praag.co.za

Aktueel, aktief, Afrikaans

Wednesday, 23. May 2012

Bygewerk op:05:37:06 AM GMT

Jy is hier: Johann Wingard Daar is lewe anderkant Eskom

Daar is lewe anderkant Eskom

E-pos Afdruk PDF

Op 18 Junie vanjaar skryf ek ondermeer dat die potensiaal wat in 'n digitale ekonomie opgesluit lê tans rondom ons ontvou. Verouderde infrastrukture word reeds as 'digitale hindernise' beskou.

Wêreldwyd word hierdie hindernisse deur politieke - en tegnologiese druk bevraagteken. Die Dept van Mineraal en Energiesake se nuwe beleidsraamwerk, van wat vandeesweek afgekondig is, bevestig dat Suid-Afrika uiteindelik in pas begin kom met ander lande vir sover dit kragopwekking aanbetref.

Die opheffing van Eskom se monopolie onthef hom van die verpligting om man alleen die verantwoordelikheid te dra vir die land se kragsekuriteit of inderdaad om die miljarde rande te voorsien om daardie verpligting na te kom.

Nuwe verskaffers mag nou tot die mark toetree om krag aan die nasionale kragnetwerk te lewer en die staat mag selfs aan Eskom 'beveel' om bepaalde kragstasies te bou sou die behoefte daarvoor ontstaan. Waar die geld vandaan sal kom sal nie Eskom se probleem wees nie.

Die fyner besonderhede moet nog uitgestippel word, maar dit is reeds duidelik dat 'n nuwe en opwindende mark vir gedesentraliseerde stelsels ontstaan het. In die nabye toekoms kan 'n sakekompleks, winkelsentrum, hospitaal, universiteit, aftreeoord of fabriek sy krag self opwek met moderne tegnologie. Vandag is klein gasturbines beskikbaar wat meer betroubare en goedkoper krag as die munisipale netwerke, gerugsteun deur Eskom, kan lewer.

Hoëspoed gasturbines wat wrywingloos op lug - en magneetlaers loop het 'n ontwerpleeftyd van tien jaar en langer. Hoe betroubaar is jou yskas? Myne loop reeds vir langer as 25 jaar sonder enige diens aan die bewegende dele. Die konsep van hierdie klein turbines met slegs een roterende onderdeel, is om presies dieselfde graad van betroubaarheid te handhaaf.

Hopelik sal dit eersdaags moontlik wees om jouself as diensverskaffer te laat registreer. Deur 'n finansieringspakket van R200 miljoen met 'n finansiële instelling te beding vir die aankoop van 500 stelle met 'n gesamentlike vermoë van 50 Megawatt kan mens dan vinnig 'n speler in die mark wees. Dan huur mens die toestelle by die instelling, presies soos die sogenaamde bruikhuurooreenkomste met motors. Waar Sasolgas beskikbaar is, bestaan geen brandstofprobleme nie. Anders word 'n ondergrondse tenk geïnstalleer en periodiek soos by vulstasies gevul.

Wêreldwyd word daar reeds na 'n elektrisiteitsrevolusie verwys. As gevolg van verwaarlosing van die ekostelsel gaan die wêreld se kragopwekkingsnywerheid tans deur die geboortepyne van 'n diepgaande revolusie en die vraag onstaan of die huidige energiebeplanners en leiers daarvoor opgewasse gaan wees. Vandeesweek het Suid-Afrika die eerste tree op daardie pad gegee.

Vroeër was die elektrisiteitsektor (in Thomas Edison se woorde) "…'n natuurlike monopolie." Algaande het dit 'n politieke speelveld geword. Vandag het dit nie meer 'n bestaansreg nie, want die stelsels is afgeleef, is onbetroubaar en het onbetaalbaar duur geword.

Tradisioneel was dit gereken dat 'n land se energiesekerheid verband hou met sy vermoë om genoegsame reserwekapasiteit gereed te hê sodat sy ekonomiese groei nooit belemmer sal word nie. Met moderne tegnologie kan addisionele kapasiteit binne weke na spesifieke groeipunte geneem word in klein inkrementele stappies, liewer as die reusagtige koolstofspuwende monsters wat die moderne verwysingsraam geword het.

Hoewel nie in kousale verband nie, bestaan daar 'n korrelasie tussen elektrisiteitsverbruik en ekonomiese groei. Teen 'n beplande ekonomiese groeikoers van 4% per jaar verdubbel die BBP oor sewentien jaar. Verdere korrelasies bestaan tussen tussen bevolkingsaanwas, verstedeliking, verhoging in lewenstandaard en kragverbruik. Tensy die land se opwekkingsvermoë dus in verhouding uitgebrei word, skei die grafieklyne in al vier gevalle.

Hiervolgens moet Suid-Afrika se huidige vermoë teen 2026 met minstens 50% gegroei het om tred te hou met die demografiese en ekonomiese werklikhede sodat 'n ekonomies/politieke spanningsituasie voorkom word. Die huidige vermoë van ongeveer 40 Gigawatt moet dus in stappe van I Gigawatt per jaar tot 60 Gigawatt oor twintig jaar uitgebrei word.

 

As gevolg van die verlies aan tyd oor die afgelope vyftien jaar is Eskom ooglopend nie daarvoor voorbereid nie. Die tyd het dus nou finaal aangebreek om Eskom se monopolie te beëindig en die gapings in die grafieke te vul. Die volgende wenke sal verder meehelp om die aankomende krisis die hoof te bied:

 

· Eerstens en seker die vernaamste is om die beleid van swart ekonomiese bemagtiging en transformasie ondergeskik te stel aan 'n beleid van energiesekerheid. Ek is bewus van kontrakteurs en konsultante wat beweer dat meer tyd aan die aard en struktuur van swart bemagtigingsvennootskappe bestee word as aan die tegniese of finansiële aspekte van hul tenders en is hulle derhalwe onwillig om hul dienste aan Eskom beskikbaar te stel. Die belange van swart instansies wat deur kontrakte bevoordeel gaan word kry dus meer aandag as die meriete van tenderaars se aanbiedings. Hierdie aspek is 'n ontsettende mors van tyd en geld wat die fokus vervaag en besluitneming vertraag. 'n Balans moet gevind word tussen die bereiking van energieteikens en transformasieteikens, met die oorwig swaar op eersgenoemde. So nie, gaan dit die land baie duur te staan kom. Soos verteenwoordiging en transformasie grondwetlik nie vir die land se inligtingsdienste geld nie, behoort dit ook nie vir die energiesektor te geld nie. Energiesekerheid is gans te ingewikkeld, veral mbt die loopbaansekerheid en stabiliteit van tegniese vaklui wat aan tien jaar of langer projekte werk en waar ervaring en kundigheid deurslaggewend is. Vir die energiesektor, en dus vir die land as geheel, is politieke inmenging op 'n spesialisgebied fataal, aangesien die ekonomiese en politieke stabiliteit van die land, deur onervare energiebeamptes se gebrek aan insig, ervaring of optrede in gevaar gestel kan word.

 

· Soos die geval was met die telekommunikasiebedryf, kan alternatiewe diensverskaffers op die been gebring word om krag aan munisipaliteite en/of nywerhede en sakeondernemings te verskaf. Eskom moet voortaan verplig word om sekere van sy substasies te verkoop of te verhuur sodat nuwe diensverskaffers op gedesentraliseerde basis kragopwekking stelsels daarop kan oprig en Eskom van die verpligting onthef om krag aan die gebied wat deur daardie substasies bedien was, te voorsien.

 

· Nog 'n nasionale energieprojek is 'n aardgas kragstasie wat aan die Kaapse weskus opgerig kan word om aardgas vanuit die Koedoeveld in die Atlantiese Oseaan te gebruik. Oorweging kan geskenk word om die gas langs die weskus na Kaapstad per pypleiding te neem om die energie-arm Weskaap daarmee te bedien en vandaar na Mosselbaai om Mossgas se kwynende gasreserwes aan te vul. Gas in die Kaap sal die behoefte aan elektriese krag vir verhitting wesenlik verminder en duisende nuwe werksgeleenthede skep.

 

· Instandhouding van bestaande kragstasies kan aan klein spesialismaatskappye wat nie aan SEB-maatreëls onderworpe is nie en wat die nodige kennis en ervaring besit, geprivatiseer word.

 

· 'n Spesiale aansporingsmaatreël kan aangekondig word wat nywerhede, supermarkte, sakegeboue, tegnoparke en veiligheidsoorde in staat sal stel om hul eie opwekkingskapasiteit aan te koop en te bedryf. Assuransiemaatskappye kan ook verlagings in premies vir verlies van bederfbare produkte aan sulke maatskappye oorweeg.

 




blog comments powered by Disqus



Verwante artikels: