Volgens Jan-Jan Joubert het Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), 'n e-pos "aan verskeie rolspelers op die Afrikaanse taalakker" gestuur waarin hy kommer oor die doel van die ABN uitspreek. Volgens Van der Rheede word bruines en swartes dalk nie betrek nie en dus "aan hulle eie lot oorgelaat" (Die Burger, 27.10.2011, p 2). Dit gaan vir Van der Rheede om inklusiwiteit. Maar die SBA is 'n sprekende voorbeeld van nie-inklusiwiteit deurdat sy werksaamhede op nie-wittes ingestel is. Ook omdat dit Afrikaans vry van regse politiek wil bevorder, soos Tony Links by die stigting van die SBA geëis het. Van der Rheede se bemoeiing is polities gemotiveerd; die woord "bemagtiging" toon die politieke konteks aan.
Wanneer wittes in nie-wittes se sake inmeng, word daar graag met die verwyt van paternalisme gekom. Sodra Afrikaans ter sprake kom, word daar egter verwag dat alle inheemse tale (wat Afrikaans van huis uit grootliks nie is nie) bevorder moet word. Dit is tans Van der Rheede se werk om Afrikaans se bevorder. Verder het die Afrikaanse Handelsinstituut hom pas ewe regstellend as sy volgende uitvoerende hoof aangewys. Maar daar kan gerus kennis geneem word van die feit (soos deur Van der Rheede in Kaap-Rapport erken) dat sy kinders 'n Engelse skool bywoon. Hy bevorder dus Afrikaans sodat ander mense as sy eie kinders dit kan benut. Dit is 'n sprekende voorbeeld van fundamentele taaldislojaliteit.
Nadat Jan-Jan Joubert met sy propagandaveldtog in die Nasperskoerante sukses ten bate van Lindiwe Mazibuko as die DA se parlementêre leier behaal het, probeer hy nou om agterdog en verdeeldheid in ABN-geledere te saai. Die volgende persoon wat hy betrek het, is Michael le Cordeur, die ondervoorsitter van die ATR. "Le Cordeur het gister namens die ATR se direksie gesê die ATR is nie deel van die ABN-aksie nie en kan ook nie daarvan deel wees nie." Volgens Le Cordeur "staan" die ATR "vir 'n Afrikaanse taal vir alle Afrikaanssprekendes en verwoord dus nie net die sienings van Afrikaners nie. Ons het al dikwels in die verlede die punt gemaak dat vir die ATR Afrikaans nie die ekwivalent van Afrikaner is nie. Ons staan vir die diverse Afrikaanse gemeenskap, dus die kollektiewe waarde van Afrikaans en al sy sprekers ... Terwyl ons begrip het vir die Afrikaner-benadering van die ABN, is die ATR ingestel op 'n breër, inklusiewe en Suid-Afrikaanse visie en praktyk." Die saak sal glo op 18 deser tydens die ATR se volgende direksievergadering grondig deurgepraat word (Die Burger, 29.10.2011, p 2). Soos Van der Rheede beklemtoon Le Cordeur nie-Afrikaner-belange; dus politieke elemente soos diversiteit, inklusiwiteit en Suid-Afrikaansheid; almal politiek-korrek eie aan die nuwe Suid-Afrika.
Le Cordeur is 'n opvoedkundige wat 'n absurde bewondering het vir die leerlinge wat die Bergrivier-skool in Wellington afgebrand het. Van sy insigte is dat die studente wat die kafeteria van die Skiereilandse Technikon (deesdae 'n universiteit genoem) geplunder het, dit gedoen het omdat hulle honger was. Sy woorde was skaars koud toe plunder nog "honger" studente die kafeteria van die Universiteit van Wes-Kaapland. Le Cordeur is 'n voorbok by Rachel's Angels, 'n beursskema van die Universiteit Stellenbosch waarvan wittes uitgesluit word. Hy het klaarblyklik geen beswaar teen hierdie nie-inklusiwiteit nie. Soos by Van der Rheede weeg politieke oorwegings by Le Cordeur swaarder as lojaliteit teenoor Afrikaans. Sy kinders noem hom "Dad". In 'n artikel in Die Burger het hy beweer dat Wellington se klopse voorbeeldig lief vir Afrikaans is, maar al die groepe het Engelse name.
Watter uitkoms kan 'n mens by die ATR-vergadering op 18 deser verwag? Daar is rede vir pessimisme. By Van der Rheede en Le Cordeur weeg (linkse) politiek (sekerlik anti-Afrikaner-politiek) ongetwyfeld swaarder as die belange van Afrikaans. Hulle probeer om 'n wig tussen Afrikaans en die Afrikaner in te dryf. Wannie Carstens is die voorsitter van die ATR en is politiek-korrek 'n groot bewonderaar van Nelson Mandela (Die Burger, By, 6.08.2011, p 4). Hy het ook al die onetiese Martin Luther King jr. goedkeurend aangehaal.
Die sug na diversiteit en inklusiwiteit bring mee dat sulke politiek-korrektes nie net in die ATR dien nie, maar ook in die raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument. Hierdie inrigting bied elke jaar 'n lesing, vernoem na Mathew Phosa, oor Afrikaans aan. Blykbaar word sy besondere verbintenis met Afrikaans vir verering uitgesonder omdat hy "vryheidsvegters" in Afrikaans onderrig het sodat hulle bv doeltreffender handgranate kon gooi en landmyne plant. Voorkeur word aan sprekers gegee wat weens hulle politiek (en nie vanweë hulle vakkennis van Afrikaans nie) bekend is, bv FW de Klerk en twee bevrydingsteoloë, Russel Botman en Nico Koopman. Albei laasgenoemdes het die geleentheid gebruik om 'n pleidooi vir nie-Standaardafrikaans te lewer. Geen mens het Afrikaans in groter mate of in 'n korter tyd afgeskaal as Botman aan die Universiteit Stellenbosch nie. As voorsitter van die KKNK het hy jare lank weggekom met pleidooie oor sy politieke voorkeure (uitreiking, inklusiwiteit, transformasie, regstelling) sonder om (sover bekend) ooit iets goed van Afrikaans te sê of sy persoonlike lojaliteit teenoor die taal te betuig. Dat daar nou uiteindelik (volgens die jongste Rapport) sterk beswaar teen die agteruitgang van Afrikaans as onderrigtaal op Stellenbosch is, moet verwelkom word. Hibridiese Afrikaans is die soort Afrikaans wat Koopman as ideaal voorhou. Hy het sy professorale intreerede in Engels gelewer aan 'n gehoor wat feitlik heeltemal uit Afrikaanssprekendes bestaan het.
Wat die voorafgaande duidelik maak, is dat as politiek voorrang bo bv Afrikaans (of opvoedkunde) kry, sulke dissiplines skade ly. Politieke korrektheid in bv die ATR veroorsaak dat mense wat nie werklik Afrikaans-lojaal is nie as volwaardige besluitnemers toegelaat en aanvaar word. Dan swaai die stert die hond en is Standaardafrikaans die verloorder. Sodra daar 'n politiek-korrekte inklusiewe benadering is, soos by die ATR, misbruik nie-wittes hulle posisie om (soos in die UDF-era) met dreigemente en boikotte hulle sin te kry. Op hierdie manier word taalaksies impotent gemaak. Dit is waarom die ATR nog nie eens taalbesoedeling of bv Koopman se taalhibriditeit (spesifiek die gebruik van onnodige Engelse woorde in Afrikaans) veroordeel en die waarde van Standaardafrikaans beklemtoon het nie.
In so 'n politiek-korrekte opset word die rolspelers taallammetjies (met die klem op "lam"). Afrikaans kan blykbaar nie vry van politieke oorwegings bevorder word nie. Daarvoor is Afrikaans en die Afrikaner te ineengestrengel. Die insluiting van politiek in 'n taalstryd hou noodwendig nadele in. Dit saai bv verdeeldheid. Maar die groot voordeel is dat taallammetjies in 'n kultureel-gesonde politieke opset, plek vir taalbulle maak. Hulle kan dan daadwerklike resultate behaal. Ek is bv oortuig daarvan dat net 'n Afrikaner-rektor die taal- en kulturele aanvoeling kan hê om die voortbestaan van 'n Afrikaanse universiteit te verseker.
Die oorsprong van Afrikaans word deesdae dikwels en politiek-korrek tot die kombuistaal van slawe nagespeur. Die baie groter Europese (dus wit) invloed, naamlik Nederlands, word dan misken. Verder is dit hoofsaaklik wittes (dus Afrikaners), bv die Genootskap van Regte Afrikaners en woordeboekopstellers en skrywers, wat beslag aan Afrikaans, insluitende Standaardafrikaans, gegee het. Dit is danksy wittes dat Suid-Afrika tot die voorste land in Afrika ontwikkel is. Insgelyks bly die heil van Afrikaans aangewese op regte Afrikaners.
| < Vorige | Volgende > |
|---|





