| Goeie Ier, slegte Ier |
|
|
|
| Geskryf deur Joseph Secreve | |||
| Saterdag, 19 Februarie 2011 15:58 | |||
|
Soos wat ek kyk na die indrukke wat daardie Ierse kaviaarkommunis die afgelope naweek met sy alewige sonbril en cowboyhoed op die menigte agtergelaat het, het my waardering vir Ierland min of meer dieselfde kant opgegaan as hul staatsskuld. Dit het 'n nuwe dieptepunt bereik. Paul 'Bono' Hewson is daardie groot kleinburgerlike weldoener wat bittergraag Afrika van sy neokoloniale kettings wil verlos, maar blykbaar sukkel om te verstaan hoe die sleutel in die slot pas; iets waaroor Paul Theroux hom in 2005 al flink geroskam het (lees "The Rock Star's Burden" in die New York Times). Elke keer as Bonehead die Weste weer jammerhartig staan en betig oor Afrika se ellende, doen hy geen enkele moeite om te praat met die gewone swarte wat iewers in 'n kleihut woon nie, maar wend hy homself direk tot die groot leiers van daardie land. Die munt val blykbaar nie by hom dat hierdie leiers 'n besonder groot aandeel het om Afrika in armoede te hou nie, juis omdat hulle sodoende op sy Westerse sentimente kan speel om hul eie bankrekenings te spek. Daardie geld vloei uiteindelik tog maar weer na banke in Switserland en in die hande van die groot geldmoonthede. Bono kan geen fout vind met strydliede soos "Kill a Boer" nie, want as Ierse Republikein is hulle ook gewoond daaraan om sulke ophitserye te uiter. Hy kan dus nie verby sy eie vooroordele sien nie, en vergelyk Afrika se stryd met sy eie...iets wat ons linkse vriende elders ter wêreld op 'n gereelde basis doen. Nogal ironies hoe die Groot Bewakers Teen Vooroordeel dikwels die mees bevooroordeelde is van almal. Gelukkig kan ons Ierland nie heeltemaal afskryf nie. Dit is immers die land van Samuel Beckett, James Joyce en Oscar Wilde, die groot drie aardskuddende skrywers wat die Trinity College in Dublin op die wêreldranglys gesit het. Dit is ook die land van CS Lewis, daardie skrywer wat die grootste deel van sy lewe in Engeland gewoon het, maar nooit sy Ierse agtergrond verloën het nie. CS Lewis was 'n bedrywige skrywer gewees, maar sy belangrikste werk is een wat helaas nie baie aandag geniet het nie. The Abolition of Man is desnieteenstaande deur die konserwatiewe Edmund Burke stigting uitgesonder as een van die grootste werke van verlede eeu, en kan gratis op die internet gelees word. The Abolition of Man bestaan uit drie onderdele, te wete 'Men Without Chests', 'The Way', en derdens 'The Abolition of Man'. Dit is veral die eerste onderdeel 'Men Without Chests' wat besonder aandag verdien. Hierin argumenteer Lewis hoe verkeerd dit is om menslike sentiment te beskou as iets wat geen weerspieëling van 'n hoër werklikheid is nie. Dit het hy geskryf op 'n reaksie dat kinders in Engelse skole geleer word dat gekultiveerde sentimente eintlik nie bestaan nie, maar slegs losstaande uitinge is van hoe iemand op 'n bepaalde oomblik voel. Die voorbeeld wat hy gebruik is twee mense wat na 'n waterval kyk. Die een beskou die waterval as 'subliem' en die ander een as 'oulik'. Skoolkinders leer nou van hul onderwysers dat hierdie verskil in waarneming na die waarnemers se eie gemoedstoestand verwys, en dat daar niks inherent is in die waterval wat lei tot 'n hoër waarderding daarvan nie. Hierdie opvatting is die dood in die pot vir enige vorm van lettere, van waardes, van etiek, teologie en politiek, want met so 'n siening is jy besig om kinders se siel uit te sny terwyl hulle nog nie eers ontwikkel het nie. Elke literêre ontwikkeling word oorbodig verklaar as dit die geval is. As kinders (of enigiemand) geleer word dat emosies in geen verhouding tot die werklikheid staan nie, kan mense begin om gekultiveerde emosies as vyandig te beskou, want daar is geen plek vir sulke gevoelens nie. Al wat dan oorbly is die verstand en die basisemosies. Dit is wat Lewis bedoel met mense sonder borskaste. Die hoof staan as simbool van rede, die buik is simbool van die basisemosies en die bors staan vir die delikaat gekultiveerde sentimente wat 'n mens na sy hoër vryhede stuur. Dit is die kombinasie van rede en hart wat 'n mens se diepliggende gevoel van moraal help kweek. Lewis se mening is dat daardie gevoel van hoër strewe iets is wat universeel is en sy ontstaan sowel buite as diep binne die mens het. Die begrip wat hy hiervoor gebruik is die Chinese Tao. Dit kan allerweë ook as die mens se gevoel van 'n godsbesef beskou word. Die groot gevaar wat kan ontstaan by mense sonder borskaste is dat hulle geen onderskeid kan tref teen werklike en valse senitmente nie. Hiermee kan hulle juis die verkeerde weg inslaan wat vir propagandiste baie nuttig kan wees. Dit lyk verdag veel soos die "Geloof is die opium van die massa"-leuse van Karl Marx. Ware kennis met 'n hoë mate van waaragtigheid word weggeneem en niks word in die plek daarvan gesit nie. In die slotparagraaf van Men Without Chests skryf Lewis: "And all the time—such is the tragi-comedy of our situation—we continue to clamour for those very qualities we are rendering impossible. You can hardly open a periodical without coming across the statement that what our civilization needs is more 'drive', or dynamism, or self-sacrifice, or 'creativity'. In a sort of ghastly simplicity we remove the organ and demand the function. We make men without chests and expect of them virtue and enterprise. We laugh at honour and are shocked to find traitors in our midst. We castrate and bid the geldings be fruitful." Bono verteenwoordig presies hierdie gevaar wat Lewis geïdentifiseer het. Hy roep op om blanke voedselprodusente dood te maak en verwyt blankes dat hulle te min doen om Afrika van voedsel te voorsien. Soos Lewis sou gesê het is dit nie soseer dat hy 'n groot kop het nie. Dit lyk net so omdat sy borskas weggekwyn het. Dalk moet die Sweedse Akademie vir hom maar sy felbegeerde Nobelprys gee. Dan kan hy tesame met Tutu, Mandela, Luthuli en Gordimer bekendstaan as een van daardie groot humanitêre figure wat Droomkontinent Afrika in 'n lewende hel omskep het.
|
|||
| Laas Opdateer op Saterdag, 19 Februarie 2011 20:20 |
| Verwante artikels: |
|---|
|
Goeie Ier, slegte Ier




