praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Joseph Secreve Ontologiese onsekerheid

Ontologiese onsekerheid

E-pos Afdruk PDF

Na aanleiding van Dan Roodt se artikel "Vir 'n nuwe kultuurpolitiek" het die volgende gedagte by my ontstaan oor die toestand van die moderne Afrikaner.

Hierdie toestand is een wat al langer duur as slegs die laaste anderhalfdekade se ANC-terreurkampanje, maar onder die ANC het hierdie toestand 'n eiesoortige kritieke massa bereik.

Die "toestand" waarna ek verwys kan die beste omskryf word met die term "ontologiese onsekerheid"; 'n naam wat die eerste keer deur die radikale Skotse psigiater Ronald D. Laing gebruik is. Dit behels die onvermoë om 'n ware identiteit te vorm, aangesien hierdie identiteit geen wesenlike vashouplek kan kry vanuit die omgewing nie. Wanneer iemand voortdurend verneder word op sy manier van oorkom, sy waardes, geloof en opvatting, gaan hierdie persoon sy "self" agter 'n web van maskers en akteurwerk wegsteek om te sorg dat sy ware, innerlike identiteit nie verder geskaad kan word nie. In uiterste gevalle kan hierdie persoon selfs begin om 'n walging te ontwikkel teen dit wat sy eie is en homself sodoende verder begewe in sy nagemaakte identiteit.

Ontologiese onsekerheid veroorsaak dat 'n mens voel dat sy ware self geen bestaansreg het nie en iets ongewens is, en so iemand doen sy bes om hierdie self te beskerm, soos wat 'n mens bakhand hou teen 'n vlammetjie in die wind. As 'n mens hierdie innerlike self egter te veel toeseël agter 'n vals masker, kan hy verder kontak verloor met sy ware dryfvere, waardeur hy 'n gevoel van leemte binne homself ervaar. Hierdie leemte gaan homself op sy beurt slegs verder stuur in die rigting van sy vals identiteit, ten einde lewendig te voel, nie-wetende dat dit hom juis verder gaan vervreem nie. Die resulterende leë gevoel laat iemand onseker agter met 'n diepgewortelde gevoel van wanhoop en rigtingloosheid. Hierdie persoon sou Laing omskryf as ontologies onseker.

As voorbeeld van ontologiese onsekerheid het Laing op 'n stadium beskryf hoe twee psigiatriese pasiënte in 'n argument betrokke was, toe die een teen die ander uitvaar met: "Jy sê so omdat jy wil wen. Ek sê so om my bestaan te bevestig". Op die oog af lyk dit asof hier sprake is van 'n wanvoorstelling van 'n malmens, maar is in werklikheid goed verstaanbaar in terme van sy patos: Om hierdie argument te verloor sal sy gevoel van self, van bestaan-in-die-wêreld dermate aantas dat hy gereduseer sal word tot niks meer as 'n voorwerp van die ander se hoon nie.

Dit lyk aanneemlik dat hierdie proses wat binne die gedagtewêreld van een mens afspeel, ook van toepassing is op 'n etniese volk as geheel. Enige vorm van kulturele ekspressie wat eie is aan ons kultuur is die onderwerp van verdagmakery, bespotting of karikaturisering, wat 'n onmiskenbare element van vernedering bevat. En nou probeer ons volk as geheel 'n manier te vind hoe ons die beste kan aanpas in hierdie vyandige omgewing. Sommige gryp ekstra hard terug na die kern van Afrikaneridentiteit en probeer die res van die volk op te voed met waardes wat kongruent is met ons ware identiteit. Ander het Afrikanerdom die rug toegekeer en probeer hul bes om alles wat hul voorouers opgebou het, af te breek, te bespot en as minderwaardig of skadelik te beskou. Nog ander probeer om waardes wat hulle van huis uit gekry het te versoen met die namaakidentiteit wat die ANC-lakeie wil hê ons moet dra.

Die alomteenwoordige persepsie is egter dat daar geen of nouliks 'n kernidentiteit is wat Afrikanerdom identifiseer nie, en die gevaar wat hieruit kan ontstaan is verlamming en rigtingloosheid. Daar is geen maatstaf meer waarop gehandel kan word op 'n manier wat bindend is vir ons kultuur nie. Die gevaar wat hierdie vervreemding inhou, is dat dit veral Afrikanerhaters kan aanhelp om verder afbreuk te doen aan hul eie kultuur – ek bedoel nou Afrikaners self wat Afrikanerhaters is. Hulle is diegene wie se namaakidentiteit bestaan uit 'n minagting vir dit wat hul eie is, en hulle is diegene wat uit gebrek aan 'n innerlike gevoel van integriteit die heersende regime se ideale slaafs naloop. Hul identiteit is juis 'n paradoksale gebrek aan identiteit.

As 'n volk eenmaal in so 'n staat van verlamming verkeer, is protes onmoontlik. In hierdie toestand is daar sprake van 'n suiwer vorm van verdrukking. Iets wat 'n mens nie altyd besef nie is dat wanneer 'n volk werklik verdruk word, kom hy nie in opstand nie. Sy lede is te verdeeld, het geen middele nie, geen geld en koordinasie nie, en ook geen energie nie. Hulle glo ook nie dat opstand of protes gaan help nie. Volke begin eers te protesteer as hulle meer eenvormigheid kry, as hulle energie en hulpbronne kry en as hulle dink hul protes gaan help. Opstand vind meestal plaas wanneer die verdrukkende elemente hul krag begin verloor en die opstandelinge sterker in hul skoene begin staan. Die Soweto-opstande, die Franse Rewolusie, die opkoms van Nasionaal Sosialisme en Fascisme in Europa het juis hul ontstaan gehad toe die ergste tye agter die rug was en dit gelyk het asof beter tye gaan aanbreek. Volgens die Nederlandse historikus Geert Mak het die Eerste Wêreldoorlog ook op so 'n manier uitgebreek. Daar was te veel energie in Europa. Die sluipmoord op die Aartshertog Franz Ferdinand was slegs die laaste strooitjie wat die kameel se rug laat breek het.

Miskien is dit nou die tyd om die nuwe generasie Afrikaners op te voed met 'n goeie dosis Afrikanernasionalisme – geskoei op die beginsel van leef en laat leef - noudat die ANC se magsblok skeure begin vertoon. Dit mag dalk sorg om 'n einde te maak aan die rigtingloosheid en verdeeldheid van ons mense. As die omgewing ons geen ruimte bied om ons kultuur te beoefen nie, moet ons vanuit onsself begin en dit op 'n diepsinnige manier begin terugvat. Ons begin by die onvervreembare fondamente van ons historiese erfenis en kyk of ons dan ons pad opwaarts kan werk.

En dis altyd 'n goeie begin.


blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: