Op eerste aanblik lyk hierdie soos 'n edel gebaar. Laat die rykes ook maar 'n bietjie betaal aan al die ellende, is die tipiese slagspreuk wat 'n mens onder hierdie omstandighede kan verwag, veral van die sosialisties-gesinde Europeers. En tegelyk kan Buffett ook nou bekendstaan as 'n groot filantroop wat solidêr saamstaan met die middel –en onderklas.
Maar die vraag verrys oor die motiewe van dié man se skielike besluit. Bedoel hy dit nou werklik opreg, of skuil daar iewers 'n slang in die gras? 'n Baie ryk man, 'n belegger wat soos 'n roofdier orals kanse sien om meer geld te maak sal mos sy eie natuur verloën as hy nou ewe skielik 'n groot hap daarvan aan die belasting afdra? Iemand wat vir sestig jaar lank die beste belastingadviseurs, prokureurs en beleggers kan inhuur om sy kosbare dollars veilig te stel sal kwalik daardie hele mentaliteit omskakel net vir die armes, wat maar altyd daar sal wees, met of sonder hom.
Om sy motiewe te meet aan die werklikheid sal ons net gou moet kyk na die verlede. Soos Cicero gesê het is om onwetend te bly oor jou verlede soortgelyk as om altyd 'n kind te bly, en Buffett weet dat daar baie 'kinders' is in sy land.
Dit is nie die eerste keer in die Amerikaanse geskiedenis dat daardie land groot skuld gehad het nie. Na die Amerikaanse Rewolusie het die land gesamentlik ook besluit om die belasting vir die rykes te verhoog om die hoë skulde vinniger af te betaal. Die probleem was egter dat die bevolking op daardie stadium ontdek het hoekom die ryk mense nou eenmaal ryk was: Hulle huur die beste mense in om hul geld veilig te stel. Die gevolg was dat die belasting niks van die finansiële elite kon pluk nie, en die hoë belastingtarief het na benede gesyfer na die middelklas. Met ander woorde, diegene wat gehoop het om die minste swaar belas te word, het uiteindelik juis die meeste belasting betaal.
Meer onlangs kan ons dieselfde patroon sien. In die sestiger jare het 'n Amerikaanse koerant bekend gemaak dat 'n lid van die steenryk Rockefeller familie in 'n hele jaar slegs $ 685 aan inkomstebelasting betaal het. Terwyl hulle sê en ons dink dat hulle oor skuldgevoelens beskik en graag die arm mensdom wil verlig van hul ellende, is die realiteit dat geeneen van hierdie menere hul vakansiepaleise, hul private vliegtuie, seilbote, obligasies ensovoorts sal verkoop nie. Vanuit hul leefwêreld gesien is belastingbetaal vir plebs, en in die geval van Rockefeller was hy selfs 'n groot aanhanger van sosialisme gewees. Hierdie feite is mooi geïllustreer in Gary Allen en Larry Abraham se boek None Dare Call it Conspiracy uit 1971. Hierdie boek kan gelukkig gratis van internet afgelaai word en ek sal almal aanbeveel om hulself te vergewis van die inhoud, veral in die tye waarin ons nou leef. Dit verklaar onder andere waarom die wêreld se rykste bankiers pro-kommunisties was, want dis 'n perfekte lis om die rykes ryk te hou en die res van die bevolking op te sluit in 'n kaste waar hulle nie uit kan streef nie, en sodoende elimineer hulle enige moontlike kompetisie. Sosialisme werk soos 'n tang wat die rykes en armes gesamentlik inspan om die middelklas uit te knyp, uiteraard gefinansier deur die rykes.
Moet ons Buffett se skielike filantropiese ingewing op dieselfde manier sien? Hy stel voor dat diegene wat 'n miljoen per jaar verdien onmiddelik 'n hoër tarief moet betaal, en diegene wat jaarliks tien miljoen verdien onder nog ekstra belastingdruk moet staan. Feit is dat 'n gesin wat 'n miljoen dollar per jaar verdien deesdae welgesteld is, maar nie naastenby werklik ryk is nie. Hulle is diegene wat Buffett wil straf, en laat ons raai, hy sal nie in dieselfde verhouding sy ganse fortuin aan Jan die Taksman afstaan nie. Weereens is dit 'n kwessie van die superrykes wat hul geld veilig gaan wegsit in familietrusts en stigtings (veral 'denktenks' wat sosialistiese propaganda maak) terwyl diegene wat die spel nie verstaan nie die rekening gaan kry, en dan nog sowaar dink dat hulle 'bevoorreg' is om dit te ontvang.
Die Amerikaanse middelklas staan nou alreeds onder baie druk en die inkomste ongelykheid sedert die krisis in 2008 het aansienlik vergroot. Hierdie plan van Buffett gaan uiteindelik net verder die middelklas van die wal in die sloot help. Die middelklas word egter nog verder verlam met gerugte dat meer sosialisme 'onafwendbaar' is om die armes te help waardeur die staat sy invloed oor die burger sal 'moet' vergroot om vir hulle om te sien. Die woord 'onafwendbaar', is in sigself 'n taktiek om die vyand te verlam voordat hy 'n kans gehad het om sy tande te wys.
Die skrywers van die Amerikaanse Grondwet het goed besef dat as die burger nie die staat aan bande lê nie, sal die staat die burger aan bande lê. Dit lyk asof die ultrarykes die staat gaan gebruik om meer invloed oor sy burgers te vergroot soos wat chroniese werkloosheid dreig. Dit klink miskien hard, maar dis 'n vermomde seën dat die algemene mediese versekering (Obamacare) in die VS ongrondwetlik verklaar is, want daardeur is die invloed van die staat op die burger minder ingrypend, en is die pad meer oop om die ultrarykes van hul troon te stoot.
Die Amerikaanse ekonomie – moontlik gemaak deur sy grondwet - is voorlopig nog die motor wat die Weste aan die gang hou, en dit is in elke Westerse burger se belang dat hierdie motor so lank moontlik gesond bly loop. Die Buffetts en derglike 'filantrope' is juis besig om hierdie motor te beskadig vir hul eiebelang. Ons moet maar hoop dat bewuste burgers in daardie land genoeg kennis en krag kan monster om hierdie superrykes 'n bietjie van hul eie medisyne te gee. Dit sal tot ons almal se voordeel strek.
| < Vorige | Volgende > |
|---|
Warren Buffet se skynheiligheid




