In hierdie geëmansipeerde tye waarin ons leef, is daar steeds van ons soort oor. Dis nou die vroue wat graag so 'n treetjie agter hul mans wil loop. Nie omdat hulle ondergeskik voel nie, maar omdat hulle die veiligheid van 'n leier wat die pad verken en die welvaart van sy volgeling op die hart dra, verkies.
Die Bybel, wat die man as die hoof van die huis uitwys, het steeds vir my ‘n groot krag en waarheid. Ek glo nie aan die onderdrukking van die vrou nie, glad nie! Mans wat hul vroue woordeliks of liggaamlik skade berokken het tot die laagste van laagtepunte gedaal. 'n Man wat sy vroulike metgesel met deernis behandel, maak my vrouehart week en verkry onmiddellik my hoogste agting.
Vir my is daar egter troos in die woorde: "Kom ons hoor wat sê Pa." Dit beteken geensins dat ek nie 'n eie opinie oor die saak kan vorm nie, maar die laaste beslissing is meestal by Pa – wat ook die verantwoordelikheid van die besluit neem.
Dit laat my veilig en beskut voel. Sy liefde en besorgdheid is ons hawe. Maak dit sin? Vir my, ja. In hierdie wêreld wat so onseker is, is dit die enigste ding wat nog seker kan voel. Elke groep het tog 'n leier, so is die gesin ook 'n besonderse groepie en moet dit ook 'n leier hê.
Dit is nog vir my lekker as my man my hand vat as ons oor die straat stap. As hy my help met 'n swaar pakkie of al sy krag gebruik om ‘n skroefbottel oop te draai. Dit is vir my wonderlik as hy oor my besorgd lyk as ek moeg is en die werk uit my hande neem. Dames, wees nou eenmaal eerlik, ons is liggaamlik tog die swakker weergawe! Die meeste van ons wil volkome vrou voel en so behandel word. 'n Onbekende skrywer sê die volgende: '”n Dame is iemand wat 'n man soos 'n ware heer laat optree.” (Vry vertaal.)
Daar is plek vir sterk vroue in ons wêreld. Vroue wat die sakewêreld betree kan dieselfde skuiwe as haar manlike eweknie maak, sy kan dieselfde ure insit en sy moet ook dieselfde vergoedingspakket kry, maar die verskil is dat sy vanaand by die huis moet kom en die bestuur van 'n huishouding met Pappa moet deel en hom toelaat om haar te vertroetel en die verantwoordelikheid te neem om die gesin kerngesond te hou.
Daar is vroue wat nêrens manlike gesag duld nie. Hulle betoog, skryf versoekskrifte en hou konferensies oor vroueregte. Hulle ken nie die geheime wapen van vroue, dat deur swak voor te kom, hulle eintlik die wêreld kan regeer nie.
| Volgende > |
|---|





