praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Joseph Secreve

Rubrieke van Joseph Secreve

Drie groot rewo-illusies

E-pos Afdruk PDF
Ons word deesdae doodgegooi met geskiedvervalsings en propaganda wat aanwys dat ons die beliggaming van pure slegtheid is. Nie net gaan dit oor optredes uit die verlede nie, maar selfs op kulturele gebied lyk ons fundamenteel besmet te wees. Alles wat ons opgerig en gefinansier het moet ten onder gaan in 'n golf van barbaarse transisie.

Die Suid-Afrikaanse "transisie" kan allerwee in dieselfde asem genoem word as die ander twee voorloper-rewolusies op hierdie gebied, te wete die Franse Rewolusie van 1787 en die Oktoberrewolusie van 1917. Hierdie drie aardskuddende bewegings het inderdaad 'n aantal dinge met mekaar in gemeen gehad. Elkeen het byvoorbeeld 'n element van Kommunisme bevat; elkeen was teen Christendom gekant en elkeen was gekenmerk deur uiterste bloeddorstigheid en barbarisme. Ook het elkeen wereldwyd skokgolwe veroorsaak.

Die Franse Rewolusie was bekend gewees vanwee sy belangrikste wapen, die guillotine. Daarbenewens was die gemeengoed gewees om Christendom te belaster, soos Voltaire op 'n stadium geskryf het "Geen God geen meester" en "Ruk die bastaard van Sy kruis af!"

In 1917 onder die Bolsjewiste het die aantal kerke afgeneem van 29 584 tot minder as 500 in die periode 1927 – 1940, en wyle Aleksandr Solzjenitsyn skat die aantal hoofsaaklik Christene wat omgekom het op 66 miljoen. Origens kon diegene wat gewaag het om indertyd 'n sinagoge te vandaliseer op die doodstraf reken.

Die situasie in Suid-Afrika is welbekend en hoef nie al te veel aandag hier te geniet nie.

'n Ander interessante eienskap wat hierdie drie rewolusies in gemeen gehad het, is dat hulle onnodig was.

Wat die Franse Rewolusie aanbetref kan ons verwys na De Tocqueville se analise in Ancien Regime. Die algemene lewensstandaard van die gepeupel was in elk geval besig om te verbeter. Daar was 'n gesonder bevolkinggroei, en mense het gemiddeld langer geleef. De Tocqueville argumenteer dat hierdie verbetering die oorsaak van die Rewolusie was aangesien die bevolking meer energie gehad het om uiteindelik hul griewe in aksie om te sit.

Die Oktoberrewolusie was ook onnodig gewees om min of meer dieselfde redes. Aan die gewone mens word vertel dat die korrupte, oorlogsugtige Tsaar Nikolai die Rewolusie in die hand gewerk het by die gepeupel. Wat min mense egter weet is dat Nikolai ongeveer ses maande voor die Rewolusie al geabdikeer het. Die Russiese regering was oorgeneem deur die Mensjewiek ('n kleiner party) Kerensky, en onder sy bewind het hy meer regte vir minderhede begin waarborg.

Suid-Afrika is nie anders nie: vanweë die demografiese oorverteenwoordiging van swartes in die stede sou apartheid in elk geval ten onder gegaan het. Die Verwoerdiaanse apartheid het nie realiseer nie, en Vorster het na oorname al begin om apartheid af te breek kort na Verwoerd se dood.

Wat het hierdie bloedige rewolusies dan veroorsaak? Ons kan in elk geval konkludeer dat hulle, vanweë die intense propagandaveldtog, koördinasie en omvang, van buite-af opgelê is, en inderdaad kos dit 'n astronomiese bedrag om 'n rewolusie te finansier.

Ek dink ons kan die volgende hipotetiseer: Die barbarisme wat gepaardgegaan het met hierdie rewolusies was deel van die taktiek gewees. Mense het bepaalde sedes, gewoontes en opvattings voor die rewolusie gehad, en hierdie moet verander. Ervaring in die verlede het geleer dat gewoontes en opvattings baie hardnekkig is, en die beste manier om dit te verander is om die bevolking te skok en te traumatiseer. Mense wat getraumatiseer is, is meer vatbaar vir suggestie en meer bereid om nuwe aksies te onderneem om hul situasie te wysig. Die doel van herhaalde propaganda is om die getraumatiseerde bevolking te indoktrineer met nuwe gewoontes en sedes om as't ware 'n nuwe mens te skep. Die rewolusionêr Leo Trotski het selfs so ver gegaan as om te beweer dat daar 'n permanente rewolusie moet wees, sogenaamd om te sorg dat daar geen nuwe heersersklas kan ontwikkel nie. In werklikheid is dit om die bevolking voortdurend in 'n staat van verwarring, skok en dus onderwerping te hou. Sommige analiste meen dat Frankryk nog steeds nie van hul Rewolusie herstel het nie, gesien die minagting wat die Franse nog vir geloof koester.

En as die rewolusie eenmaal voltrek is en mense begin uiteindelik wel 'n "nuwe" waardesisteem te ontwikkel, bevind hulle hulself in 'n situasie wat Churchill omskryf het as "onmoontlike gelykheid, opgeskorte ontwikkeling en kwaadwillige jaloesie".

'n Beter omskrywing word gegee deur die filosoof José Otega y Gasset waarin hy meen dat 'n massa-mens die gevolg is. 'n Massa-mens word gekenmerk deur sy anti-mentaliteit en homself verset teen alle vorme van tradisie terwyl hy tegelykertyd nie in staat is om 'n eie goed gefundeerde moraal te ontwikkel nie.

Onthou dus die volgende keer wanneer iemand trots en selfingenome die "struggle" verheerlik, tesame met die daaropvolgende valse oorwinning wat hulle bekom het: Hulle stryd was 'n leuen gewees met 'n Pyrrusoorwinning as resultaat. Hul rewolusie was eintlik 'n rew-illusie gewees.

Soos Albert Camus gesê dat het elke rewolusie slegs tot meer staatsmag gelei met minder vryheid vir die gepeupel as voorheen.

Die ANC en die nuwe Fascisme

E-pos Afdruk PDF
"And one day, too late, your principles, if you were ever sensible of them, all rush in upon you. The burden of self deception has grown too heavy, and some minor incident, in my case my little boy, hardly more than a baby, saying "Jew swine," collapses it all at once, and you see that everything, everything, has changed and changed completely under your nose. The world you live in - your nation, your people - is not the world you were in at all. The forms are all there, all untouched, all reassuring, the houses, the shops, the jobs, the mealtimes, the visits, the concerts, the cinema, the holidays. But the spirit, which you never noticed because you made the lifelong mistake of identifying it with the forms, is changed. Now you live in a world of hate and fear, and the people who hate and fear do not even know it themselves; when everyone is transformed, no one is transformed. Now you live in a system which rules without responsibility even to God. The system itself could not have intended this in the beginning, but in order to sustain itself it was compelled to go all the way." - Milton Mayer: They Thought They Were Free: The Germans 1933-1945

Na 'n paar literêre omswerwinge het ek toevallig op hierdie artikel afgekom wat nogal 'n ysingwekkende herinnering aan die ANC se 'transformasie' geword het. Praat van die ou Franse gesegde plus ça change, plus c'est la même chose, oftewel hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde. Die akkuraatheid van hierdie proses is vandag net so aktueel soos destyds. Dit mag duidelik wees dat die ANC/SAKP-kliek eintlik 'n fascistiese instelling is en hul skynheilige verset teen fascisme en apartheid 'n rookskerm is om die ware kwaad te laat gedy.

Voordat ek beskuldig word dat ek die term "fascisme" slordig en puberaal rondstrooi, mag dit 'n goeie idee wees om net gou hierdie stelsel van nader te ondersoek. Streng gesproke is dit moeilik om grondig te definieer aangesien dit meerdere manifestasies het, dog die historikus dr. Lawrence Britt het goed geslaag om die essensie van hierdie sisteem saam te vat aan die hand van veertien kenmerke.

Hierdie kenmerke is die volgende:

1. Magtige en voortslepende nasionalisme. Nasionale simbole word so veel moontlik versprei en aangehang.
2. Minagting vir menseregte. Menseregte word dikwels as hindernis beskou en moet opgeskort word ter wille van die 'transformasie' en veiligheid van die volk.
3. Identifikasie van sondebokke en vyande as bindmiddel.
4. Verheerliking van die weermag, selfs ten koste van plaaslike probleme en dispute. 'n Buite proporsioneel hoë belang word aan 'n sterk weermag geheg.
5. Alomteenwoordige seksisme. Die nadruk lê op mangedomineerde samelewings en die tradisionele geslagsrolidentiteit word rigied in stand gehou.
6. Hoofstroommedia word direk of indirek deur die staat beheer.
7. Obsessie met staatsveiligheid. Dikwels word vrees gebruik om mense in gelid te hou.
8. Staat en geloof is deurmekaar gevleg. Dikwels word geloof gekaap om mense te indoktrineer om die belang van die staat te dien, selfs al druis die staat se optredes lynreg teen die grondbeginsels van die geloof in.
9. Korporatiewe mag word beskerm.
10. Vakbonde en georganiseerde mankrag word onderdruk. Hierdie vorm 'n belangrike bedreiging vir Fascisme en moet soveel moontlik onklaar gemaak word.
11. Minagting vir intellektuele en die kunste. Vyandigheid teenoor hoër onderwys en vervolging van intellektuele vorm 'n belangrike kenmerk van fascisme.
12. Obsessie met straf en vervolging. Die polisie het byna onbeperkte bevoegdhede en mense sal mishandeling tolereer ter wille van patriotisme.
13. Grootskalige vriendskapspolitiek en korrupsie. Sulke regimes word gekenmerk deur 'n kliek ingewydes (amptenare en industrialiste) wat mag steel soos hulle wil terwyl die regering hulle beskerm.
14. Verkiesingsbedrog. Hieronder verstaan ons alles wat hiermee gepaardgaan, van moord op opposisielede tot regter Kriegler met sy "'n mens kan nie kuis bly in 'n bordeel nie".

Hierdie kriteria is baie handig om net gou 'n idee te kry wat ons kan verwag in fascistiese stelsels, maar dr. Britt het egter nagelaat om die presiese oorsprong van hierdie eienskappe te noem, en verwys slegs oppervlakkig daarna in kriteria 9 en 10. Die genoemde kenmerke is slegs simptome van 'n fascisme, oftewel die eksterne manifestasies daaraan. Daar moet iets intern gebeur om hierdie kenmerke voort te bring en dit is belangrik om hier kennis van te neem: Fascisme ontstaan wanneer die groot bedrywe in 'n land baie nou begin saamwerk of saamsmelt met die staat. Dit impliseer dat die staat gekaap word om korporatiewe belange te dien, en wetgewings, beleidsrigtings en politieke partye word ingesit om hul belange te beskerm ten koste van die gewone mens. Hierdie bogenoemde manifestasies word ingesit omdat dit help met om die groot bedrywe se belange en ambisies te bevorder. Die aartsvader van fascisme - Benito Mussolini homself - het op 'n stadium gesê dat fascisme net sowel Korporatisme genoem kan word. Staatshoofde wat hierdie samesmelting teengestaan het soos Lincoln, Kennedy en Verwoerd, het toevallig almal die hoogste prys betaal.

As ons na die wêreld anno 2012 kyk kan ons bepaalde ooreenkomste maar ook verskille sien met die fascisme van weleer. Die verskil is dat destyds was bedrywe hoofsaaklik nasionale pronkstukke van hul land gewees en het selde invloed duskant die grens gehad, vandaar die obsessie met dit wat eie aan die volk is. Deesdae opereer groot bedrywe byna altyd internasionaal en bestaan die nuwe tydsgees daarin om mense soveel moontlik oor grense heen met mekaar te verbind. Dit impliseer dat die vroeë fascisme deesdae uitgedien is, en solang die globalisasie voortsleep sal dit geen formidabele beweging meer word nie, aangesien die magtigste bedrywe juis daarteen wed. Die alewige angs van 'n regse, 'herlewing van fascisme' is daarom grotendeels sinneloos, maar wel nuttig vir sluwe heersers om hul volkere hiermee te indoktrineer.

Fascisme is geensins dood nie! Inteendeel. Dit het gemuteer in iets wat baie meer verraderlik en grimmig opereer. Die minagting vir die gewone mens is nie meer beperk tot binne landsgrense nie, maar word wêreldwyd 'n probleem. Kyk maar hoe word daar getroutrek in Kanada met Brandon Huntley se asielstatus, selfs al kan gesien word hoe Madiba en Kasrils geen bewondering vir hul wit medeburgers koester nie. Sal ons voorbarig kan konkludeer dat korporatiewe belange onder hierdie asielstatus kan ly?

Die gevare van die Mussolini/Hitler/Francofascisme ken ons teen hierdie tyd al goed, maar wat is die gevare van die nuwe globale fascisme (wat ook ironies anti-fascisme genoem word)? Dit is dieselfde gevare as wat ons onder kommunisme gesien het, en ek dink selfs dat ons die sosialistiese Internasionale net so goed die fascistiese Internasionale kan noem. Dit bestaan hoofsaaklik daaruit dat mense se inherente en unieke identiteit ontken word. Hulle word slegs ingesit om korporatiewe belange te dien. Daar word nie meer van mense verwag om hul talente en ambisies te ontplooi nie, maar slegs om in die aanvraag na werk te voorsien. Mense is deesdae steeds minder opwaarts mobiel vergeleke met vroeër en daar word nouliks permanente werkskontrakte uitgedeel, hooguit tydelike kontrakte waardeur hulle nie kan profiteer van arbeidsvoordele nie. In lande soos Nederland, Frankryk en Skandinawië is dit moeilik om jou genialiteit of talente om te sit in 'n werkbare onderneming sonder om deur allerlei reëls, belastings en ander beperkinge gedwarsboom te word, met die gevolg dat jy uiteindelik slegs 'n fraksie kan doen van dit wat jy beoog het. Selfs as ek kyk na die sielkunde opleiding wat ek hier gevolg het kan ek duidelik sien dat hulle jou nie stimuleer om die mens in al sy fasette te ontdek nie, maar uiteindelik slegs moet weet hoe om navorsing te doen wat van korporatiewe belang is. Daar is geen siel in sielkunde meer nie, en studente word nie meer gestimuleer om vir hulself te dink nie, maar slegs om voorafbepaalde reëls te volg.

Die siniese manier waarop geloof behandel word deur die grootmagte en die herhaalde nadruk dat integrasie en samewerking prioriteit geniet, veroorsaak dat mense geen gesonde basis het waarop hulle hul morele kernbeginsels op kan bou nie. Dit veroorsaak verder dat hulle moeite gaan hê om belangrike besluite te maak en nie meer kan onderskei tussen reg en verkeerd nie, met verdere verwarring en angs as gevolg. Mense word met ander woorde gereduseer tot kuddediere. Hierdie situasie word vererger deurdat mense gestimuleer word om nie meer na hul hoër vryhede te streef nie. Hoër vryhede vereis indiwidualisme, selfkennis, selfdissipliene en 'n goeie fondament van kernbeginsels, terwyl die laer vryhede soos dwelmmisbruik, apatie, seksuele losbandigheid ensovoorts bevorder word. In Nederlandse terme dink ek byvoorbeeld aan 'n sekere televisiepersoonlikheid genaamd Paul de Leeuw. Hierdie kort, korpulente walglike vent wat homself soos 'n kleuter gedra, vroumense belaster of onsedelik aangryp en allerlei stories vertel hoe hy homself soggens onder die stort bevredig, word tot Ridder in de Orde van Oranje-Nassau geslaan, terwyl intellektuele soos WF Hermans, Pim Fortuyn of Ayaan Hirshi Ali vermoor of weggetreiter word. Die enigste deug in Nederland wat onaantasbaar en heilig is, is die grys middelmaat, die onnosel kroegpraat en natuurlik sokker...brood en spele vir die gepeupel.

Terwyl die gewone mens afgelei word met hierdie aktiwiteite en liewer agter die Playstation sit as om Sokratiese dialoë te lees, verslind hierdie onsigbare monster ons begrip van ons onvervreembare vryhede en beloon ons om nie meer kritiese vrae te stel nie. Ons selfinsig verhard tot arrogansie en ons selfrespek verval tot narcisme.

Uiteindelik kos dit slegs 'n klein, laaste strooi wat die rug van die kameel laat breek en ons sit met dieselfde ellende as destyds, met die verskil dat dit meer onsigbaar, groter en omvangryker is. Ons gaan sondebokke verketter terwyl ons nie eens weet of hulle werklik skuldig is nie.

Dalk vergeet ons die geboue, die museums en die literatuur van ons voorouers. Maar iets wat ons nooit moet vergeet nie is die gees wat hulle gemotiveer het om hierdie volksbesit moontlik te maak nie. Die Fascisme van ons tyd is vyandig teenoor daardie gees, en dis van uitermate belang dat ons dit moet beskerm asof ons lewens daarvan afhang.

Soos Oom Jaap Marais destyds gesê het, behoort die land met al sy skatte nie aan ons nie, maar het ons in erfpag ontvang van ons kinders, en na hulle moet dit teruggaan.

Internasionale vuilspel in mynwese?

E-pos Afdruk PDF
Die volgende vergelyking tussen Suid-Afrika vandag en die Oktoberrewolusie van 1917 het by my opgekom.

Om hierdie rede is 'n mens geneig om te dink dat die myne begeerlike eiendom is. Natuurlik is dit ook so, maar die oplettendes onder ons sou ingesien het dat die myne se produksie die laaste paar jaar behoorlik agteruitgegaan het. In hierdie artikel word 'n aantal redes vermeld oor die agteruitgang, maar hierdie probleme is streng gesproke nie onoplosbaar nie en kan met regeringsbeleid verhelp word.

Hiermee gepaardgaande het die goudprys in min of meer dieselfde periode 'n rekordhoogte behaal. 'n Mens sou dink dat met die hoë goudprys die myne genoeg kapitaal kan genereer om hul skagte te vernuwe en die hoë elektrisiteitsrekenings betaal, maar dit is natuurlik te eenvoudig. As hierdie myne disfunksioneel is en minder goud oplewer is dit vanselfsprekend dat die goudprys die hoogte in skiet.

Vanuit hierdie gegewens wil dit voorkom asof die goudprys kunsmatig hoog gehou word deur die myne in gebreke te hou. Vanwee die wêreldwye resessie word goud 'n begeerde kommoditeit om te koop wat ook help om die pryse op te jaag, maar deur die mynproduksie te belemmer help om die goudprys se waarde verder te beïnvloed. As die myne opeens besluit om volstoom te produseer en die markte met goud te oorspoel sal die pryse val en die soveelste seepbel wees wat sedert 2008 gebars het.

Ons het min of meer dieselfde tendens gesien in Azerbaidzjan met hul olie in 1920. Die hoofstad van hierdie Kaukasiese land, Bakoe was destyds 'n speelveld van ryk oliebaronne gewees, en die stadsgebied was besaai met luukse landhuise en woonstelblokke. Dit was origens die rykste olievelde op aarde gewees indertyd. Die belangrikste uitbuiters van die olievelde was die Sweedse Nobel-broers gewees, en die Nobelkommitee en prys was juis opgerig deur die winste wat uit hierdie olie-eksploitasie gegenereer is.

In 1920 egter het Lenin 'n einde gemaak hieraan. Met sy tipiese kommunistiese retoriek het hy mense aangehits om Bakoe binne te val en "gelyke behandeling vir die arme, uitgebuite werkers" opgeëis. Suid-Afrikaanse toestande het geheers met barbaarse moord, roof en verkragtings op "volksvyandige kapitaliste", en die olievelde was aan die brand gesteek. Die Nobelbroers het halsoorlop teruggevlug Swede toe en 'n groot verlies gely, en sedertien het die olieproduksie agterweë gebly onder die Bolsjewistiese bewind. Hierdie aksie het gesorg dat die olieprys die hoogte in geskiet het, en dit was eers tydens die Tweede Wêreldoorlog toe die olieproduksie in Bakoe ietwat herstel was.

Dit was nie spontaan nie. As ons Oswald Spengler se stelling onthou, is daar geen enkele proletariese of kommunistiese beweging wat nie deur die grootmagte gemanipuleer is nie. Die Standard Oil Company het 'n belangrike rol gespeel hierin. Hulle het self 'n aandeel in die ontginning van olie in Bakoe gehad en het geweet hulle sou 'n tydelike verlies te verdure kry met hierdie aksie, maar die stygende olieprys het meer as voldoende hul verlies aangevul. Dit was die bedoeling om kompetisie te elimineer en om te sorg dat Sowjet Rusland geen bedreiging vir die westerse oliebaronne sou wees nie.

