks in Afrikaans oor iemand se lippe geglip het nie, nie ʼn liedjie nie, nie ʼn sinnetjie nie, nie ʼn woord nie. Wat die arme Sarel Pretorius besiel het om sy elektroniese boodskap in Afrikaans na hierdie Engelse sirkus toe te stuur, weet net hy. Onkundige, oningeligte, Afrikaanssprekende Super Rugbyspeler van die jaar, skaam hy hom nie!

Dis al erg genoeg dat ons Saterdag na Saterdag moet aanhoor hoe 100% Afrikaanssprekende skeidsregters en 100% Afrikaanssprekende voorrye mekaar in die rooitaal die stryd aansê in aksente so dik soos ʼn plaasdamwal. Terloops, is dit een of ander reël of regulasie in SARU se wetboeke dat hulle so moet kommunikeer?

Nou waar laat hierdie tirade ons nou? By die punt waar ons vir SARU en vir SUPERSPORT wil sê ons is gatvol  en ons dring aan op ʼn openbare verskoning oor u Afrikaans in die asblik infoeter. En saam daarmee ʼn sinvolle verduideliking van u houding teenoor Afrikaans, beide in die verlede en in die toekoms. Want so kan dit wragtag nie aangaan nie. Is daar iets wat ons nie weet nie? Een of ander finansiële of politieke stuk inligting wat u noop om hierdie onverklaarbare ongeskikte pad te stap? Vertel ons daarvan dat ons ook kan verstaan, want ons wil graag.

Of wil u as SARU en Supersport eers ʼn paar honderd duisend handtekeninge op petisies, e-posse, Facebook en Twitter hê? Daar is genoeg energieke gatvolles en beledigdes onder Afrikaanssprekendes om so-iets aan die gang te sit. Saam daarmee ʼn dosyn of meer organisasies rondom Afrikaans as taal wat net so siek en sat is vir die huidige gemors. Ek weet, want ek het ʼn telefoon wat lui en lui. En dis ook presies net daar waar Afrikaanssprekendes en die Afrikaanse media na mekaar moet uitreik. Anders sterf altwee.

blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: