praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Vrydag, 12. Maart 2010

Bygewerk op:04:57:57 PM GMT

Jy is hier: Menings
Facebook Twitter Digg Delicious Stumbleupon Google Bookmarks RSS Feed 

Menings

Politieke kommentators se taai toffie

E-pos Afdruk PDF

Van skrywers en digters word dikwels gesê hulle is die gewete van die volk. Hulle word ‘n ruim mate “digterlike vryheid” gegun om te kan krap en oopkrap waar dit nog net liggies jeuk, en die lot van verontregtes aan die groot klok te kan hang. Gewoonlik word die kant van die sogenaamde “underdog” gekies, en in die apartheidsjare het digters en skrywers met mekaar gekompeteer om te verwoord oor hoe die ongenadige son oor natgeswete Afrikakoppe neerbak.

Nou sit die skoen vierkantig aan die ander voet. Van die bekendes van gister en eergister sal periodiek hul ontgogeling in rubrieke verwoord, maar ons poësie en prosa bly redelik gestroop van aktuele onderwerpe soos plaasmoorde, en veral die ongelooflike wreedheid daarvan, ontevrede kligooiers wat nou weer onder rubberkoeëls en lood gesteek word, endemiese korrupsie, baantjies vir boeties en vele meer.

Politieke en aktualiteitskommentators kon dié keer nie wag vir die nasie se gewete om hul agterente in rat te kry nie. ‘n Ruk lank het politieke korrektheid nog sterk inhiberend ingewerk, maar nou kan die kommentators nie langer versiersuiker strooi deur die een of ander kontekstuele afwatering vir uitsprake soos dié van Malema en kaders te vind, en die regering se swye of goedpraat daarvan nie. Nié as hulle nog geloofwaardigheid wil behou nie.

Skielik is die Sampie Terblanche’e feitlik doodstil.

Politieke kommentators wat nog op hul sg “struggle credentials” wil terugval vind skielik dat hulle veral op die internet aan flarde geruk word – dikwels kru, maar ook dikwels deur hoogs kundige en goed ingeligte nuwe generasie kommentators wat nog gewoonlik deur die media in die doofpot gehou word. Die jongste ongeval hiervan is Die Burger se redakteur, Henry Jeffreys.

Die liberale fossiele, veral anderkant die Wingerdgordyn, het nog nie gaan lê nie. Dit het byvoorbeeld ‘n mode uit hierdie geledere geword om in rubrieke te lys hoe hulle selfs misdaadslagoffers was, maar ten spyte daarvan trots liberaal bly.

Kommentators wat oopkop aanbeweeg, word as nieu-konserwatiewes uitgekryt, asof dit die mees verfoeilike goggas op aarde is. Nou is die liberale teen hul veronderstelde aard juis diegene wat gatvas aan gister klou.

Vanoggend, in Volksblad se rubriek Brandpunt, val Tim du Plessis weg met die volgende standpunt: “’n Nuwe tydsgees is aan die ontwaak. Mense, gemeenskappe, minderhede, noem maar op, staan op en sê” ‘Genoeg is genoeg. Nou vat ons ons regte terug.”

Hy verkwalik die liberale wat die taalstryd in Stellenbosch veg onder die vaandel dat dit ‘n keuse tussen Afrikaans en uitnemendheid is.

Hy sluit af met ‘n aanhaling van DF Malan wat gesê het: Waar Stellenbosch vandag staan, staan Suid-Afrika môre. “Nie meer nie,” sluit Tim af. “Deesdae arriveer Stellenbosch eers môre of oormôre.”

Tim het self pas onder, wat hy nou die nuwe tydsgees noem, deurgeloop toe hy ‘n vrypostige joernalis wat hom met die tydsgees misreken het, tot hulp gesnel het. Terwyl hierdie tussenspel afgespeel het, het die nuwe tydsgees onverbiddelik voortgesnel, aangehelp deur die hofnar Malema se breedsprakigheid, en pres. Zuma se flaters. Selfs die mildelike inspan van gister se politieke kommentators wat nou tot weinig meer as naïewe ploeteraars gereduseer geraak het, kon die tydsgees stuit nie.

Die politieke kommentators wat die oorgang reg gelees het, het egter ook ‘n taai dilemma om mee rekening te hou. Die omgewing waarin nou waargeneem en ontleed word, is een van erge negatiwiteit. Dienste vou, korrupsie floreer, politici maak skandes...

Dis maklik om kommentaar te lewer, maar geen kommentator het jare gestudeer om dag vir dag sy mond oor riool in die strate uit te spoel nie. Rioolpolitiek het die geneigdheid om die kommentator self te bevuil, en dit stroop die nuwe gees van fatsoenlikheid.

Nuwe aankomelinge bevind hulle ook skielik in die geledere van kommentators wat al dekades in hierdie sfeer nes geskop, en dekades lank deur die gewese hoofstroom afgekraak en geminag is.

In die finale instansie: Politieke kommentators is mense en mense is feilbaar. Geen politieke kommentator kan hom voordoen asof hy alleen die kennis en insig in pag het nie. Om elke dag, afhangende van hoe die wind waai, ‘n ander deuntjie te sing, reduseer hom ook tot ‘n leibeurtprokureur wat moeiteloos van saak tot saak die rigting waarin die water in die vore vloei verander om sy nuutste saak te pas.

* Vanoggend stuur ek vir die eerste keer my nuuskommentaar afsonderlik na Praag omdat ek graag ‘n paar aspekte wat op die Woernaal opduik wil aanspreek.

* Riempies, baie dankie vir jou gereelde terugvoer. Ek hoop ek het van jou vrae hierbo beantwoord. Die instansies waarna my nuuskommentaar gestuur word en enkeles selfs voor betaal, is van taamlik links tot taamlik regs op die politieke spektrum. Praag is egter die instansie wat dit by verre die meeste gebruik.

* Ek probeer nie voorgee dat ek nie my eie standpunte koester nie, maar die hoofdoel van my werk is om politiek-wetenskaplik en staatsregtelik suiwer te wees. Die kieser het immers die reg om ook hul eie keuses te maak nadat hulle aan die spektrum, maar ook ‘n weergawe gestroop van sg klein politiek, blootgestel was. (In die aanloop tot die vorige verkiesing het ek – in my professionele hoedanigheid – twee verskillende partye teen betaling met hul nuusverklarings gehelp. Ek sou verkies om dit nie te doen nie, maar met my kwalifikasies en velkleur is werk so skaars soos hoendertande.

* In die proses weet ek baie goed ek kan nie alles vir almal wees nie. Dit is ook nie my doel nie, en daarom weet ek ook by voorbaat dat ek, soos ander, kritiek gaan kry. Wanneer iemand sy mond uitspoel omdat hy nie die werklikheid wil aanvaar nie, is een ding, maar ek is ‘n mens en boonop een met disleksie, ek kan onmoontlik nie alles van alles weet nie en het soms feitegewys die kat aan die stert beet. Ek probeer om dit tot die minimum te beperk, maar uitsny kan ek dit net doen deur op te hou om my passie te bedryf. En vir daardie blapse vra ek sommer by voorbaat en terugwerkend verskoning.

Weet die linkerhand....?

E-pos Afdruk PDF

Vanaand voer pres. Jacob Zuma na verwagting samesprekings met bekende Afrikaners en Afrikanerorganisasies. Buitengewoon baie is op die spel.

Dié samesprekings volg kort op die hakke van ‘n nuwe nuusstorm wat Zuma se aangewese kroonprins, Julius Malema eiehandig veroorsaak het. Dié hofnar loop hom nou minstens tien klagtes van haatspraak op die lyf.

Soos gebruiklik is die werklike probleem nie dat Malema dit sê nie, maar dat die ANC laer om hom trek.

Aanvanklik is ontken dat Malema sekere woorde kwytgeraak het, maar die SABC was braaf genoeg om aan te dui dat dié instelling beeldmateriaal het wat aandui dat hy dit wel geuiter het. Die ANC se reaksie was om te ontken dat dié bevrydingslied haatspraak behels.

Die media wys egter daarop dat die ANC die lied reeds in 1993 verbied het.

In die proses het Malema nou die minister van polisie, Nathie Mthethwa, effektief gerepudieer nadat die minister op lange laas plaasmoorde baie gekwalifiseerd veroordeel het. Mthethwa het politieke partye gevra om nie politiek van plaasaanvalle te maak nie, maar hieroor steek sy eie party nou vir hom ver tong uit.

Zuma is egter ‘n ervare Houdini. Pas het hy weer die ongeneentheid met Solidariteit se misdaadveldtog in ‘n geleentheid omskep om dié vakbond met mooi woorde ‘n rukkie lank te pasifiseer, en selfs om lof aan Zuma toe te swaai.

Gaan Zuma dit vanaand weer regkry?

Dié keer is die teerling, wat die publiek betref, egter gewerp. Zuma mag dalk vanaand die afvaardiging met sy bekende sjarme om sy pinkie draai, maar in die oë van die publiek gaan die samesprekings net nog hol woorde wees as Malema nie onomwonde vasgevat word, en die probleem op ‘n manier blywend aangespreek word nie.

In ‘n sekere sin bevind Zuma hom nou tussen die duiwel en die diep blou see, en sekere mediagroepe bespiegel kliphard oor tekens dat die president se uurglas binnekort leeggeloop gaan wees.

Zuma het inderdaad nie net te kampe met, wat Jakes Gerwel en Max du Preez verregsing noem nie, maar ook groeiende verset aan die teenoorgestelde kant van die politieke spektrum waar Comrade Winnie haar mond uitspoel. Die verregsing is in ‘n groot mate die resultaat van Malema se ongetemde losbekkigheid, terwyl ander groeperings hul pond vleis begin opeis na Zuma met beloftes Kersvader gespeel het.

Zuma besef ook dit is nie meer so maklik om Malema vas te vat en sodoende polarisasie in die land te help temper nie. Waarnemers wys al ‘n geruime tyd daarop dat Malema se radikalisme ‘n breë stroom onder die swart jeug verteenwoordig. Malema self is dus nou net die oortjies van die seekoei.

Tog het Zuma in die praktyk nie vanaand ‘n keuse nie. Geen Houdiini-toertjie om Malema te laat loskom gaan meer goed genoeg wees om polarisasie te stuit nie.

Zuma moet duidelik sy voet neersit, én dit bedoel, en daar moet sigbaar van werk gemaak word. As hy nie die ruggraat hiervoor het nie, moet hy plek maak vir iemand wat wel ernstig oor die land se toekoms voel.

Banggatte, verdaag asseblief!

E-pos Afdruk PDF

Mens kan nogal of heel bemoerd of erg naar of sommer net die bliksem in raak indien jy iets lees van iemand soos Henry Jeffreys.

Hoekom moet geld inbetaal word in 'n bankrekening van die plaaslike munisipaliteit as raadslede dan die geld vat en partytjie hou wat soms tot R15000 per kop kos, of hulle Mercs en BMW's en 4X4's inneem vir dienste, nuwe bande koop en om hulle nepotisme verder uit te brei?

Dan sit ons met die holruggeryde gevolge van geen water want die pype lek vir dae en weke aanmekaar, die swartsakke lê opgehoop en die paaie lyk soos die beste 4X4-roetes wat daar is.

Omkopery en bedrog vind daagliks plaas. Die staatsklinieke in Bloemfontein en omgewing so ver as Koffiefontein en Jacobsdal het nie net geen anti-TB en ARM nie, maar ook geen gewone antibiotika en pynmiddels nie. Daarvan het ek genoeg bewyse, vra maar.

Ons moet net eenvoudig nie meer geld aan die wolwe oorbetaal nie.

Ek wens ek kan net hierdie gedagte in mense se koppe kry. Banggatte het ons eenvoudig nie meer nodig nie.

Bladsy 1 van 203