Dit bring ons terug na Suid-Afrika met sy tanende goudproduksie.

Deur nou te praat van hoër belastingtariewe op die myne is pogings om die winste nog verder onder druk te sit om hierdie myne buite spel te hou. Op 'n later stadium sal die grootmagte weer besluit om in Suid-Afrika te ontgin, maar voorlopig wil hulle aandeelhouers in goud gysel met 'n goudprys wat kunsmatig hoog is, en ander goudryke lande die kans gun om hul eie goudproduksie te stimuleer.

Dr Lets en dr Zjivago

E-pos Afdruk PDF
Dit is met skok en afgryse dat ek die artikel van dr. Lets gelees het oor die besonderhede van die brute aanranding en verkragting van hierdie studentemeisie aan Tukkies. Ons hoop en bid dat sy die krag sal vind om haar lewe weer waardig aan te pak.

Die skreiende misdaad van die situasie kon ek nie miskyk nie: 'n "Eersterangse" burger in die Nuwe Suid-Afrika vergryp homself met al die haatlike energie in hom aan 'n Christelike student wat net haar Bybelstudiegroep klaargemaak het, en ontsnap daarna. Dit het 'n span dokters ure geneem om haar lewe te red. Die ironie is dat een van daardie geneeshere, dr. Lets, deur die ANC-terroristeregering as staatsgevaarlik beskou word.

Volgens die Eed van Hippokrates, die wetlike plig van 'n geneesheer en hul geloofsbeginsels, het die span dokters reg opgetree, maar volgens die ANC-jeugliga wat voortdurend swartes aanhits om wittes te verkrag en te vermoor was die dokters se optredens eintlik irrelevant gewees. Blykbaar het Zuma sy sukses by die verkiesings ook te danke gehad aan sy status as "verkragter wat losgekom het", wat 'n soort kwytskelding was vir swartes om op dieselfde manier op te tree. Hul demokratiese vryhede is van daardie soort wat die Markies De Sade nagestreef het, naamlik seksueel en moordlustig. 'n Gesonde demokrasie gee 'n mens die vryheid om te leef volgens die beginsels van sy gemeenskap, terwyl die Zumakrasie juis die fundamentele basis van 'n gesonde voortbestaan ondermyn deur voortdurend chaos te veroorsaak en gemeenskappe met angs en trauma te vul. Op hierdie manier word mense perfekte kanonvoer vir die rewolusie.

Tydens Stalin se groot terreurveldtog het baie burgers na jarelange se sielkundige marteling, geestelik verslyt en uitgebrand, hulself vrywillig na die galgtrokke begeef om opgehang te word. 'n Soortgelyke gebeurtenis het ook in Rooi China onder Mao plaasgevind. Die dissidente joernalis Zjeng Yi het in sy verslag Stèles Rouges melding gemaak van hoe selfs kannibalisme op lede van die konserwatiewe Kwo min tang geregverdig was. Hierdie belewenis het sommige tot selfmoord gedryf omdat hulle hiermee gekonfronteer was met die absolute leegheid en onwaardigheid van hul bestaan, terwyl hul heersers vol trots die glorie van die rewolusie verkondig het.

Vandaar dat ek die parallel tussen dr. Lets en die protagonis in Boris Pasternak se roman Dokter Zjivago getrek het. Die verhaal gaan oor 'n jong dokter Joeri Zjivago wat die Bolsjewistiese Rewolusie meegemaak het en ervaar het hoe alle vorme van orde en fatsoen weggeruk was en moord en bloedvergieting die plek daarvan ingeneem het. Zjivago het die individuele mens as hoogste ideaal beskou terwyl die Sowjetstaat mense as kuddediere behandel het. Die indiwidu in hierdie stelsel beteken niks nie. Dit het Zjivago tot die slotsom gebring dat van alle misdade die rewolusie by verre die mees ernstige was.

Die sorgvuldige span van dr. Lets herinner my aan dieselfde deug: die belang van die indiwidu. Die ANC met hul kommunistiese raadgewers beskou die indiwidu minder belangrik as die groep, vandaar dat hierdie verkragting - hoe afskuwelik dit ook is - geen indruk op hulle maak nie. Dit is nou eenmaal 'n newe-effek van die rewolusie. Daardie ander Afrikanerhatende kaviaarkommunis wat volgens gerugte ook nie meer in Suid-Afrika woon nie, Nadine Gordimer, sou seker trots gewees het noudat haar eerdere verwensing keer op keer sy vervulling in "haar" Suid-Afrika vind.

Dit is vir gewone mense van deug moeilik om hierdie dade te verstaan. Dit is in die natuur van kommunisme om barbarisme te bevorder. As voorbeeld kan ons kyk na die skrywes van die Sowjetpropagandis Ilja Ehrenburg wat in sy opstel (in Engels vertaal) "Kill" geskryf het dat as jy nie 'n Duitser per dag doodgemaak het nie, het jy daardie dag gemors. Daar is niks vermaakliker as 'n hoop Duitse lyke nie. Jou kinders smeek jou om soveel moontlik Duitsers te vermoor. Die enigste ding wat tel is hoeveel Duitsers doodgemaak is. Moenie huiwer nie. Maak dood.

Die Rooi Leer, aangevuur deur Ehrenburg se oproep, het goed hul bes gedoen en uiteindelik miljoene Duitse burgerlikes aan die oosfront vermoor, verkrag en uitgehonger, terwyl hierdie gruweldade jarelang onder die tapyt ingevee was.

Is dit nou nie soortgelyk wat die ANC doen nie? Na elke verkiesing kom daar steeds meer kommuniste in die regering, selfs al het niemand vir hulle gestem nie, en hulle beheer watter inligting oor die wêreld versprei mag word en wat nie. Dit is gelukkig danksy internet dat die situasie in Suid-Afrika moeilik verborge kan bly van die buiteland.

Dr. Lets se span, tesame met al Suid-Afrika se dokters het sekerlik een van die moeilikste en ondankbaarste werke in die land, maar hulle vorm 'n klein dog belangrike bastion teen die volskaalse ondergang in 'n wêreld van suiwer anargie en hel. Vanweë die kruipende Nuwe Wêreldorde wat uit dieselfde wanaangepaste kommunistiese misbaksels bestaan, begin ons te besef hoe waardevol dr. Lets se optrede is. Die voortbestaan van die weste as geheel hang indirek van die Afrikaner se optredes af. Ons beskik die krag om die gruwel te ontmasker en die koers van die weste te beïnvloed.

Kom ons doen dit.

En volgende is Iran

E-pos Afdruk PDF
Terwyl die onwetende wêreld fees vier oor die dood van Libië se flambojante diktator en hoop op 'n nuwe begin, is daar soos gewoonlik mense wat kritiese vrae gaan stel oor hierdie verwikkeling.

Dit behoef geen grondige verklaring dat die bekende ou spelers op die toneel hierdie opverwerping in die hand gewerk het nie: Die Verenigde State, die geldmagte, oliebaronne en diverse ander aktiwiste wat deurentyd om menseregte skree soos wat dit die superrykes raak.

Ons verkeer onder die indruk dat Libië se goeie kwaliteit olie die rede hiervoor is, 'n opsie wat ons sekerlik nie kan ontken nie. Tegelykertyd word ander belangrike faktore oor die hoof gesien wat ook genoem kan word. As ons terugkyk na die Mahreb (Noord-Afrika gebied) van die laaste paar maande sal ons sien dat daardie hele gebied in konflik verkeer het, van Marokko tot Jemen, almal op een slag. Die konflik in Libië en die moord op Gaddafi was slegs die klimaks van hierdie hele gebeurtenis. Dit impliseer dat daar groter belange op die spel is as slegs olie en 'n nare diktator...wat tog maar net later met 'n ander een vervang gaan word.

Dit is nie toevallig nie dat hierdie konflikte uitgebreek het kort nadat Libië afgekondig het dat hulle Islamitiese banke sou open nie. Op 30 Junie 2009 het Muhammad Shukri, direkteur van Libië se sentrale bank aangekondig dat Islamitiese banke 'n feit is en langsamerhand die bestaande (Westerse) banke gaan vervang. Die rede vir sy besluit was omdat daar wêreldwyd gesien kan word dat Islam besig is om konserwatiewer te word, en hulle wil uiteraard aan hul klante se bankbehoeftes voorsien. Demografie speel ook 'n rol, aangesien die aantal Moslems in daardie gebied vinnig toeneem. Die konserwatiewe stroming is waarskynlik 'n reaksie op hierdie demografiese tendens, en natuurlik as gevolg van 'n verhoogde gevoel van trots in hul eie vermoeëns noudat die bose Weste besig is om sy glans te verloor. Hierdie oproep is egter nie net vanuit Libië nie, maar vanuit meerdere lande in die Noordelike Afrikastreek, waaronder Tunesië, Egipte, Marokko en Algerië. Jemen en Jordanië kan ook genoem word. Van hierdie lande is Tunisië die mees gewilde afsetmark en word tans beskou as die mees bekwame mededinger in Afrika. Daar is groot belegginspotensiaal in die Mahreb en Turkye, en Moslementrepeneurs is besig om hierdie geleentheid met albei arms aan te gryp.

Die Westerse moonthede is nie tevrede met hierdie verwikkelinge nie. Islamitiese banke werk op ander etiese beginsels as in die Weste, waarvan die belangrikste hul verbod op woeker en rente is. Verder mag geld wat geleen is van hierdie banke nie belê word in pornografie, alkohol, dwelms of ander verbode middele of industrieë nie. Om die waarheid te sê het sulke banke se populariteit toegeneem sedert die beursval in 2008, aangesien hulle grotendeels ongeskonde uit die krisis getree het. Veral as ons rekening hou daarmee dat Tunisië, Jemen, Jordanië, Egipte en Algerië se banke aan die Westerse Rothschildbanke behoort, met die Internasionale Monetêre Fonds as baas, is hulle effens senuweeagtig oor die toename van banke wat nie aan hul eise voldoen nie. Volgens 'n peiling in 2009 van Standard & Poor het die Islamitiese banke wêreldwyd 'n geskatte waarde van 400 miljard dollar gehad, en al die aanwysings toon dat hierdie bedrag gaan toeneem die toekoms. Nog skokkender is Forbes se ontdekking dat sewe uit tien van die wêreld se magtigste Islamitiese banke hulself in Iran bevind.

Vir baie jare het die Westerse banke hulself in 'n monopolieposisie gehou deur aan state geld te leen teen rente. Na elke oorlog het hierdie banke vir generasies inkomste uit die rente gehaal en uiteindelik 'n posisie ingeneem om die land se politieke beleid te beïnvloed. Hierdie fase van kapitalisme, wat Carroll Quigley monopoliekapitalisme noem, het ongeveer sedert die laat twintiger jare van verlede eeu ontstaan, en die aanwysings van die opkoms van dié kapitalisme kan teruggevind word by die presidentskap van Woodrow Wilson. Ongeveer sedert daardie tyd het die Amerikaners steeds meer besluite geneem wat op die oog af soos politieke belange lyk, maar in werklikheid ekonomiese belange was. Vandag sien ons dit in alle heftigheid en wonder ons hoekom al die geleerde ekonome aan die Ivy League-universiteite in die Verenigde State voortdurend nuwe planne na vore bring wat uiteindelik tog maar beperk is in hul toepassing en eerder 'n ramp as 'n seën is vir die ekonomie.

Vanweë die enorme skuldlas van die VSA en ander lande is dit nogal verstaanbaar dat hulle beslag wil lê op soveel moontlik opkomende markte en kapitaal wat nie in hul hande is nie, waarvan Iran ´n belangrike voorbeeld is. ´n Ander land wat hulle graag wil inneem is Wit-Rusland, aangesien "Die laaste diktator van Europa" goed gesorg het dat die politiek die ekonomie moet bepaal en nie andersom nie. Die Wit-Russiese ekonomie doen verbasend goed en Loekasjenko is baie gewild onder sy mense.

Aangesien Iran se banke nogal goed gevul is, dink ek ons kan veilig wed dat hierdie land volgende moet sink. In hierdie geval sal dit waarskynlik nie Obama wees wat die inval sal reël nie, want dit sal te opvallend imperialisties wees en die Amerikaanse publiek sal nou nooit vir 'n nuwe oorlog stem nie. Vandaar moet dit vanuit die "verdrukte geledere" self kom - wat natuurlik opereer met geld van die superrykes, net soos in Libië.

En dan kan die onwetende wêreld weer fees vier oor die gevalle diktator.

JPAGE_CURRENT_OF_TOTAL