praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Menings Briewe Persvryheid

Persvryheid

E-pos Afdruk PDF
Dit sal 'n kwade dag wees as die ANC se planne om persvryheid in Suid-Afrika aan bande te lê, werklikheid word. Sou daardie dag egter wel aanbreek, sal die pers aan homself en aan die gemeenskap verantwoording moet doen oor sy eie aandeel daaraan.

Niemand kan 'n nuusblad se plig en funksie om in te lig, ontken nie. Die skrywers van rubrieke en artikels kan daarin seer sekerlik ook, naas inligting, hulle eie opinies lug. Die ingeligte leser verstaan dit in daardie lig en sien dit as deel van 'n gesprek waaroor die laaste woord nie noodwendig gespreek is nie. Sien byvoorbeeld die uiters eensydige en hoogs aanvegbare artikel van emiritus professor Albert Venter in By van Saterdag 28 Oktober 2011, wat noodwendig tot reaksie en verdere gesprek behoort te lei.

Nie so met nuusverslaggewers en nuusberigte nie. Die nuusberig behoort die klinies korrekte oordrag van inligting ten doel te hê. By die onkritiese en oppervlakkige leser is daar 'n ongelukkige tendens om die geskrewe woord sonder meer as die waarheid te aanvaar. Nuusberigte wat aansluiting vind by my beroeps- en belangstellingsvelde spreek dikwels van onkunde en bevat tegniese onjuisthede en sigbare onwaarhede. Dit word egter met soveel selfvertroue deur 'n duidelik nat-agter-die-ore verslaggewer aangebied dat 'n persepsie by 'n noemenswaardige getal lesers ontstaan dat die inhoud van die berig die waarheid korrek weergee. Dit laat 'n wrang smaak in die mond van die ondersteuner van persvryheid as die beoefenaars van daardie vryheid so argeloos en slordig daarmee omgaan.

'n Verdere en ernstiger vorm van misbruik van die magtige platvorm waarop die nuusverslaggewer staan, is berigte wat gekleur word deur die persoonlike vooroordele van die verslaggewer. En ongelukkig is dit nie die groentjies in die bedryf wat hulle hieraan skuldig maak nie. Dit is senior joernaliste en deur net na die onderwerp van die berig en die naam van die joernalis te kyk, is die trant van die "berig" gewoonlik voorspelbaar. Dinge word dan dikwels verder vertroebel deur die misleidende titels en subtitels wat die berig dra.

'n Onlangse voorbeeld van hierdie bedenklike soort joernalistiek is die berig onder die opskrif 'Is net wit mense welkom?' op bladsy 4 van Beeld van Donderdag 27 Oktober 2011. In die inleidende sin word gesê "Die onlangs gestigte Afrikaner Burgerlike Netwerk (ABN) het gister vir omstredenheid gesorg...". Feitelike fout: Dit is mnr Christo van der Rheede wat vir enige "omstredenheid" waarvan daar sprake mag wees, gesorg het. Dit is mnr. van der Rheede wat die rassekaart speel waar dit nie ter sprake is nie. Dit is mnr. van der Rheede wat (weens rasse-oorwegings) wil hê dat die Afrikaanse Taalraad en die FAK "deelname aan die ABN indringend (moet) heroorweeg". Sien in hierdie verband ook die SMS van D.Oliphant in Vrydag 28 Oktober 2011 se Beeld: "Christo van der Rheede, kan jy nie maar met die ABN saamwerk sonder om jou eie ego voorop te stel nie ?"

Die berig sê voorts dat 19 organisasies, "van Jong Dames Dinamiek .......tot die Afrikaanse Taalraad, ...." lede van die ABN is. Feitelike fout nommer 2. Sien die ewewigtige reaksie van dr. Michael le Cordeur (ondervoorsitter van die ATR) in die opvolgberig van Jan-Jan Joubert en die brief van Jacques van der Elst (hoof-uitvoerende beampte van die ATR) in Saterdag 29 Oktober 2011 se Beeld. Die opvolgberig bied genoeg stof van sy eie om op te reageer en kommentaar te lewer. Dit sal egter van geen nut wees nie omdat hierdie brief, indien gepubliseer, tien teen een in elk geval al reeds verkort gaan word (hopelik met behoud van die essensie daarvan).

Die inhoud van die oorspronklike berig ondersteun ook nie die subtitels nie. Behalwe dat die berig meld dat mnr. van der Rheede "van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) " is, is daar geen aanduiding in die berig dat sy e-pos enigiets meer as sy persoonlike gevoel weergee nie. Watter substansie het die eerste subtitel " 'Laertrek-kodetaal' pla stigting" dan ? Die tweede subtitel by die oorspronklike berig lui: "Twis oor Afrikaner-netwerk". Na watter "twis" word daar verwys ? Die berig self bevat glad geen verwysing na enigiets wat maar enigsins as sulks beskryf kan word nie.

Die eenvoudige waarheid is dat die skrywer van die berig, Jan-Jan Joubert, obsessief en passievol gekant is teen enigiets wat vir hom klink, lyk of ruik na die bevordering van of verbandhoudend is met die (wit) Afrikaner se belange. Dit is algemene kennis dat hy 'n "boerebasher" by uitstek is. Dit het tydens sy onderonsie jare gelede met Steve Hofmeyr by die KKNK na die oppervlakte gekom en het nog nooit verander nie. Wat egter vreemd is, is dat Beeld volhou om juis van hom gebruik te maak om meningsartikels vermom as nuusberigte oor hierdie en verwante onderwerpe te skryf. Dit ondermyn Beeld se geloofwaardigheid en maak 'n bespotting van persvryheid. Die leser is geregtig op 'n onbevooroordeelde weergawe van nuusgebeure en nie 'n leuenagtige verdraaing daarvan nie.

'n Bepaalde nuusberig oor 'n bepaalde onderwerp en geskryf deur 'n bepaalde joernalis moes noodwendig ter wille van illustrasie en bewysplase hier ontleed word. Die saak waaroor dit gaan, strek egter veel wyer, raak 'n verskeidenheid onderwerpe aan en betrek meerdere joernaliste. Talle mense in die samelewing kan getuig van die vernietigende effek wat die pers al op hul eie, familie, vriende en kennisse se lewens of die wel en wee van instansies of organisasies waarby hulle betrokke is, gehad het. Dit as gevolg van onsensitiewe en ongekontroleerde wanvoorstellings of blatante leuens wat deur onervare junior joernaliste (byvoorbeeld hofverslaggewers) die wêreld ingestuur word. Veel erger is egter die berekende skeeftrekking van die waarheid deur sogenaamde senior spesialisjoernaliste soos Jan-Jan Joubert. En moenie glo dat diesulkes enigsins boetvaardig is wanneer dit duidelik word dat die waarheid geweld aangedoen is nie. Dan is dit net nie meer nuuswaardig nie of 'n nikseggende "regstelling" word, dikwels weke na die tyd en in opdrag van die persombudsman, bykans onsigbaar weggesteek op 'n obskure plekkie iewers in die koerant , geplaas.

Die eenvoudige keuse waarvoor die pers te staan gekom het is om voort te gaan op die pad van selfvernietiging of te besin en die regte ding reg te doen. Die staatspresident het in die afgelope week openbare ampsdraers die trekpas gegee en kommissies van ondersoek aangestel, nie omdat hy skielik die lig gesien het nie, maar wel omdat hy geen ander keuse gehad het nie. Die huidige ondersoek na en pogings van die pers tot selfregulering spruit eweneens voort uit noodsaak en allermins uit eie oortuiging en 'n dwingende behoefte om selfondersoek te doen en reg te maak wat verkeerd is. Die vraag is net of die pers nie sy hand reeds te lank en te dikwels oorspeel het om nou nog iets aan die saak te kan doen nie.

Te midde van al die vergrype, korrupsie en onbevoegdheid waaroor daar feitelik korrek verslag gedoen is, was meerdere ANC politici en kaders wat in die openbare sektor ontplooi is, egter ongelukkig ook aan die ontvangkant van bedenklike joernalistiek. Moet dus nie verbaas wees oor die felheid van die aanslag op persvryheid uit daardie oord nie. En moenie vergeet dat diesulkes, anders as die gewone landsburger of burgerlike organisasies wat te na gekom word , oor die politieke mag beskik om die pers, tot nadeel van die breë gemeenskap en die demokrasie in Suid-Afrika, te muilband nie. Dan moet die gewone landsburger, burgerlike drukgroepe en organisasies wat dikwels verguis word deur Jan-Jan Joubert, Adriaan Basson en 'n lang lys geesgenote, weer die kastaiings uit die vuur probeer krap.

Willem van Rensburg se uitstekende brief is aan Beeld voorgelê, maar is nie gepubliseer nie.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: