Volgens Siegel bestaan daar sedert 1934 wel so 'n volkstaat in Rusland, genaamd die Joodse Outonome Oblast -- wat in Russies bekend staan as die Yevreiskaya Avtonomnaya Oblast.
Lenin het 'n nasionale beleid geformuleer wat Josef Stalin geïmplementeer het. Daarvolgens sou elk van die nasionale volksgroepe van die Sowjetunie 'n grondgebied kry waar kulturele selfbeskikking binne 'n sosialistiese raamwerk geniet kon word. Die amptelike godsdiensbeleid was ateïsme en Judaïsme was dus in konflik daarmee. Hul idee was om 'n Sowjet-Sion te vestig waar 'n Joodse proletariaatkultuur kon ontwikkel en waar Jiddisj liewer as Hebreus die amptelike taal sou wees. Hier sou 'n nuwe Joodse letterkunde en kunste hul godsdiens as primêre kultuuruitdrukking kon vervang.
Die Bolsjewiste het gereken dat outonomie vir etniese groepe op plaaslike vlak die Bolsjewiste sou toelaat om hul mag oor moedertjie Rusland in sy geheel te konsolideer. Die ongeveer 90 outonome gebiede of Oblasts moes genoegsame politieke outonomie oor eie sake verkry wat hulle vir dekades gelukkig sou hou. As gelykes het die Oblasts in 'n federale verhouding teenoor mekaar gestaan. Outonomie oor eie sake sou bewys lewer van Sowjet-Rusland se verdraagsaamheid teenoor gekoloniseerde minderheidsvolke wat onder kommunistiese dwingelandy verkeer het.
Lenin se etnofederalisme was 'n strategiese ideologiese skuif wat moes verseker dat die etniese minderheidsvolke sou help om die burgeroorlog vir die Bolsjewiste te wen. Op die langer termyn sou dit ook 'n model wees hoe om kommunisme regoor die aarbol te vestig deur die vrese van minderhede daardeur te besweer. Om die Russiese nasie te bou, wou Lenin die proletariaat dus vernasionaliseer. Om wêreldwye kommunisme daarna te vestig, moes die proletariat vervolgens verinternasionaliseer word (Workers of the world unite!). 'n Internasionale proletariaat sou kultuurverskille kon transendeer en hiervoor sou hy baie groot toegewings op plaaslike en kulturele gebiede maak om minderheidsvolke tevrede te hou. Die proletariaat moes deel word van die kommunistiese oplossing en moes dus nie nuwe etniese probleme skep nie.
Deur die verantwoordelikheid van ekonomiese streeksontwikkeling vierkantig op die skouers van die politieke elite van die Oblasts te plaas, sou hy ook verseker wees van samewerking tussen streeksowerhede.
Terloops, ek het al gewonder tot welke mate Lenin se etnofederalisme dr. Verwoerd se eertydse Bantoestanbeleid beïnvloed het. Mens kan nie help om die Verwoerdiaanse denkpatroon duidelik hierin te sien nie en bespiegelings dat sy voortydige dood dr. Verwoerd verhinder het om die federale konsep vir Suid-Afrika as volgende stap deur te voer, was dalk nie so vergesog nie. In plaas daarvan is die plaaslike politiek in die rigting van aparte hysbakke, ens. gestuur.
Om die Joodse Oblast te vestig, word die Komitee vir Landelike Vestiging van Joodse Werkers (Komzet) in 1924 gestig. Hulle moes met 'n plan vorendag kom om Jode te hervestig. 'n Aparte komitee sou die fondsinsameling behartig deur die internasionale Joodse gemeenskap te bearbei.
Die Komzet het vas geglo dat die Sowjet-Joodse vraagstuk slegs op tipiese Leninistiese wyse bygelê kon word, d.w.s. die Jode moes op een grondgebied versamel word waar hulle hul politieke en ekonomiese lewens volgens eie aard in 'n volwaardige outonome gebied binne die Sowjetfederasie sou kon organiseer.
Komzet het Joodse hervestigingsprojekte in die Oekraïne asook in die Krim begin, maar die Sowjetelite het sonder enige inspraak van Komzet, 'n relatiewe onbevolkte gebied aan die suidelike grens van die Russiese verre-ooste uitgesoek wat as Joodse volkstaat sou dien.
Vir Komzet was dit heeltemal onverwags en dit was duidelik dat die Bolsjewiste se oorwegings heeltemal van hul eie verskil het. Vir die Sowjetowerhede was die ekonomiese en militêre oorwegings van 'n leë gebied belangriker as die spesifieke belange van die Joodse gemeenskap. Hulle was gretig om 'n menseskild teen moontlike aanvalle deur Sjina of Japan te vestig. Hoewel die klimaat nie geskik was vir landbou nie, was die gebied tog ryk aan natuurlike minerale en ander hulpbronne wat ontgin kon word.
Maar 'n uittog uit Birobitsjdjan het begin en teen 1932 het die helfte van die oorspronklike 654 Jode nie meer kans gesien vir die harde klimaat van die gebied nie. 'n Amptelike propagandaveldtog het tog daarin geslaag om Jode na Birobitsjdjan te lok.
Mens kon dit verstaan, want die armlastige Joodse gemeenskap het uitgesien na die welvaart en politieke outonomie in die Sowjetamptenare se beloofde land. Maar die Sowjetpropaganda het nooit gebruik gemaak van dít wat vir Jode belangrik was nie, naamlik die Sionistiese retoriek en slagspreuke, Judaïsme en die Tora.
Inteendeel, die Sowjetamptenare se oogmerk was presies die teenoorgestelde. Dit was daarop gemik om die historiese waardes van die Joodse tradisies en godsdiens te negeer. Selfs Hebreus was verbied en skole kon onderrig in slegs Russies en Jiddisj (Joodse Duits) gee. Selfs sinagoges was kategories verbied. Dit was gevolglik baie moeilik vir Jode om hul eie volkstaat te bou sonder enige fundamentele wortels wat as gom moes dien om die mense as etniese eenheid te verenig. Die Sowjetpropagandaveldtog was ook daarop gerig om Jode af te raai om Palestina as toekomstige volkstaat te oorweeg.
Die Joodse volkstaat het gevolglik klaaglik misluk. Aan die een kant het die Sowjetheersers geglo dat dit moontlik was om 'n etniese tuisland kunsmatig van die grond af te begin deur die gebied beskikbaar te stel en die vestigingskoste daarvoor te absorbeer. Aan die ander kant het hulle probeer om hul doelwit te bereik sonder inagneming van die volkswil en historiese gehegtheid wat volksgenote het vir hul grondgebied, faktore wat sentraal staan in enige poging tot volksbou.
Die projek was dus doodgebore.
In 1998, sestig jaar ná sy stigting, het die Joodse Outonome Oblast, oftewel Joodse volkstaat in Rusland, 'n Joodse bevolking van 589 gehad teenoor die nie-Joodse bevolking van 214 085. Die naam is nog die Joodse Outonome Oblast en Jiddisj word nog in enkele skole gebruik. Daar bestaan nog Joodse straatname, en selfs 'n Joodse televisieprogram. Hoewel eienaardig vir ander mense, is die inwoners trots op hul uniekheid as nie-Joodse inwoners van 'n Joodse volkstaat.
Kan Afrikaners enige lesse uit hierdie geskiedenis leer? Beslis.
- Om 'n nuwe staat te begin en om daarna 'n volk daarin te vestig is 'n langsame proses wat dekades neem.
- Wanneer daar mededingende gebiede bestaan soos die geval was met Palestina en Birobitsjdjan, sal die een waar die historiese oorwegings die sterkste is bo die ander seëvier.
- Vryheid bestaan nie net as 'n gevoel om vry te wees nie, maar ook uit die vrye uitoefeing van opsies en keuses op kulturele en ekonomiese gebiede. In 'n nuwe gebied is opsies baie beperk.
- ''n Volkstaat wat verkeerd begin, of vir die verkeerde redes begin word, gaan verkeerd eindig. Die Russiese owerhede wou 'n mensebuffer gehad het, terwyl die Russiese Jode 'n ekonomies lewensvatbare kultuurheimat gesoek het.
Is die gebied rondom Pretoria nie ook maar die Boere se Palestina nie? Daar is die heldeakker, die Voortrekkermonument, die Ou Raadzaal, Kerkplein, die Staatsteater, al die kerke, honderde skole, Loftus, en natuurlik die honderde duisende Afrikaners wat daar woon en werk...
| < Vorige | Volgende > |
|---|
Was Lenin en Verwoerd op dieselfde golflengte?




